Griet skryf ‘n sprokie

Marita van der Vyver

“Sy moes sprokies spin om aan die lewe te bly. Nie net om haar brood te verdien nie, maar ook om die dood te flous. Soos haar heldin en rolmodel, die slim Sjeherazade.” Griet skryf ’n sprokie is die verhaal van Griet Swart, wat deur die traumas van miskrame, kindersterfte en egskeiding gedryf word tot die punt waar sy een aand haar kop in ’n gasoond druk. ’n Dooie kakkerlak in de oond red haar, want vir die res van die aand maak sy oond skoon. As terapie raak haar shrink haar aan om oor haar ervarings te skryf. En só kry die storie van Griet gestalte, ’n storie van seerkry en woede, maar verlig deur haar onvernietigbare sin vir humor. Terwyl sy die lang pad van genesing loop, bly sy halsstarrig glo in ’n wonder – dat sy, soos Grietjie, aan die behekste donkerbos sal ontkom, en dat sy haar prins sal vind.

Hierdie roman, Marita van der Vyver se eerstes vir volwassenes, het in 1992 verskyn en was ’n blitsverkoper. Marita was ’n sensasie – sy was op die radio, die TV, en in byna elke publikasie, van Die Kerkbode tot Scope. Die roman is bekroon met die Eugène Marais-, die ATKV- en die M-Net-prys. Dit is sedertdien wêreldwyd vertaal, o.m. in Engels, Nederlands, Duits, Frans, Italiaans, Spaans, Sweeds, Tsjeggies, Hebreeus en Chinees.

Oor die omslag verduidelik Marita: If you go down to the woods tonight… Dis die enigmatiese titel van ‘n skildery deur Jacqui Colley. ‘n Wulpse vrou, kaal behalwe vir ‘n paar swart sykouse, sit en skommel (agterstevoorom) op ‘n hobbelperd in die gedaante van ‘n sebra, iewers in ‘n geheimsinnige donker bos. Klink dit bekend?

Teen einde 1991 was ek besig met die finale afrondingswerk aan die manuskrip van Griet skryf ‘n sprokie en angstig op soek na ‘n gepaste omslag vir die boek-in-wording. Dit was my redakteur, Frederik de Jager, wat dié kunswerk op ‘n tentoonstelling in die Desré Resnick-Galery in Kaapstad ontdek het. Die oomblik toe ek die prent sien, het ek geweet dis presies reg vir die boek – selfs voordat ek van die sprokiesagtige titel geweet het.

Oor die outeur
Marita van der Vyver is op 6 Mei 1958 in Kaapstad gebore. In haar matriekjaar (aan die Hoërskool Nelspruit) 1975, wat ook die Afrikaanse Eeufeesjaar is, wen sy ’n landwye digkunswedstryd en slaan so ’n studiebeurs van vier jaar los. In 1978 behaal sy ’n BA-graad met tale en drama en in 1979 ’n honneurs in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. ’n Paar jaar later ontvang sy ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy werk as joernalis by Die Burger en Sarie totdat sy in 1987 die vryskutlewe aanpak. Sy debuteer in 1982 met die kinderboek Van jou jas, maar dis haar eerste boek vir volwassenes die opspraakwekkende Griet skryf ’n sprokie in 1992 wat ’n blitsverkoper is en vele herdrukke beleef. Die roman is met die M-Net-prys, ATKV-prys en die Eugène Marais-prys bekroon.

Vir haar kinder- en jeugboeke word sy onder meer met die Tienie Holloway-medalje, die MER-prys en die Sanlam-prys vir jeuglektuur bekroon. Haar roman Wegkomkans is hoofsaaklik geskryf tydens haar sabbatsjaar (1996/97) in die suide van Frankryk. Sedert 1999 woon Marita saam met haar Franse man, Alain, en vier kinders op die Franse platteland.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R195,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.