Gids spoor gesinstyd saam met God aan

Louise Viljoen (Foto: Verskaf)

Vir Louise Viljoen het die standvastigheid van ʼn geloofslewe wat sy as kind ervaar het gedeeltelik gelei tot haar geestelike niefiksieboek, getiteld Gesinstyd met God, wat pas verskyn het.

Sy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat haar pa hulle erg mishandel het en dat haar ma hom kort haar negende verjaarsdag uit noodweer doodgeskiet het.

“Daardie selfde dag het my oupa (my ma se pa) sy arm om my skouers gesit en vir my gesê: ‘Van nou af is ek julle pa’.

“Danksy my gelowige oupa wat huisgodsdiens deel van ons gesinslewe gemaak het en die standvastigheid wat ons in sy huis ervaar het, kon ons God se Vaderhart vir ons leer ken en ervaar.”

Die liefdevolle voorbeeld wat Viljoen se oupa as kind van God gestel het, het ʼn onuitwisbare indruk op haar gemaak. “Hy het my geleer om God eerste te stel in my lewe, om Hom te dien en te verheerlik en om in dankbaarheid te leef.”

Dit is teen hierdie agtergrond dat Viljoen besluit het om ʼn gids te skryf wat die belangrikheid van gesinstyd saam met God benadruk en terselfdertyd ʼn wegspringplek vir eietydse gesinne se huisgodsdiens bied.

“Daar is soveel gebroke gesinne in ons land en in die wêreld. Stel jou die heling en restourasie voor wat kan plaasvind wanneer gesinne God saam begin dien. Die versekering dat ons kinders van God is en dat ons aan Hom behoort, bring ʼn vrede en vreugde wat alle verstand te bowe gaan.”

Viljoen skryf jaarliks honderde boekresensies vir verskeie platforms, wat Maroela Media insluit. Sy is boonop besig met ʼn nagraadse studie in teologie en doen tuisversorging vir haar ma wat aan demensie ly.

Sy het onlangs doelbewus begin om tyd aan haar eie skryfwerk te bestee en so het haar boek met wenke en voorstelle oor hoe om gesinstyd met God spesiaal te maak begin vorm aanneem.

“Ek het November 2021 my vryskutwerk opsy gesit om voltyds aan Gesinstyd met God te skryf. Daar was nie baie tyd om die boek te voltooi nie, en ek moes soggens halfdrie opstaan om die spertyd te haal.

“Ek het onder geweldige druk geskryf, want bedags moes ek steeds na my ma wat aan demensie ly, omsien, en ook die gewone huishoudelike takies verrig. My man het my geweldig baie ondersteun,” vertel sy.

Met hierdie boek wil Viljoen gesinne toerus om God binne gesinsverband te dien. Sy gesels oor die uitdagings wat gesinne ondervind, soos die gebrek aan Bybelkennis en tyd asook die druk onder portuurgroepe.

Viljoen het ook ʼn paar kenners genader om ʼn bydrae tot die gids te maak. Sy wou by hulle weet watter prettige, moderne maniere daar is om gesinstyd met God opwindend te maak, hoe om nuwe energie in lofsang en aanbidding te blaas en saam uit te reik na ander op maniere wat lekker én lewensveranderend is.

“Ek het gelowige kenners en gesinne wat gereeld gesinstyd met God het, genader om wenke en raad te gee oor hoe om die ervaring selfs nog meer spesiaal te maak,” verduidelik sy.

Dr. Ronél van der Watt, ʼn kindersielkundige, het hoofstuk agt, getiteld “Geloofstyd met kinders”, geskryf wat op geloofsvorming fokus. Daarby het dr. Gerdi van den Berg, ʼn kognitiewe gedragsterapeut en berader, en Jacolene du Plooy, ʼn spelterapeut, ook hulle ervaringe gedeel en praktiese voorstelle gemaak. Die skrywer Carina Stander vertel hoe sy en haar gesin graag vir God in die natuur opsoek, en Corlien Combrink, ʼn tuisskoolma en onderwyser, deel haar en haar gesin se ervaring.

Viljoen sê ten slotte dat tyd saam met God ewigheidswaarde het en dat daar seën en guns rus op gesinne wat hulle afsonder om God te dien en aan Hom gehoorsaam te wees.

“Ons dink anders oor onsself wanneer ons besef dat ons Koningskinders is. Dit is my gebed dat gesinne God se Vaderhart sal ervaar en daarom het ek Gesinstyd met God geskryf.”

  • Lees Louise Viljoen se boekresensies op Maroela Media deur hier te klik.
  • Klik hier om Louise Viljoen se Gesinstyd met God aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AmY

Dis mense soos jý na wie ek op kyk. Nie ‘n akteur of sanger nie. Doodgewone mense soos ons almal.

Jacob

Dit is ‘n pragtige boek. Gesinne kan baie hierby baat.

Christine

Broodnodig in vandag se tyd. Baie dankie hiervoor!