Helse manier van koebaai sê

François Bloemhof

Die vierde (en laaste) aflewering in die reeks oor Mark Steyn, die Luiperd, een van Die Fabriek se topagente.
Mark Steyn en sy mede-agent Lana Dubois is steeds aangetrokke tot mekaar, maar het onoplosbare verskille. Nou moet hulle noodgedwonge weer saamwerk aan ’n nuwe saak en word nie slegs fisieke nie, maar ook groot sielkundige eise aan hulle gestel.

Wie vertrou jy? Wie is vriend en wie is vyand? Die spioenasiebedryf is immers bekend vir sy verskuiwende alliansies: Gister se vyand is vandag se “vriend”, maar dalk ook net vir vandag. En dalk ook net as julle ’n gemeenskaplike nuwe vyand het. Maar wát ’n vyand! Een van die wêreld se berugste huurmoordenaars, kodenaam Schorpioen, is in Suid-Afrika om ’n hooggeplaaste persoon dood te maak. Daardie persoon moet ten alle koste beskerm word. En as ’n agent – of meer as een – in die slag bly? Wel, niemand het gesê hulle het ’n maklike lewe gekies nie! Dit is ’n losstaande verhaal, maar knoop ook verskeie drade uit die vorige drie saam. Helse manier van koebaai sê is propvol intrige, spanning, aksie en gevaar – en selfs sake van die hart!

Oor die outeur
François Bloemhof is die skrywer van meer as 40 boeke vir die volwasse, tiener- en jeugmarkte. Hy is meermalig in elke kategorie bekroon, insluitend vir sy eerste roman, Die nag het net een oog. Van sy pryse sluit etlike ATKV-Veertjies in, waar lesers self hulle wenboeke aanwys. Hy het ook reeds bundels vir verskeie uitgewers saamgestel. Daarbenewens het hy sukses behaal met die skryf van tekste vir die verhoog (’n kabaret en tienerstuk) en radio (dramas en ’n vervolgverhaal). Hy is ’n vryskut-taalpraktisyn asook -kopieskrywer, -resensent en -joernalis. Hy was ook al verhaleredakteur vir die tydskrif Sarie en boekeredakteur by Die Burger. Tans woon hy in Durbanville.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R180,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.