Geliefde skrywer se stem leef voort in laaste boek

Ilze Nieuwoudt, Alana Bailey, JC Steyn se suster, Ria Müller, en haar dogter, Marthie Kemp, en Kallie Kriel. Müller en Kemp was eregaste by die bekendstelling van Steyn se laaste boek, ‘So is onse mense’. (Foto: Chanté Kelder/AfriForum)

Deur Ilze Niewoudt

Die bekendstelling van een van die Vrystaat se “grootste” Afrikaanse skrywers, JC Steyn, se laaste boek, So is onse mense, het 26 Augustus in Bloemfontein plaasgevind en dit was ʼn viering van dié skrywer se lewe en werk.

Volgens Charles Smith, nuushoof van die Vrystaatse dagblad, Volksblad, kan Steyn en die mede-Vrystater wyle Karel Schoeman gereken word as twee van die “grootste Afrikaanse skrywers”.

So is onse mense se bekendstelling volg nagenoeg ʼn jaar ná Steyn se onverwagse afsterwe in September 2021. Dit is die derde boek uit Steyn se pen wat deur AfriForum Uitgewers (en die uitgewer se voorganger Kraal Uitgewers) uitgegee is.

Dr. Johan van Zÿl (senior vakkundige van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke), Smith, Marthie Kemp (Steyn se susterskind) en Wyno Simes (kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, NALN) het tydens die bekendstelling Steyn se lewe, werk en sy laaste boek bespreek.

Volgens Van Zÿl lewer So is onse mense ʼn uitsonderlike bydrae tot die verbreding van die historiografie van die Anglo-Boereoorlog, een van die belangrikste momente in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Drie hoofstukke in So is onse mense fokus op die oorlog, vredesluiting en die oprigting van die Nasionale Vrouemonument. Die lewe van JD Kestell, ʼn man wat liefderik in die volksmond as Vader Kestell bekendgestaan het, word ook in dié boek ondersoek.

Smith het ʼn blik gebied op Steyn se lewe en werk as joernalis van die Volksblad en in later jare gereelde kommentator oor veral taalaangeleenthede in dié blad. Steyn was vanaf Januarie 1959 verbonde aan dié dagblad se redaksie as vertaler, verslaggewer, subredakteur en hoofsub. Smith het die hoop uitgespreek dat Steyn se werk, soos dié van Schoeman, ná sy dood verder vereer sal word. “Sy versameling, sy kennis en sy woorde is ongelooflik en het by Volksblad begin,” het Smith gesê.

Steyn se susterskind, Kemp, het ʼn meer persoonlike sy van “Oom Japie”, soos sy hom geken het, blootgelê en bygevoeg tot die outobiografiese hoofstukke in So is onse mense waarin Steyn onder meer oor sy familie en sy lewe as kind van die Brandwaterkom geskryf het.

Kallie Kriel, hoof- uitvoerende beampte van AfriForum en voorsitter van die AfriForum Uitgewers-direksie, kyk na ʼn uitstalling oor JC Steyn wat deur die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) vir die bekendstelling opgestel is. (Foto: Chanté Kelder/AfriForum)

“As u dink dat Oom Japie nie ʼn sportman was nie, is u verkeerd,” het Kemp vertel.

Steyn het blykbaar op skool vir die eerste rugbyspan van Hoërskool JA Malherbe op Petrus Steyn uitgedraf, en het dikwels ná ʼn wedstryd die tien myl van die skool na die gesin se plaas te voet afgelê. Hy het ook op universiteit as atleet aan die mylwedloop deelgeneem.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het ook die geleentheid bygewoon. Hy het benadruk dat AfriForum Uitgewers bevoorreg is om Steyn se laaste boek die lig te laat sien en kan help toesien dat Steyn se werk vir die nageslag behoue bly.

So is onse mense kos R290 (prys onderworpe aan verandering). Koop die boek by AfriForum Uitgewers.

  • Luister op Maroela Media na die onderhoud met Alana Bailey en Ilze Nieuwoudt oor prof. Jaap Steyn se laaste boek, So is onse mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.