Hannes Barnard gesels oor ‘Vuur’

Hannes Barnard, skrywer van “Vuur”. (Foto: Verskaf)

Apokaliptiese einde-van-die-wêreld-stories het talle boeklesers nou behoorlik aan die brand. Nes Vuur, die jongste en laaste titel in Hannes Barnard se trilogie.

Die agterplat lui onheilspellend soos volg: “Die elemente van ʼn vuur is suurstof, hitte, brandstof en ʼn chemiese reaksie.

“Die noodlot het Rufus (ʼn meisie) en Xandr van mekaar geskei. Rufus is op ʼn skip iewers op die Indiese oseaan terwyl Xandr veg om oorlewing in ʼn wêreld wat deur die wolk vernietig is. Al wat hy het, is Flip die hond en ʼn rooi Mazda Midge.

“Gerugte van ʼn toevlugsoord word Rufus en Xandr se enigste strewe; vind mekaar, vind skuiling.

“En dan die allesoorheersende vraag; Hoe lank kan ʼn mens leef as alles skynbaar deur vuur verteer is? Die kanse om mekaar te vind is egter skraler as om water te vind. Veral as jy gekonfronteer word deur mense wat absoluut enigiets sal doen om te oorleef.

“Hoop is aan die verdwyn agter ʼn sluier van roet – vir alles en almal.”

Hannes was besonder bedrywig sedert sy debuut met Halley se komeet in 2019 en daarna het vier ander boeke gevolg.

Karakters in sy boeke beleef die ongewone. Volgens boekresensente en lesersmenings is hul skoon spyt wanneer die storie ophou en hulle sy boeke toeklap.

Hannes en sy vrou het sewe jaar gelede na Suid-Afrika teruggekeer nadat hulle 14 jaar in die buiteland, 12 jaar in Londen en twee jaar in die Seychelle, gewoon het. Hy het in die boubedryf gewerk as onder meer bourekenaar en projekbestuurder.

Hy beskou sy tipiese leser as iemand van 16 en ouer (tot in die negentig!) wat daarvan hou om te ontspan, maar darem ook van boeke hou wat iets om die lyf het met aksie, drama en ʼn goeie skeut vrees.

Gevra hoekom hy vir Ruth die bynaam “Rufus” gee, antwoord hy dat byname nie iets ongewoon in lewenslange vriendskappe is nie.

“Dit bied iets anders tussen die karakters, iets wat net hulle deel. Dit skep amper ʼn soort onbewustelike geslagsmuur sodat Rufus as ‘een van die ouens’ gesien word in Xandr se kop, eerder as ʼn meisie. Op daardie manier is dit in sy kop ook makliker om die tergery van sy seunsvriende te prosesseer as hulle vra of daar iets meer is.”

Hannes vertel dat hy eintlik al van graad 2 af skryf, sedert hy Die Swart Ridder geskryf het.

“Ek het al amper alles probeer; gedigte, draaiboeke, radiodramas, kortverhale, lirieke, maar ek het skryfwerk eers die laaste 12 jaar ernstig benader.

“My eerste poging tot ʼn roman het baie lank geneem, ook om dit te verfyn. Daardie boek is nooit gepubliseer nie, maar dit is waarskynlik my belangrikste boek. In daardie proses van probeer, eksperimenteer, faal, verwerping, opstaan, weer probeer, weer faal, het ek meer geleer oor skryf, my proses, my skrywerstem, en my passie vir stories, as met enige ander boek.

“Die volgende boek wat ek aangepak het, was Halley se komeet. Ek is oneindig dankbaar dat die legendariese wyle Johan Jack Smith iets daarin gesien het wat ander tot op daardie stadium nie in my skryfwerk gesien het nie.”

Vuur is deel van ʼn trilogie maar is so geskryf dat dit alleenstaande gelees kan word. Tog sal hy dit aanbeveel om eers Wolk en dan Roet te lees.

“As jy die trilogie van die begin af lees sal jy die karakters ontmoet waar hulle lewens dié van doodgewone tieners is, maar as jy met Vuur begin ontmoet jy karakters wat al deur soveel is, en moes aanpas en groei.

Hannes is gek oor tienerkarakters.

