Gebruik dié boek en vat skool se finansies só vas

dr-jaco-deacon-fedsas

Dr. Jaco Deacon van Fedsas. Foto: Facebook.

Jan en San Publiek is nie altyd heeltemal bewus van net hoe groot die omvang van ʼn skool se finansiële sake is nie.

“Daar is soveel wetgewing, regulasies en vereistes as dit kom by die bestuur van skole en skoolgelde, dat dit nie sommer in enige ou sit om net in te stap en die werk te doen nie,” sê dr. Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas)

Fedsas het in Mei die boek Finansiële bestuur in openbare skole by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria bekendgestel. Die organisasie wil met dié boek ʼn praktiese handleiding aan skole en mense wat in die sektor werk, bied om hulle te help om aan wetgewing rakende skoolgelde in die skolebestuuromgewing te voldoen.

Deacon glo ook dit kan help om korrupsie en die wanbestuur van skoolgelde te bekamp.

Corruption Watch het juis vroeër vanjaar in die organisasie se jaarverslag vir 2017 korrupsie by openbare skole as brandpunt uitgewys. Sowat 15% van die 5 334 korrupsieklagtes wat die organisasies verlede jaar hanteer het, het verband gehou met wanbestuur van gelde, gelddiefstal en indiensnemingsbedrog by skole.

“Indien ʼn finansiële beampte of skoolhoof deur hierdie boeke gewerk het, behoort hulle genoeg merkers op die pad te hê sodat daar alarms kan begin afgaan as daar moontlik fout by die skool is,” sê Deacon.

Die boek begin by die regsraamwerk waarbinne ʼn skool funksioneer en verduidelik ook wie al die rolspelers is en wat elkeen se verantwoordelikheid is.

“Dit neem die leser stap-vir-stap van die vasstelling van skoolgeld tot by die invordering van die geld. Dit verduidelik ook hoe statutêre vrystelling en die begrotingsproses werk asook hoe om al hierdie skoolgelde te bestuur.”

Die boek beantwoord eenvoudige vrae soos wat ʼn skool te doen staan indien ouers nie skoolgeld kan betaal nie en hoe om navrae oor skoolgeld te hanteer, asook hoe ʼn kennisgewing vir ʼn vergadering moet lyk.

Verder word die begroting van ʼn skool ook deurgetrap en verduidelik dit byvoorbeeld hoeveel ʼn skool vir instandhouding moet begroot en hoe ʼn skool se salarisrekening behoort te lyk.

ekonomie-finansies-geld-sakrekenaar-knyp-spaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deacon glo beheerliggaamlede, veral die voorsitters van finansiële komitees, moet ook hierdie finansiëlebestuurboek onder oë kry.

“Prokureurs, wat betrokke is by die invordering van skoolgeld, sal ʼn oorsig van die regsproses in die boek kry, en wat in so ’n geval moet plaasvind. Rekenmeesterfirmas, wat advies aan skole bedien en ouditeure wat skole se boeke moet oudit, kan ook baat vind by die inligting in die boek, asook staatsamptenare wat skole besoek.”

Volgens Deacon is dit ʼn praktiese boek wat geskryf is deur mense wat daagliks skole met raad oor finansiële aspekte bedien.

“Hierdie is beslis nie ʼn akademiese boek nie, hierdie is ʼn boek vir die persoon wat op voetsoolvlak met die finansies van ʼn skool werk.”

Deacon, wat self ook die voorsitter van ʼn beheerliggaam van ʼn Vrystaatse laerskool is, sê die gemiddelde persoon besef nie dat die salarisrekening van ʼn skool partykeer tot 60% van die skool se uitgawes beloop nie.

“Die staat se bydrae tot die bedryfsbegroting van talle openbare skole (personeel se salarisse en die huur van skoolgeboue uitgesluit) is maar 2,7% van die skool se inkomste.

“So die staat is eintlik maar ʼn baie klein aandeelhouer op die bedryfskomponent van die skool. As dit nie is vir geldinsamelingsprojekte en skoolgeld nie, kan ʼn skool eenvoudig nie voortbestaan nie.”

Deacon maan egter: “Skoolgeld moet verantwoordelik en verantwoordbaar hanteer word en dit is ʼn reuseverantwoordelikheid.”

  • Lesers wat meer oor die boek wil uitvind of dit wil aanskaf, kan Fedsas se webblad besoek. Die boek word deur Juta uitgegee en is ook in Engels beskikbaar.
  • Luister ook na die onderhoud boaan hierdie berig waar Esté Meyer Jansen van Maroela Media met dr. Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van Fedsas, gesels om uit te vind hoe groot die omvang van die finansies is wat deur openbare skole bestuur word. Deacon verduidelik ook hoekom hy dink dié boek kan help om korrupsie en wanadministrasie van skoolgeld te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Dis n riem onder die hart dat die boek in Afrikaans gepubliseer is. (Ook in Engels beskikbaar)

Ben ·

Die ANC skree so hard oor skole, miskien is dit tyd om die daad by die woord te sit en die skole behoorlik te befonds. “Put your money where your mouth is” or “Shutup”

Elsa ·

Miskien kan die boek vir enige onderneming gebruik word… En alle departemente

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.