Geestelike leesstof vir kinders

Vrugte van die Gees: vrede, vreugde en getrouheid

Struik Christian Media, ’n druknaam van Struik Christian Media publiseer Vrugte van die Gees: vrede, vreugde en getrouheid geskryf deur Jenna Nell Northwood en vertaal deur Antoinette le Roux. Die kleurvolle hardebandboek, deel van ’n reeks van drie boeke wat elk oor drie vrugte van die Gees handel, sal deur kinders vanaf so 4-8 jaar oud geniet word. Die boek moedig ook ouer-kind-gesprekke aan.

Vrugte van die Gees: vrede, vreugde en getrouheid beslaan 60 bladsye. Dit bevat ’n lekkerleesstorie, Bybelstorie, Bybelles, Bybelvers en gebed. Daar is ook ’n heerlike praktiese uitdaging vir elke vrug. In die storie wat oor vrede handel, besoek Pollie Piesang en ander opwindende karaktertjies ’n dieretuin. In die tweede storie leer Dawie die druif-hulle meer oor vreugde wanneer hulle op die strand baljaar. Wiggie die waatlemoen en haar maats hou ’n piekniek en woon ’n balletkonsert by terwyl hulle meer oor getrouheid leer. Bybelse waarhede word op ’n prettige wyse oorgedra.

Uittreksel: “Dawie, hoekom reageer jy altyd dieselfde, maak nie saak wat om jou gebeur nie?” vra Pikkie. “Dit gaan alles oor jou gesindheid en om innerlike vreugde te hê, maak nie saak wat om jou aangaan nie,” verduidelik Dawie.

Meer oor die outeur: Jenna Nell Northwood het ’n B.Sc-graad in Biochemie en ’n nagraadse Sertifikaat in Opvoeding. Dis haar passie om ander in die geloof te bemoedig.

Kry die boek hier.

Bybel – vrae en antwoorde vir kinders

Christian Art Kids, ’n handelsmerk van CUM Uitgewers, publiseer Bybel – vrae en antwoorde vir kinders geskryf deur Dave Strehler en vertaal deur Madeleen Botha. Die boek word voorgeskryf vir kinders 8-12 jaar oud.

Hierdie sagtebandboek van 196 bladsye is propvol Bybelse antwoorde op moeilike vrae wat kinders vra oor God en geloof. Daar is 82 kopkrapper-vrae oor God, geloof en die Bybel waaroor kinders wonder. Elke vraag word oor twee kleurvolle bladsye beantwoord en boonop is daar ’n interessante vraag aan die einde om kinders te motiveer om na te dink oor wat hulle geleer het. Ek hou ook baie van die afdeling waar die 66 boeke van die Bybel kortliks opgesom word en kinders ’n maklike sleutelvers kan memoriseer uit elke boek. Die twee woordsoektogte waar kinders die Bybelboeke in die Ou- en Nuwe Testamente moet soek, is sommer groot pret.

Van die vrae waarop Strehler Bybelgebaseerde antwoorde gee, is: “Weet God wat ek dink?”, “Het God die duiwel geskep?”, “Het Jesus gehuil toe hy ’n baba was?”, “Hoekom lyk die wêreld so as Jesus dit kom red het?”, “Hoekom baklei mense so baie in die Bybel?”, “Sal God ophou om my te vergewe as ek dikwels dieselfde sonde doen?” “Hoe weet jy wanneer God met jou praat?” en “Ek is bang dat slegte goed gaan gebeur. Kan God my beskerm?”

Uittreksel: God kan jou ook gebruik: As jy dink jy is te jonk, onthou hierdie vers: “Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ’n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit” (1 Timoteus 4:12).

Meer oor die outeur: Dave Strehler is al vir meer as twee en ’n half dekades passievol betrokke by kinderbediening. Hy het al verskeie boeke geskryf wat die Bybel aan kinders en jongmense op ’n lesersvriendelike wyse voorhou.

Kry jou kopie hier.

Gom vir jou stukkende wêreld

LUCA, ’n onderafdeling van LAPA Uitgewers, publiseer Gom vir jou stukkende wêreld geskryf deur Jan Vermeulen. Die boek word voorgeskryf vir tieners 13 jaar en ouer. Dit kan individueel of in groepsverband gebruik word.

Hierdie insiggewende Bybelse gids vir tieners beslaan 96 bladsye en hou vyf waarhede voor om aan vas te klou in ’n stukkende en verwarrende wêreld. Tieners word aangemoedig om ’n Bybel byderhand te hou sodat hulle teksverse kan opsoek en invul. Daar is ook plek vir notas – tieners moet hulle eie mening lug en verdere navorsing doen. Die vyf waarhede is: 1) Ek kan die Bybel vertrou, 2) God is liefde, 3) Ek verdwaal soms, 4) God kom soek en red my volkome, en 5) Nou wil ek graag dankie sê. Die boekuitleg is interessant en subtiel visueel aantreklik sodat tieners nie voel hulle is besig met ’n kinderboek nie. Die doel van die skrywe is om tieners te help om die kernboodskap van die Bybel beter te verstaan, antwoorde op hulle geestelike vrae te vind en beter lewenskeuses te maak.

Uittreksel: Die Here is nie ’n inbreker nie. Hy dwing Hom ook nie op ons af nie. Daarom kan niemand jou dwing om die Here in jou lewe in te laat nie. Maar as jy die deur vir Hom oopmaak, hoef jy nie bang te wees dat Hy jou sal verwyt of veroordeel oor jou lewe en jou keuses in die lewe nie.

Meer oor die outeur: Ds. Jan Vermeulen beskik oor jare se ervaring in die geestelike- en jeugbediening. Hy is ’n gewilde Afrikaanse skrywer wat onder meer al die volgende pryse vir sy skryfwerk ingepalm het: Die Sanlamprys, Die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-kinderboektoekenning.

Kry jou kopie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.