Herontdek biblioteke hierdie week

Argieffoto (Foto: Mystic Art Design/Pixabay)

Nasionale Biblioteekweek word hierdie jaar van 14 tot 20 Maart gevier met die tema “Herverbeel! Herbenut! Herontdek… biblioteke!”

Hierdie inisiatief is in 2001 deur die Biblioteek- en inligtingsvereniging van Suid-Afrika (Liasa) begin en dit word jaarliks aangebied met die doel om biblioteke se belang in die samelewing te beklemtoon.

“Biblioteekweek is ʼn viering van ons intellektuele en geletterdheidserfenis,” sê Patricia van der Ross, Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid.

Van der Ross benadruk dat biblioteke ʼn belangrike rol speel in die insameling, organisering en toegang tot inligting en hulpbronne. Sy sê verder dat hoewel boekerye ʼn verantwoordelikheid het om die gesondheidsgeletterdheid van gemeenskappe op te hef, dit ook ʼn plek van kennis en ontspanning is.

Volgens Liasa kry biblioteke steeds swaar as gevolg van die Covid-19-pandemie, met baie wat sukkel om hul dienste ten volle te hervat of soms selfs nie in staat is om dit op enige sinvolle manier te verskaf nie.

“Hierdie omstandighede het uiteraard bepaalde veranderinge in die biblioteek- en inligtingsdienssektor meegebring,” lui ʼn verklaring deur Liasa.

Vanjaar wil dié vereniging biblioteke dus aanmoedig om onder uitdagende omstandighede kreatief te wees en die rol van biblioteke in die samelewing te herontdek en op nuwe maniere aan gebruikers te bemark.

Die Otto-stigting vier Nasionale Biblioteekweek met die bekendstelling van ʼn leesjoernaal, getiteld The Reading Journey: A Journal for Your Literary Adventures.

Dit is ontwerp om ʼn liefde vir lees by kinders aan te wakker. Die konsep en teks vir die joernaal is deur die span van die Otto-stigting ontwikkel met illustrasies deur Xanelé Puren.

Die joernaal is ook in Afrikaans beskikbaar met die titel Reis met woorde: ʼn Dagboek vir jou leesreis en dit bevat gedigte deur die bekende Suid-Afrikaanse woordsmid Philip de Vos.

Die Otto-stigting is ʼn geletterdheidsorganisasie wat biblioteke en leesprogramme by ʼn groep skole in Distrik 6, Kaapstad, behartig en bestuur. Die organisasie se oorhoofse doel is om die leeskultuur in hierdie skole te verdiep, en om ʼn liefde vir boeke te kweek wat kinders se lewens kan verander.

Hierdie joernaal word op 17 Maart tydens ʼn geleentheid by die Sonneblom-leersentrum, op die terrein van die historiese Zonnebloem-kollege in Distrik 6, bekendgestel.

Die opbrengs van verkope sal aangewend word vir die Otto-stigting se biblioteekprogramme en dit sal die organisasie in staat stel om gratis kopieë van die joernaal aan leerders in skole met gebrekkige hulpbronne te verskaf.

Stad Kaapstad se personeel vier Nasionale Biblioteekweek met ʼn musiekvideo waarin die doelstellings van hierdie inisiatief beklemtoon word.

Die musiekvideo is saamgestel uit ʼn oorspronklike snit getiteld “Library People” met optredes deur personeel van die stad se biblioteek- en inligtingsdiens.

Stad Kaapstad gebruik ook hierdie inisiatief om inwoners aan te moedig om biblioteekitems terug te bring sodat biblioteke se kosbare voorraad nie verlore gaan nie. Gebruikers kan gedurende dié week hulle agterstallige biblioteekitems terugbesorg sonder om ʼn boete daarvoor te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.