Gekoopte leuens

deur Lien Roux-de Jager

Dit is die tweede roman waarin Kalli Krynauw die manne se wêreld aandurf en haar klein skoentjies volstaan in ʼn wêreld vol skurke en manlike chauvinisme.

Net soos in die vorige boek, Donker leuens, bewys sy haarself aan die “boys” en word ʼn integrale deel in die ongedaan maak van ʼn enorme misdaadsindikaat, maar nie voor sy sélf tyd in die selle spandeer nie.

Is Kalli besig om vir Afrikaans te word wat Clare Hart vir Engels is? (Hart is Margie Orford se navorser wat óók telkens die manswêreld aandurf.)

Kalli word net as forensiese psigofisiologie ingespan nie, dit is ook haar fyn kennis van die polisieprosedures wat van haar gedugte teenstander en gewaardeerde kollega maak.

In Gekoopte leuens bevind sy haar op ʼn luukse-oord in die beboste klowe van die Drakensberge naby Pelgrimsrus waarheen sy haar sussie, Madelein, vergesel. Madelein is ʼn bekende model en die “gesig” van papillon, die skoonheidsreeks wat in die laboratorium op die oord vervaardig word.

Ná ʼn spoggerige onthaal word Kalli die volgende oggend wakker, steeds bedwelm. Dit is duidelik dat haar drank gedokter was, daar is bloed aan haar aandrok en sy vind uit dat Madelein verdwyn het. die polisie beweer dat Kalli iets te doen het met Madelein se verdwyning. Sy word summier in hegtenis geneem, maar word uiteindelik onder toesig van SIS, Special Intelligence Services, vrygelaat en toegelaat om na die oord terug te keer.

De Waal Brink, ʼn wetenskaplike wat navorsing doen om ʼn alternatiewe brandstof te vind, daag met voorverdagte rade ook by die oord op. In Donker leuns het hy en Kalli mekaar leer ken, maar hy moes terug Amerika toe. Saam ontdek hulle twee lyke in ʼn afgeleë stroompie op die terrein, en dan besef hulle ook dat die laboratoriums nie so onskuldig is soos hulle lyk nie. Nou is die gort gaar en húlle lewe is in gevaar.

Oor die outeur:
Lien Roux de-Jager het ná ʼn lang loopbaan, as redakteur van interne publikasies, voltyds begin skryf. Sy woon tans in Mmabatho waar haar man doseer aan die Noordwes- Universiteit. Benewens haar voltydse skryfwerk, doen sy beeldhouwerk in hout.

Sy huiwer nie om rond te speel in genre-fiksie nie: ʼn kleuterverhaal; sewe jeugverhale, nege romanses; en deesdae spanningsverhale. Sy het ʼn passie vir die geskiedenis en het ʼn historiese roman teen die agtergrond van die Boereoorlog geskryf, asook kortverhale in die bundels; Boereoorlogstories 2, en Grensoorlogstories. Sy skryf ook kortverhale vir Vrouekeur.

In Die Afrikaanse Skryfgids was haar bydrae ʼn hoofstuk oor die skryf van historiese romans. Twee van haar gedigte is opgeneem in die digbundels. Skeur en Honderd jaar later.

Uitgewer: Lapa uitgewers
Prys: R195-00*
*prys onderhewig aan verandering
 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.