Hemelbesem: ‘God praat Afrikaans’


Foto: Maroela Media

Simon en sy vrou, Claudia tydens hul besoek aan Maroela Media. Foto: Maroela Media

deur Adéle Changuion

Op 35 jarige-ouderdom het Simon Witbooi, beter bekend as Hemelbesem, al baie brûe gebou vir Afrikaans. Toe ek hoor dat hy ʼn outobiografie bekendstel, was ek verbaas. Hy is dan nog so jonk, nog so baie om te beleef?

“Ek beskou dit nie as ʼn outobiografie nie, maar eerder ʼn memoir,” sê Simon tydens ʼn besoek aan Maroela Media. Dié kletsrymer, digter en skrywer sê dit is eintlik ʼn verhaal in die taal van sy hart. Of soos hy dit noem: ʼn paar druppels uit die gieter van sy lewe.

God praat Afrikaans is Simon se kommentaar oor Afrikaans, uittreksels van sy lewe wat dié menings gevorm het. ʼn Boek vol idiome, lirieke, uitdrukkings – bekendes en nuutskeppings. Of soos hy dit noem, ʼn toevoeging tot Afrikaans.

“Daar was ʼn dominee destyds op Worcester wat vir my gesê het: ‘Simon, die taal waarin jy bid en die taal waarin jy vloek, is die taal van jou hart.’”

Simon sê die doel van die boek is om te wys dat Afrikaans verskillende kleure en geure het, en dat dié taal in verskillende vorme voorkom.

“As jy baklei het in Afrikaans, teleurgestel was in Afrikaans, liefde ontvang het in Afrikaans, ís jy Afrikaans. Ek probeer die brûe bou en vir mense wys daar is soveel verskillende stories, uit verskillende oorde, in Afrikaans.”

Vir Simon is sy lewe gegrond en gewortel in Afrikaans.

“Ek kan sit en kuier saam met my  Bloubul-vriende in Pretoria, of saam met die ouens in Mitchells Plain wat ʼn heeltemal ander tipe Afrikaans gooi. Die mense in Kimberley gebruik die mooiste sêgoed. Ek verdedig die mooi in al hierdie verskillende oorde, want daar ís mooi in hulle almal.”

Simon se boek God praat Afrikaans is by Lapa-uitgewers te koop.

Luister na die podsending vir Simon se raad aan jonger kunstenaars en kyk die video om te sien wat Simon se gunsteling Afrikaanse woord is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lw ·

Baie dankie vir jou bydrae. Dit klink of jy n interessante memoir het. Sterkte met jou loopbaan.

Vincent ·

Wonderlik! Soveel respek vir jou. Ek is bruin en trots op my taal. Hoekom praat bruin mense engels as hul Afrikaans is. Wees trots op jou herkoms. Ons moet saamstaan en ons taal beskerm. Hemelbesem ek kyk op na jou en waardeer wat jy vir Afrikaans doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.