Gevierde digter se liefdespoësie

Rooiborsduif deur Breyten Breytenbach word uitgegee deur Human & Rousseau

Elke keer wanneer ek een van Breyten Breytenbach se gedigte lees, besef ek opnuut dat prag en praal nie kan kers vashou by die skoonheid wat daar te vinde is in eenvoud nie. Ek het nie ’n woordeboek nodig om sy gedigte te probeer ontsyfer nie; ek kan myself net verloor in die mooi daarvan.

In dieselfde asem moet ek die leser egter daaraan herinner dat eenvoud soms bedrieglik kan wees. Moenie vir een oomblik dink hierdie gevierde digter se werk is mooiskryf nie – die gedigte kom klou met onsigbare suiers aan jou onderbewussyn en duik onverhoeds in jou gedagtes op sodat jy die keurig (en soms aspris) gerangskikte woorde soos spoelklippies in jou mond moet rondrol en keer op keer proe.

Hierdie hardeband digbundel van 192 bladsye is ’n chronologiese oorsig oor Breytenbach se digkuns sedert die sestigerjare en die hede. Dit omsluit sy lewensverloop: “jongmenslewe in Kaapstad, Parys, effektiewelike ballingskap weens sy huwelik, terugkeer en tronkstraf, die buiteland. En oplaas ’n onrustige pendelaarslewe tussen noorde en suide van die aardbol, waarin volledige tuiskoms slegs in die arms van die liefde is”. Breytenbach, ’n boorling van Bonnievale in die Wes-Kaap, het die wêreldstad Parys, Frankryk, al vir etlike dekades lank sy tuiste gemaak, maar sy wortels is diep en wyd geanker in Suid-Afrika en die apartheidsjarepolitiek.

Charl-Pierre Naudé, sélf ook ’n digter van formaat met onder meer die die Ingrid Jonker-prys, die M-Net-prys vir Afrikaanse poësie en die Proteaprys vir poësie op sy kerfstok, het die versameling gedigte in Rooiborsduif met ’n kennersoog en ’n fyn aanvoeling vir nuanse, atmosfeer en tema bymekaar gebring tot ’n verbysterende ode tot die liefde.

Hy skryf oor Breytenbach die volgende: “Sy poësie oor die liefde is ’n intieme voëlvlug oor die mens se gevoeligste ervaringsveld wat gestalte vind in ’n veelduidige en simfoniese geruis van skaduwees, vlerke en spieëlbeelde bínne die woorde”, en “Die liefdesverse, sy hele persoonlike gevoelswêreld, word uiteindelik ’n openbare liefdesverklaring aan die mensdom wat geteken staan as ’n vrou”.

In “die waterlelie” op bl. 96 bemin Breytenbach sy geliefde só: liefling, / ekskuus dat ek vat / maar dis die vruggies / se hier bolangs wip / wat my maag laat roer – / kyk, die pitjies hang al bruin-en-blink buite – / wanneer word my hande dan ryp? Sy “inbrand”  op bl. 140 is vir my ook mooi: so sal ek jou altyd onthou / met ’n geitjie teen die muur / en swartkop geel voëltjies wat om jou rinkink / soos ’n vuur van herinnering.

Een van my gunstelinggedigte is ‘die brandende amandelboom” waar die laaste strofe só gaan: ek sal jou weer kom haal as dit mooi is / as die witgedoste heuwels fluit-fluit hulle blomme / in die vonkelsee kom baai / en die dag so langsaam breek soos windstil bome / – sodat die amandelboom weer wit tongetjies bloei.

Naudé reken “Rooiborsduif huldig ’n groot passaatvoël van die woord, ’n herout van die singende hoop”, en “Voëls is ’n wederkerende beeld in ’n toonryke korpus wat al die kontinente en seisoene oorspan en waarin die reismotief soos die as van die aarde draai”. Vir my is die beklemtoning hiervan te vind in “val” op bladsy 78: ’n voël sprei haar vlerke / word deur die lug op die hande gedra / ek is so lug jy vlieg deur my / sonder jou is ek sonder patroon / want jy is die eiesinnigheid van my liggaam / so ver reeds verby / dat ek skaamteloos om ontbinding bid. Vir my lê daar die stille openbaring en die ontsaglike krag van die liefde in “testament van ’n rebel” op bl. 60: gee my ’n hart / wat aanhou klop / klop sterker sal klop as die wit klop / van ’n bang duif in die nag / harder sal klop as bitter koeëls.

Meer oor die skrywer:

Breyten Breytanbach, ’n uitsonderlike mens en talentvolle skrywer, skilder en denker het onlangs sy tagtigste verjaardag herdenk. Hy het onder meer al twee keer die Hertzogprys vir poesië ingepalm. Sy werk is veral gewild in Suid-Afrika, Amerika, Nederland en Frankryk.

Koop Rooiborsduif by Graffiti Boeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stephan de S ·

Pragtig dankie. Woorde, reg ingespan, is darem maar uitstekende musiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.