Hans van Rensburg se lewe as OB-leier

Hiermee ʼn uittreksel uit Afrikaner Sondebok? deur Albert Blake.

***

In Desember 1940 is die charismatiese Hans van Rensburg tot leier van die Ossewabrandwag verkies. Hy is kort daarna te midde van gewelddadige opstande oor die Smuts-regering se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog aan die eerste groot toets van sy leierskap onderwerp.  

Kort na sy verkiesing as Ossewabrandwagleier het Hans van Rensburg persoonlik sy bedanking as administrateur van die Vrystaat in Pretoria aan eerste minister Jan Smuts gaan oordra. Smuts het hom hoflik, dog formeel in sy kantoor in die Uniegebou ontvang en hom stilweg uitgeluister terwyl hy sy ontevredenheid met Suid-Afrika se deelname aan die oorlog gelug het. Smuts het sy bedanking sonder teenstribbeling – en heel waarskynlik met ʼn sug van verligting – aanvaar.

Aan die begin van 1941 het frustrasie onder regeringsoldate begin opbou omdat die meeste van hulle na ʼn jaar nog nie na die front gestuur is nie. Die soldate is verder tot geweld opgesweep deur die Engelse pers wat gepropageer het dat almal wat teen die oorlogspoging gekant is, ʼn klomp Nazi’s is wat hul kamerade wat in die Noorde veg, in gevaar stel.

Teenoor hulle was die omgekrapte anti-oorlogsgesindes wat soos vreemdelinge in hul vaderland gevoel het. Die twee groepe het gereeld begin bots. Te oordeel na die baie koerantberigte oor soldate en anti-oorlogsgesindes wat mekaar aangerand het, was dit ʼn algemene verskynsel. Daar was reeds sporadiese onluste en botsings in Potchefstroom, Port Elizabeth en Kaapstad.

Die onverdraagsaamheid het op ʼn groter massakonfrontasie afgestuur. Johannesburg sou die brandpunt wees met sy baie Engelssprekende inwoners en die OB-hoofkantoor in die Voortrekkergebou op die hoek van Hoek- en De Villiersstraat in die middestad waar die oggendkoerant Die Transvaler ook gehuisves is. Die middagkoerant Die Vaderland se kantore was in ʼn gebou daar naby.

In die onmiddellike aanloop tot die onluste het Van Rensburg die Vrydagaand ʼn groot kultuurbyeenkoms in ʼn stampvol Johannesburgse stadsaal toegespreek. Buite het groepies soldate skoorsoekend rondgedrentel. Lede van die gehoor het na die byeenkoms met die koggelaars handgemeen geraak en dit het gou in verwoede gevegte ontaard waarin die soldate die onderspit gedelf en bedroë gaan hulp soek het. Polisieversterkings is ingeroep, wat die orde tydelik herstel het. Die tafel was egter gedek vir die grootste wit onluste in die land se geskiedenis.

Vroeg die Saterdagoggend was die atmosfeer reeds gespanne toe groepe soldate op ʼn uitdagende manier in Johannesburg se strate rondgemarsjeer het terwyl Engelssprekende burgerlikes hulle verder opgesweep het. Die situasie het op breekpunt afgestuur toe ʼn groep soldate die Saterdagmiddag ʼn bebaarde OB-lid van ʼn trem afruk en sy baard met ʼn stuk glas afskeer. Hy is ernstig beseer voordat die polisie hom kon red. (Baie OB-lede het baarde gedra in navolging van die gebruik tydens die Simboliese Ossewatrek van 1938.)

Aanvanklik is die soldate deur die polisie uitmekaar gejaag, maar nog omgekrapte soldate het die stad binnegestroom. Groepe soldate het geboue begin beskadig en motors aan die brand gesteek. Hulle het daarna in ʼn groot groep hergroepeer en skade aan Die Vaderland se gebou aangerig. Daarna het hulle na die Voortrekkergebou opgeruk. Dinge was besig om handuit te ruk.

Wat die soldate egter nie geweet het nie, was dat duisende OB-lede, onder wie heelparty Stormjaers, die Saterdag op Springs aan die Oos-Rand saamgetrek het om na die OB-leier te luister. Sommige skattings gee die getal OB’s by die saamtrek so hoog soos 30 000. Nuus oor die onluste in die Johannesburgse middestad het die OB-byeenkoms bereik en die gemoedere is opgesweep.

Net ʼn enkele bevel van Van Rensburg sou genoeg gewees het om die hele groep OB’s na die Johannesburgse middestad te laat opruk. Sy kalme en gedissiplineerde optrede en goeie oordeel het egter gesorg dat die uiters ontvlambare situasie nie in ʼn bloedbad ontaard nie.

Hy het wyslik besluit om nie sy volgelinge na die middestad te stuur nie en het hulle gevra om op verdere bevele te wag. Hy het geweet dat die regering versterkings, wat pantserkarre sou insluit, na die middestad kon stuur indien dinge buite beheer raak. Sodoende het hy waarskynlik ʼn groot tragedie afgeweer.

Van Rensburg het wel opdrag gegee dat ʼn kerngroep van sowat 300 Stormjaers (nog in cognito in daardie stadium) na die middestad gaan. Hulle was onder bevel van die bekende stoeier Johannes van der Walt op wie se dissipline gereken kon word. Daarmee het Van Rensburg ʼn parate reserwegroep gehad, sou nood dit vereis.

Hy en die kerngroep Stormjaers het hulle na die middestad gehaas. Intussen het ʼn deel van die oproermakers na Johannes van der Walt se gimnasium, ook in die middestad, opgeruk. Die beeld van die indrukwekkende figuur van die stoeier wat met ʼn sweep die een soldate-aanval na die ander afslaan, het hom as ʼn held onder die anti-oorlogsgesindes gevestig. Hy het ook ʼn groot aandeel gehad in die afweer van die aanvalle op die Voortrekkergebou daarna.

Van Rensburg en sy adjudant, Heimer Anderson, het met ʼn groot gesukkel hul weg deur die klipgooiende aggressiewe skare na die Voortrekkergebou gebaan. Dit was duidelik dat die soldate daarop uit was om die Voortrekkergebou te verwoes. In ʼn stadium het Van Rensburg ʼn vuishou in die gesig gekry. Toe hulle eers in die OB-hoofkantoor op die derde vloer van die Voortrekkergebou was, kon hulle beplan hoe om die aanvalle af te weer.

Toe daar nogmaals ʼn groot gejuig vanuit die straat opklink, het Van Rensburg na ʼn venster beweeg om te sien wat in die rumoerige skare aangaan. Hy het ternouernood aan die dood ontkom toe ʼn koeël enkele sentimeters van sy kop teen ʼn vensterraam vasslaan. ʼn Sluipskutter moes die bewegings voor die venster dopgehou het.

Vandaar is hy herhaaldelik na die gevaargebied in die straat om hom van die situasie te vergewis.

“Die atmosfeer was elektries. Ek kan my nie voorstel dat ek ooit in my lewe weer so ʼn geweldige atmosfeer kan beleef nie,” het die Terreurgroepleier Chris Coetsee jare later die plofbare situasie in Johannesburg beskryf.

Hy het vertel: “In ʼn stadium het die KG uitgekom, hy het daar verbygestap, en daar het ek seker die hoogste respek vir die man gekry. As daar ooit onder daardie omstandighede ʼn koelkop was, dan was dit die KG. Ek het hom dopgehou: hy het dood op sy gemak gestap, sonder die minste inspanning het hy geloop en gesels, en dit was vir hom daardie aand net nodig om die bevel te gee en dan was dit seker die grootste bloedbad wat ons land gesien het.”

Die soldate is herhaaldelik met knuppelaanvalle deur die gesamentlike optrede van die polisie en die Stormjaers verdryf totdat hulle uiteindelik bes moes gee. Onder oorlogsgesindes en die Engelse pers is die polisie van oormatige geweld beskuldig en dat hulle aan die kant van die anti-oorlogsgesindes was. Na alle waarskynlikheid was dit grondige besware. Die oorgrote meerderheid onderoffisiere in die polisie het destyds uit plattelandse Afrikanerhuise gekom en hul steun sou noodwendig by die OB lê.

Die Afrikaanse pers het op hulle beurt die vinger na die regering gewys wat toegelaat het dat sy soldate op ʼn bandelose wyse aan die onluste deelneem.

Die ongevalle in hierdie onluste is die hoogste in die geskiedenis van wit-teen-wit oproer. Volgens sommige weergawes is sowat 200 soldate en ʼn onbekende aantal burgerlikes beseer en het ʼn soldaat ʼn paar dae later aan sy beserings beswyk. Minstens 68 polisiemanne is beseer, van wie sommige ernstig. Daar was nie weer gedurende die oorlog soortgelyke onluste nie.

Hofsake en kommissies van ondersoek na die onluste het gevolg waarin Van Rensburg ook moes getuig. Hy het hom daarop beroep dat die OB-lede se dissipline en gehoorsaamheid ʼn bloedbad voorkom het. Die hofuitsprake en kommissies se bevindings het uiteindelik niemand tevrede gestel nie.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Jonathan Ball Uitgewers verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Interessante gedeelte van die geskiedenis wat nie so wel bekend is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.