Groot Verseboek Deel 1

André P. Brink

In die vyftigerjare, toe Groot Verseboek vir die eerste keer deur Tafelberg uitgegee is, en selfs nog in die vroeë tagtigerjare (toe die voorlaaste uitgawe verskyn het), was die Afrikaanse digkuns veel kleiner as vandag. Daarom was dit nodig om, met die uitverkoop van die laaste druk, die bloemlesing te hersien en aan te vul. Dié uitgawe, Groot Verseboek 2000, het vyf drukke beleef en topverkoperlyste gehaal.

André P. Brink, wat met D.J. Opperman meegewerk het aan die laaste uitgawe, het hom as samesteller daarop ingestel om die tradisie van fyn en onbevange lees voort te sit. Saam met die nadruk op gehalte was daar ook ‘n besef van stemme wat deur die jare uit die kanon uitgesluit was. In dié hersiening word gepoog om reg te laat geskied aan die ongelooflike verskeidenheid in die Afrikaanse poësie. Groot Verseboek is nou nie net geplaas binne die konteks van ‘n nuwe tyd en ‘n nuwe eeu nie, maar ook verrassend nuut verpak. Hierdie bloemlesing in drie dele, die omvattendste wat nog ooit oor en uit die Afrikaanse poësie saamgestel is, gee ‘n indruk van die omvang én verskeidenheid, die rykdom, die energie, die oorspronklikheid én tradisiebewustheid van die Afrikaanse digkuns.

Self sê Brink: “Agter alle redes en interpretasies, motiverings en verklarings, is daar uiteindelik net één dryfkrag agter hierdie hele onderneming, en dit is dat die samestelling van hierdie bloemlesing vir my ‘n liefdesverklaring aan die Afrikaanse poësie is. En soos enige mens of voorwerp van mens se liefde, is hierdie poësie veelduidig vol eindelose verskeidenheid: hetsy hartbeeshuis of woonstel, skakelhuis of herehuis, hierdie huis van ons poësie het vele wonings.”

Die eerste deel van die nuwe Groot Verseboek is getuie van ’n avontuur wat maar min in die letterkunde aangetref word: die groei van ’n digkuns, binne enkele dekades, vanuit ’n beskeie, naïewe, amper primitiewe begin tot ’n poësie wat hom nêrens in die wêreld hoef te skaam nie.

Oor die outeur
André Philippus Brink is op 29 Mei 1935 op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer in 1952 aan die Hoërskool Lydenburg en gaan studeer BA op Potchefstroom. Hy behaal beide sy MA-graad in Engels (1958) en Afrikaans (1959) cum laude. Hy vertrek hierna na Parys in Frankryk, waar hy vergelykende literatuur aan die Universiteit van die Sorbonne studeer. In 1961 word hy aangestel as lektor in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Rhodes op Grahamstad. In 1962 verskyn Lobola vir die lewe wat as sy eintlike debuut beskou word. Hy was saam met Breyten Breytenbach een van die sleutelfigure in die Sestiger-beweging. Hy was van 1980-1990 die hoof van die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Rhodes. Daarna word hy by die Departement Engels aan die Universiteit van Kaapstad aangestel, en tans is hy emeritus-professor in Engels aan dieselfde universiteit.

André P. Brink is een van die mees veelsydige figure in die Suid-Afrikaanse literêre bedryf: romanskrywer, dramaturg, reisverhaalskrywer, vertaler, letterkundige, kritikus en akademikus. Sy romans is in meer as 30 tale vertaal, insluitend Serbo-Kroaties, Japannees, isiXhosa en Vietnamees. Hy is reeds twee keer met die Hertzogprys bekroon (2000 en 2001).

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R245,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.