Geur van vergifnis

Alta Cloete

Dit is ’n onwaarskynlike romanse: ’n hardkoppige man in ’n rolstoel en ’n ewe hardkoppige vrou wat hou by haar blokkieshemde en denims. Die pad is lank voor hulle tuiskom en ja kan sê vir die toekoms.

Mariaan is ‘n mooi vrou wat nie liefde ken of vertrou nie. Sy het haar Groen Vingers-tuindienste, haar dieselbakkie, en darem die katte.

Die enigste siel wat sy moet versorg, is Marius, ‘n parapleeg ná sy ongeluk. Nie dat Marius dit waardeer nie. Nee, dié vername skrywer neem dit vanselfsprekend aan en is boonop gruwelik onbeskof. Tot sy op ‘n dag haar voet neersit.

Dis genoeg om Marius te laat nadink, en haar met ander oë te begin agternakyk. Want hy is ‘n man, al kan hy nie meer sy bene geberuik nie.

Iewers in die Karoo, in ‘n gewyde kerkie, word Mariaan en Marius baie stil. En daardie nag is die sterre baie helder. Toe hulle terugkeer Kaapstad toe, het iets in albei se harte gebeur.

Maar ‘n man in ‘n rolstoel kan nie op sy knieë gaan om die vraag te vra nie. Veral nie ‘n man met ‘n verlede nie.

Dit neem tyd om te leer vergifnis en liefde is soos ‘n suurlemoenblaartjie: dit moet kneus voor jy met daardie wonderlike geur beloon word.

Oor die skrywer:
Alta Cloete het op ‘n skaapplaas naby die koudste dorp met die helderste sterre (Sutherland) grootgeword, maar oor die afgelope dertig jaar diep wortels in die ryk Bolandse grond gevorm. Sy het meer as ‘n kwarteeu gelede begin tydskrifverhale skryf terwyl sy bevoorreg was om ‘n tuisblyma te wees. En daar het die droom begin.
Later het die geleentheid gekom om haar liefde vir kleuters uit te leef in ‘n graad R-pos by ‘n seunskool. Sy kon ook haar opleiding as bibliotekaresse en liefde vir lees en boeke gebruik as bibliotekaresse by dieselfde skool.
Uiteindelik het sy die sprong gewaag om die onderwys te verlaat en voltyds te begin skryf. Iets wat totaal onmoontlik sou gewees het sonder haar kosbare manlief se ondersteuning. Omtrent vyftig tydskrifverhale en tien romanses het haar voorberei vir haar eintlike droom – liefdesromans.

Uitgewer: Lapa
Prys: R165-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.