Geliefde Karen Kingsbury-reeks kom kleinkassie toe

Karen Kingsbury. (Foto: Instagram/@karenkingsbury)

Aanhangers van die Amerikaanse Christelike skrywer Karen Kingsbury gaan binnekort wil spring om die Amazon Prime‑stroomdiens af te laai.

ʼn Nuwe reeks gebaseer op Kingsbury se geliefde topverkoper romanreeks oor die Baxter-familie sal vanaf 28 Maart op Amazon Prime te sien wees.

Die reeks, eenvoudig getiteld The Baxters, is gebaseer op die Redemption-boekreeks en volg die egpaar Elizabeth en John Baxter en die intriges en uitdagings van hul vyf volwasse kinders.

Variety berig dat die eerste seisoen uit 10 episodes sal bestaan en spesifiek draai om die stryd wat die familie se oudste dogter, Kari, in die gesig staar nadat dit aan die lig kom dat haar man ’n buite-egtelike verhouding gehad het.

Die eerste reeks van die Baxter-gesin.

Roma Downey van Touched by an Angel-faam, sal die matriarg Elizabeth vertolk, terwyl Ted McGinley, bekend vir sy rol as Jefferson D’Arcy in Married with Children, in John Baxter se skoene sal klim.

Downey is ook ʼn vervaardiger van die reeks.

Ander rolverdelings sluit in Masey McLain, Josh Plasse, Cassidy Gifford, Reilly Anspaugh, Emily Peterson en Brandon Hirsch.

“Toe ek sowat twintig jaar gelede vir die eerste keer die Baxter-boekreeks begin skryf het, onthou ek dat my pa vir my gesê het: ‘Karen, hierdie is ’n reeks van hoop. Almal moet hierdie boeke lees én dit moet ’n TV-reeks word’.

“Ek het net vir hom gelag en hom omhels, want hy was my grootste ondersteuner. Min het ek geweet hoe profeties sy woorde sou wees. Net God kon hierdie oomblik georkestreer het vir die ongelooflike Roma Downey om in die hoofrol my Elizabeth Baxter te speel,” het Kingsbury in ʼn Instagram-plasing oor die reeks geskryf.

“My pa is in 2007 te gou oorlede, maar ek glo daar is ’n venster in die Hemel en dat hy van daar bo af sit en saamkyk.”

Sy het sedert 2002 meer as 25 boeke oor die Baxter-karakters neergepen, waaronder die Redemption‑, Firstborn‑ en Sunrise-reeks. Afsonderlike boeke oor die Flanigan-gesin het later ook uit dié reeks gevloei.

Kyk na die lokprent vir The Baxters hier:

Bronne: Variety, Deadline.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Dis iets om na uit te sien – haar boeke is puik met die mooiste verhale! Absoluut mal daaroor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.