Hanekraai

Daniel Hugo

Lesers het Daniel Hugo reeds leer ken as ’n digter met ’n eiesoortige, ironiese blik op die werklikheid. In hierdie bundel sluit hy aan by ander skrywers wat ’n besorgdheid oor die agteruitgang van die omgewing in hul werk oordra, maar die titel, Hanekraai, verraai uit die staanspoor dat dit hier nie sal gaan oor die “groot vyf” van die ongerepte natuur nie. In gedigte soos “Die vrye natuur” en “Namibië” word geromantiseerde sienings van die natuur juis ontluister. Veel eerder verken die digter die verhouding tussen die mens en huis- of werfdiere, soos die haan, die duif, die hond en die kat, asook die indring van kosmiese kragte soos die son en die wind in die lewe van die verstedelikte mens. Die haan figureer in ’n hele aantal gedigte en is tekenend van die wyse waarop natuurelemente reeds ingebed geraak het in kultuur en beskawing. Ook ander gedigte ondersoek die kulturele erflating, vanaf die openingsgedig “Kantekleer” met sy verwysing na die Middelnederlandse diere-epos “Vanden Vos Reynaerde”, tot by die aansluiting by die Japannese tradisie in die mooi haikoes en die huldigingsverse vir Afrikaanse digters soos Lucas Malan en Ina Rousseau. Die metafore uit die natuur word ook deurgetrek na die hoogs persoonlike in die liefdesgedigte aan die einde van die bundel.
Hanekraai is vintage Hugo: speels, vernuftig en toeganklik, maar ook deurdag, ondersoekend en prikkelend.

Oor die outeur
Daniel Hugo is ’n baie bekende digter wat ’n gevestigde aanhang het. Hy lewer gereeld kritiese werk, veral oor die poësie, en is ’n gerekende vertaler van werk uit Nederlands en Vlaams.

Uitgewer: Protea
Prys: R130-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae