Freek Robinson: Op die man af

Op die man af deur Freek Robinson word deur Tafelberg Uitgewers uitgegee.

Freek Robinson is vir my so eg Afrikaans as wat Riaan Cruywagen en Rian van Heerden is. Ek was dus uitermate opgewonde toe die koerier Freek se boek getiteld Op die man af by my huis afgelewer het. Groot was my verbasing toe ek lees dat Freek in 2020 op 68-jarige ouderdom moes aftree weens die regering se inperkings om die Covid-19-pandemie te bestry. Ek het hierdie bekende, gerespekteerde en geliefde TV-joernalis en nuusanker met die vlymskerp brein jare jonger geskat. Hy is altyd onberispelik geklee en kom voor as ’n heer.

In Op die man af verweef Freek sy lewe en vyf-en-veertig jaar lange loopbaan en gee hy die leser ’n blik op interessante nuusontwentelinge en -gebeure in ons land se geskiedenis. Die boek beslaan 264 bladsye oftewel 10 hoofstukke met die volgende titels: ’n Afrikaanse Robinson, Hardegat en gebrei vir die lewe, Die eerste treë saam met SA TV, Insig in die hart van die vryheidstryd, PW Botha klap die sweep, Teen my sin na Londen, Die hele wêreldorde verander, Uiteindelik terug na Suid-Afrika, ’n Opwindende verkiesing verg kophou, en By ’n kruispad.

Freek skryf in die inleiding van sy memoires: “Die skryfproses was nogal ’n ontdekkingstog. Dit dwing jou om ’n tree terug te staan en dan stadig deur jou verlede te blaai. Jy beleef opnuut sekere haltes van onthou, maar nou sien jy dit met ander (ouer) oë. Jy sien dit binne verband, het meer begrip vir jou eie doen en late en dié van ander …” As uitvoerende regisseur en aanbieder van verskeie aktualiteitsprogramme, het Freek veral te doen gekry met groot rolspelers in die ontvouende politieke situasie in die land. “Mettertyd het dit vir my duidelik begin word dat ek wel ’n rol en plek het om Suid-Afrika se storie te help vertel. Ek het dit gedoen deur bloot net vrae te vra en te luister; mense aan die praat te kry; begrip te help bevorder; die feite eerstehands te gaan kry in afgeleë gebiede of in ’n gesprek in die ateljee; uit te wys waar korrupsie gedy; mense in toom te hou sodat hulle nugter oor sake kan gesels; nie kant te kies nie; objektief te probeer wees; almal met respek en deernis te hanteer; en regverdig te wees” (8).

Freek noem dat hy in sy loopbaan probeer het om sover moontlik die middeweg te kies. Hy reken ook dat Suid-Afrikaners trots kan wees op die media “wat met ’n bietjie meer eer uit die stryd tree as die drie ander dele van ’n dinamiese demokrasie – die uitvoerende gesag, die parlement en die regbank. As dit nie vir die media was nie, sou baie van die ongerymdhede rondom staatskaping nie onthul gewees het nie” (10). Hy is ook bly dat die burgerlike samelewing al meer na vore tree as doener van dinge en noem die gemeenskappe van Senekal en Coligny as voorbeelde. Hy het Op die man af geskryf omdat mense graag wil weet wat agter die skerms gebeur. “Ek het baie in my lang, amptelike loopbaan beleef, dinge wat sonder twyfel my lewe verryk het en hopelik ook dié van ons kykers en luisteraars – selfs net in ’n geringe mate. Ek probeer iets daarvan hier weergee” (10).

Johann Kriegler se aanhaling oor hoe hy Op die man af gevind het, word op die agterblad aangedui: “ … met skerp eerstehandse persoonlike waarnemings en kostelike staaltjies van onderhoude met Jan Alleman van bo in die Knersvlakte tot in smeulende townships.” Daniëlla van Heerden som die boek só op: “’n Sonderlinge en eerlike blik agter die skerms met staaltjies wat verstom, verras én vermaak.”

Ek het Op die man af beleef as boeiend, intiem, leersaam en met tye selfs onthutsend. Dit was lekker om ’n kykie agter die skerms te kry en gebeure (en vele bekende en nie so bekende figure) in ’n ander lig te sien.

Kry jou kopie van Op die man af hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.