Wilhelm Jordaan
Kom ons stig ʼn maatskappy
(ek en jy) een
sonder winsmotief
besit ons niks.
Hê mekaar
net lief.
Hierdie gedig van Wilhelm Jordaan is maar net een van die vele mooi gedigte in Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Dit is ’n versamelbundel van die gewildste en bekendste liefdesgedigte in Afrikaans wat vroeg verlede jaar uitgegee is en elke dag relevant is.
“Wie kan my sê van die liefde? Waaraan sal ek hom herken?” sing Coenie de Villiers in “Die Liefde”.
Hierdie bundel bevat nie slegs gedigte uit die kanon nie, maar ook verse wat sedert 2010 verskyn het. Die digters in Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte sluit in: Boerneef, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Lina Spies, Wilma Stockenström, T.T. Cloete, Daniel Hugo en Philip de Vos. ’n Toeganklike bundel, perfek vir om die liefde te besing.
Uitgewer: Human & Rousseau
Oor die samesteller
Fanie Olivier is in 1949 in Pretoria gebore. Hy verwerf ’n MA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch (1972), die graad LittDrs in Literatuurteorie aan die Universiteit van Utrecht en die graad DLitt aan die Universiteit van Potchefstroom. Hy is professor in Afrikaans aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole.