Ghoera

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp se belangstelling in en kennis van die verhaalkuns van die inheemse volke van Suid-Afrika word in hierdie versameling omdigtings met die subtitel Afrika-verse vir kinders weerspieël. Die bundel is in vyf afdelings verdeel en bevat vernuftige oorvertellings-op-rym van bekende en minder bekende verhale van die San, die Khoi en die swart volke. Daar is verse oor die ontstaan van die son, die maan en die sterre, verhale oor diere soos die skilpad-towenaar en die eerste eland en volstruis, ’n mite oor waar die eerste mens vandaan kom, die sprokie van die waterslang, en ’n aantal “hoe” – en “hoekom”-stories: Hoe Tarentaal sy spikkels gekry het, hoe Hasie sy haaslip gekry het en hoekom Reier se nek so skeef is.

Die vernuftige wyse waarop Aucamp hierdie verhaaltjies in digvorm weergee, sal deur kinders en grootmense geniet word. Half vergete verhale word op hierdie wyse ook weer vir Afrikaanse lesers in herinnering geroep. ’n Aantal dieresketse van Zakkie Eloff wat dien as illustrasies vir die gedigte, maak van hierdie versameling iets waardevols en besonders.

Oor die outeur
Hennie Aucamp het in 1963 as kortverhaalskrywer gedebuteer. Benewens talle kortprosabundels het hy ook vyf digbundels gepubliseer en byna elke noemenswaardige literêre prys ontvang. Hy woon in Kaapstad.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R135,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.