“Dit is ʼn fase in jou lewe waar soveel dinge gebeur en soveel vrae dwarrel. Dis ʼn tyd van vinnige groei, van ontdekking, en die brug tussen kindwees en die volwasse lewe. Daar is ook baie hoop en drome in daardie fase wat wonderlik is as ʼn mens aan karakters werk.

“Wat my werk met tieners betref, het ek vir jare skoolverlaterskampe gedoen, en ek was ook in my tyd in Londen betrokke by ʼn kerk se jeugbediening. Nou het ek die voorreg om skole te besoek deur my boeke, en dit is altyd wonderlik om na die unieke perspektiewe te luister en daaruit te leer.”.

Het die feit dat hy in ʼn pastorie groot geword het, enige invloed op sy skryfwerk?

“Ek sou sê alles wat jy beleef het ʼn invloed op jou skryfwerk. Alles maak tydelik of permanent binne jou nes en raak dan verstrengel in karakters, ruimtes of stories. ʼn Pastoriehuis op ʼn plattelandse dorp is vir seker iets wat permanent nes maak.

“Dis wonderlik maar ook dikwels uitdagend. Jy het ʼn kalklig op jou as ‘dominee se seun’ wat maar seer brand. Die ander deel daarvan is dat grootword op ʼn klein dorpie goed is vir die ontwikkeling van jou verbeelding. Met min om my besig te hou, het my verbeelding nuwe werklikhede geskep.

“Ek kom ook uit ʼn huis waar beide my ouers lesers is. As kind besef jy nie die waarde van daardie soort voorbeeld nie, maar nou weet ek dat dit goud werd is.”

Oor Xandr en Rufus se eienskappe sê hy Xandr het ʼn wonderlike aweregse humorsin. Hy kom ook oor as die effens minder volwasse een van die twee, veral in Wolk.

“Hy groei ontsettend deur die loop van die trilogie. Ek dink sy eie krag verbaas hom by tye, hy is meer as waarvoor hy homself krediet gee. Rufus is ʼn planmaker en heelwat meer logies van aard as Xandr.

Sy maak planne en hy voer dit uit. Sy is sterk, onafhanklik, maar het ʼn brose kant wat sy dikwels onderdruk. Sy het self ʼn fyn humorsin en saam het hulle daardie taal wat ʼn mens aanleer as jy so lank vriende is.”

Oor die nodige eienskappe vir ʼn skrywer sê hy jy moet vanselfsprekend lief vir woorde wees, ʼn leser en lief vir skryf.

“Jy moet die vermoë hê om vae konsepte op ʼn logiese, vermaaklike en verrassende manier uit te druk. Wees nuuskierig. Stel belang. Praat minder en luister meer. Ek dink ʼn goeie geheue help ook. Wees gereed om op ʼn wipplank te sit. Daar is euforiese hoogtepunte, en depressiewe dieptes waardeur ʼn mens gaan, soms binne ʼn kwessie van 24 uur.

“Jy moet verwerping en teleurstellings kan hanteer. Van literêre agente en uitgewers wat jou manuskrip afkeur tot resensente wat jou werk uitmekaar skeur.

“Dit is die negatiewe deel, aan die positiewe kant dink ek dit help om suksesse, hoe klein ook al, te vier. Kies ʼn idee waarmee jy graag tyd wil spandeer.”

Hy beskryf homself as ʼn rustelose rustige mens. As skrywer is hy die muntstuk waarvan die een kant aandagafleibaar is en die ander in absolute vervoering.

Hy lees self graag misdaadfiksie asook jeugromans en sal so nou en dan iets literêr aanpak.

“Daar is soveel Afrikaanse skrywers waaroor ek mal is. Ons het regtig ʼn geweldige talentvolle skrywerskorps. Ek dink aan mense soos Fanie Viljoen en Zelda Bezuidenhout wat eenvoudig so veelsydig is. Dan geniet ek ook ʼn lekker Afrikaanse krimi soos onder meer dié van Irma Venter en Dibi Breytenbach. Een van die bestes die afgelope dekade is Zola deur Johan Jack Smith, en ek dink ook Martin Steyn is fenomenaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.