Gratis e-boek wil jonges inspireer

Die aanlyn inspirasieplatform @niePlastiek het pas die boek “Rou real rebel vir Jesus” gratis aanlyn bekendgestel. In hierdie boek word verskeie temas waarmee jongmense sukkel in ’n storieformaat hanteer. Temas sluit in egskeiding, teleurstelling, rebellie, trauma, depressie en die soeke na liefde.

“In ’n seisoen waar talle jongmense hoop verloor het om sportsukses of ander prestasies te bereik, wil die jeugplatform @niePlastiek jongmense aanmoedig om hul drome vreesloos na te jaag,” laat hoor hulle in ʼn verklaring.

Volgens @niePlastiek se stigter en skrywer, Líomee Vosloo, spreek die boek tot die hart van tieners en studente. Die hoofkarakters se gedagtes gee ook ouers en onderwysers ʼn blik op die emosies waarmee jongmense worstel.

Die boek is saam met die aanlyn inspirasieplatform (@niePlastiek op Instagram) ’n stuk gereedskap in die hand van jongmense.

Bekendes soos Melinda Bam, Simoné Nortmann en Karlien van Jaarsveld deel gereeld openhartig hul ervarings op die platform en die temas in “Rou real rebel vir Jesus” weerspieël ook hul lewenstories.

Die bekendes staan saam teen die neiging van ’n perfekte lewe wat op sosiale media uitgebeeld word, met die hoop om jongmense met die waarheid te inspireer. Meer as ooit moet jongmense op relevante maniere met die regte inligting bereik word.

Vosloo sê jongmense gaan gebuk onder moeilike kwessies waaroor hulle nie reguit antwoorde in die samelewing ontvang nie.

“Sulke kwessies het veral in die isolasietyd toegeneem, waar jongmense ook met konflik en huisgeweld gekonfronteer word. Hierbenewens plaas sosiale media ongesonde druk op hulle om ’n sekere beeld voor te hou en om in te pas,” sê sy.

“Daar is ’n behoefte onder jongmense om antwoorde en ’n stem te kry sodat hulle nie alleen met hul kwessies hoef te worstel nie.”

“Rou real rebel vir Jesus” is gratis aanlyn beskikbaar by https://nieplastiek.co.za/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae