‘Gidion, Mighty Warrior of God’ – ma se weergawe van kind se stryd

Gidion en sy ma, Tuschka. (Foto: NB Photography)

Gidion du Toit, die negejarige kind by wie daar by geboorte Fanconi-anemie gediagnoseer is, se verhaal het mense reg oor die land aangegryp.

Duisende mense het saam met sy gesin gehoop en gebid dat Gidion sy stryd sou oorwin, maar hy is toe op 27 November verlede jaar in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad dood.

In Gidion, Mighty Warrior of God bring Gidion se ma, Tuschka Reynders, hulde aan haar seun. Reynders deel Gidion se verhaal van hoop en geloof met lesers te deel., maar skryf ook oor die struikelblokke wat hulle daagliks moes oorkom.

“Dit is nie geskryf met die doel om lesers te behaag deur slegs die hoogtepunte en wonderwerke uit te lig nie, of om die teenspoed te versuiker nie,” sê Reynders.

“Inteendeel, deur my hart oop te maak en die wrede ontberinge wat ons gehad het, asook die invloed wat dit op ons lewens gehad het, te deel, glo ek dat meer mense hiermee sal vereenselwig en berus by die feit dat hulle nie alleen is nie.”

Reynders huiwer nie met dié openhartige vertelling nie. Sy gee te kenne dat die lewe onregverdig is, maar beklemtoon dat geloof hulle in moeilike tye geanker het.

“In werklikheid leef ons in ‘n gebroke wêreld wat nie sin maak nie. Waar slegte dinge met goeie mense gebeur. Maar tog volhard ons, want geloof is al wat ons het.”

Oor die boek

Hoe verwoord jy die verhaal van ʼn seun wat soveel terugslae beleef het?

Hoe sou mense ooit die dapperheid van ʼn seun kon verstaan ​​wat uitdagings trotseer het en wat volwassenes sou laat huil?

Hoe sterk is die geloof van ʼn ma?

Gidion, Mighty Warrior of God word bemark as ʼn verhaal met ʼn kragtige boodskap wat lesers op ʼn onvergeetlike reis neem. Gidion is ʼn held in elke moontlike sin van die woord. Hy het soveel lewens verander en sal met dié boek voortleef in mense se gedagtes.

Oor die skrywer

Reynders is ʼn spesialis dieetkundige met ʼn private praktyk in Pretoria-Oos. Sy spesialiseer in genetiese afwykings by kinders met spesiale behoeftes, sowel as die ketogene dieet vir onbehandelbare epilepsie. Reynders het haar doktorsgraad in molekulêre biologie aan die Randse Afrikaanse Universiteit verwerf.

Gidion, Mighty Warrior of God word op 24 Oktober om 10:00 by Rosewood Terrace in Moreleta Park, Pretoria, bekendgestel. Die boek kos R279 en is slegs per bestelling beskikbaar. Om die boek te koop of die boekbekendstelling by te woon stuur ʼn e-pos na Tuschka Reynders by [email protected] of klik hier om die boek aanlyn te bestel.

  • Lees alle vorige artikels oor Gidion du Toit op Maroela Media.
  • Lees hier ʼn uittreksel uit Gidion, Mighty Warrior of God.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.