Gryses span saam om Afrikaanse boeke vir jongspan te lees

Foto ter illustrasie. (Foto: Kampus Production/Pexels)

Ons Tuis, ʼn groep versorgingsoorde vir bejaardes, en Lig in Duisternis Uitgewers het vroeër die week ʼn opwindende nuwe projek afgeskop wat heeltemal ʼn nuutjie vir Afrikaanse literatuur mag wees.

Die uitgewery het ʼn interaktiewe, Afrikaanse boekrak Woensdag bekendgestel waar kinders na voorlesing van gehalte-boeke gratis kan luister, en die voorlesing word almal deur Ons Tuis se senior inwoners gedoen.

“Ons Tuis het ʼn behoefte aan goeie gehalte luisterstories in Afrikaans geïdentifiseer en na ʼn oplossing hiervoor begin gesoek. Hoewel ouer persone diegene is wat ʼn luisterstorie sou wou opraap, omdat ʼn groot persentasie van hulle mettertyd sigprobleme ontwikkel het, het ons dit goed gedink om hierdie inisiatief vir eers op ons jeug te fokus.

“Kinders lê bejaardes natuurlik na aan die hart en só kon ons wys ons gee om en kan nog ʼn waardevolle bydrae tot ons samelewing maak,” sê Heleen van As, woordvoerder van die Ons Tuis-groep.

Volgens haar bestaan die nuwe boekrak uit vier titels. Die wit rokkie, Bekkie begeer alweer, Millie se ontdekking en “Skedonkie en die Honkiedorie Hus” uit die boek Honkiedorie Hus en ander lekkerlees stories word voorgelees.

“Lig in Duisternis Uitgewers is ʼn Skrifgefundeerde aanlyn boekwinkel wat puik leesstof in Afrikaans aanbied. Elke storie het dus ʼn spesiale les of fokus daarop om waardes vas te lê. Dit is ʼn besonderse voorreg om met hulle te kon hande vat,” verduidelik sy.

(Grafika: Verskaf)

Hierdie projek, wat in die bewusmakingsmaand vir bejaardes se behoeftes van stapel gestuur is, het meer as een doelwit.

Kinderdag is wêreldwyd op 21 November gevier. Van As meen bejaardes is diegene wat altyd tyd maak om opreg na ander te luister en lekker stories oor die oudae te vertel.

“Hul entoesiastiese deelname aan die inisiatief bevestig die onmisbare rol wat hulle in Suid-Afrikaanse kinders se lewens as storievertellers en -lesers speel. Ons Lig Luisterstories is ʼn manier om dit te erken en die jeug se liefde vir bejaardesorg te kweek.”

Tientalle kinders is nie meer geseënd om ʼn ouma of ʼn oupa te hê nie, of hulle sit in ʼn ver land met min toegang tot Afrikaanse leesstof. “Lig in Duisternis Uitgewers bied nou ʼn oplossing vir dié probleme en gee kinders wat die behoefte aan ʼn grootouer het die geleentheid om die ‘ouer stem’ te herken, toe te eien en te koester.”

Van As voeg by dat die projek ook die behoefte aan Afrikaanse luisterstories in ʼn ouderdomtoepaslike genre vir bejaardes beklemtoon. Senior burgers het ʼn geweldige behoefte aan gehalte televisie- en radioprogramme, asook oudioboeke namate hulle sig en gehoor agteruit gaan.

“Ons Lig se luisterstories is ons geskenk aan die Afrikaanssprekende jeug hierdie feesseisoen. Dit is amper Kerstyd en daar is niks so lekker as om ʼn nuwe boek te kan vashou nie. Kom ons sien mekaar raak en waardeer mekaar hierdie Kersfees,” sê Van As.

  • Die kinderboeke kan aanlyn by www.liginduisternis.co.za bestel word sodat lesers saam met hulle kinders en kleinkinders daarna kan luister, saam kan blaai of lees. Laai die luisterstories hier af.
  • Besoek www.onstuis.org vir meer inligting oor die groep se gespesialiseerde sorg en meelewende kultuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.