Hans du Plessis gesels oor ‘Die opstand van Poppie Nel’

Vir Poppie, want dit is jou storie, nie myne nie.

Hans du Plessis se jongste roman, Die opstand van Poppie Nel, is gegrond op die aangrypende verhaal van ʼn weerlose meisie wat jare lank deur ʼn sleutelfiguur in haar lewe gemanipuleer en verneder is.

Die skrywer bring hoop aan vroue wat dieselfde hel deurgemaak het of tans daarmee gekonfronteer word.

Du Plessis se roman fokus op die skaamtelose manipulasie en misbruik van vroue deur belangrike rolspelers in die kerk.

“Dit was vir my, veral in hierdie tye van geslagsgebaseerde geweld, belangrik om die leser bewus te maak van ʼn misdaad wat daagliks onder ons oë aan die gebeur is,” vertel Du Plessis.

Hy wil uiteindelik die boodskap by lesers tuisbring dat daar altyd ʼn uitweg is vir mense wat in só ʼn emosionele stryd vasgevang word.

In Die opstand van Poppie Nel ontvou Poppie se verhaal teen die agtergrond van haar grootwordjare.

“Sy word in ʼn stad groot, maar die stad word nêrens gespesifiseer nie, dit kan enige plek wees,” verduidelik Du Plessis. “Haar kinderjare is vir Poppie onwerklik, dit maak nie eintlik saak waar dit was nie.”

Namate die leser die Nels leer ken, word dit duidelik dat Poppie se ouers se huwelik wankelrig is en die kerk toenemend ʼn groter houvas op die gesin se lewe het. Poppie en haar ma, Levona, word marionette in die hand van hul pastoor, terwyl haar pa, Matewis, al hoe meer afsydig is en haar broer, Markus, geen geheim maak van sy verset teen die kerk nie.

Du Plessis vertel dat hy doelbewus dié name vir sy karakters gekies het.

Poppie is inderdaad ʼn poppie in die hande van die pastoor en sy word soos ʼn marionet gemanipuleer. Sy is ook nie die enigste pop in die pastoor se hande nie. Daarom die name uit Liewe Heksie – Levona, Matewis en professor Karel.

Die kerk en ʼn huislike omgewing bied vir baie mense sekuriteit en standvastigheid. Maar in Poppie se verhaal is albei steunpilare wankelrig.

“Dit is juis hierdie wankelrigheid wat van die jong Poppie ʼn onsekere en soekende mens maak, ʼn maklike slagoffer wat geïsoleer en gemanipuleer kan word.”

Prof Hans du Plessis (Foto: Hans du Plessis/Facebook)

Du Plessis sê die boek is allermins ʼn aanval op die kerk. In die verhaal word daar juis nie na ʼn bepaalde geloofsgroep of kerk verwys nie, aangesien dit eerder oor die rol van geloofsleiers gaan.

“Dit is eerder ʼn aanval op ampsdraers wat ʼn vertrouensposisie in die kerk misbruik om in die naam van die godsdiens hul luste te dien,” verduidelik hy.

Net so word Poppie deur hul charismatiese pastoor vir sy eie gewin gemanipuleer en seksueel misbruik. Die ironie is dat die ouer Poppie se pad met ʼn predikant s’n kruis wat haar help om dié donker tyd in haar lewe te verwerk en op te staan.

Die verhaal se teenswoordige tonele speel in Hengelaarskroon, naby Eersterivierstrand in die Tsitsikamma, af. Dit is hier langs die see waar Poppie en Lukas se paaie kruis.

“Hengelaarskroon is vir Poppie (en vir Lukas) die werklike wêreld en die plek van genesing,” vertel Du Plessis oor die betekenis van die ruimte wat hy gekies het.

Lukas stem teensinning en ondanks sy eie seer in om met Poppie te gesels. Du Plessis vertel: “Aanvanklik is hy geensins ingenome met haar of haar probleem nie. Hy is self aan die worstel en twyfel of sy nie maar net sukkel om te glo nie.”

Hengelaarskroon, waar Lukas en Poppie se paaie gekruis het (Foto: Verskaf)

Lukas vind Poppie se konserwatiewe voorkoms fassinerend en boonop het die hartseer in haar oë sy aandag getrek. Maar dit is eintlik omdat Lukas skuldig voel om vir sy goedige diaken, Gawie, nee te sê dat hy instem om met Poppie te gesels.

“Gawie het geredeneer dat sy eie predikant (Lukas), wat toevallig ook op Hengelaarskroon met vakansie is, die ideale luisteraar vir Poppie sou wees omdat hy in sy eie gemeente dieselfde soort probleme met kundigheid en deernis kon hanteer,” sê Du Plessis.

Poppie se verhaal handel oor haar wroeging en worsteling met die bose in die kleed van die kerk. Dit is ʼn verhaal wat op eenvoudige wyse vertel word, maar lesers daarop wys dat dit moontlik is om die euwels van ʼn grou verlede af te skud en aan te beweeg.

Klik hier om ʼn uittreksel uit die boek te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marianna

Baie dankie vir hierdie boek Prof. Hans. ‘n Mens hoop net vrouens veral in so ‘n omstandighede lees dit. Ek ken baie van hulle wat vasgevang is in ‘n emosionele stryd wat uitgebuit word deur mense in magsposisies soos die in kerke.