Herontdek jou selfvertroue

Herontdek jou selfvertroue: 7 stappe na ’n nuwe jy deur Rolene Strauss word uitgegee deur Tafelberg Uitgewers.

Vroue, jonk en oud, sal die voormalige Mej. Wêreld (2014), Rolene Strauss, se sewe beproefde stappe om hulle drome na te jaag beslis van waarde vind. Sy deel in Herontdek jou selfvertroue praktiese kennis met vroue wat sukkel met selfbeeld en vertel ook hoe sy self sedert haar tienerjare worstel met selftwyfel en liggaamskwessies.

Ek moet erken dat ek heel skepties begin lees het, want Rolene is tog die versinnebeelding van perfeksie, en hoe kan sý wat Mej. Wêreld was en reeds op skool as internasionale model begin werk het dan sukkel met selfvertroue? Maar toe sy in die inleiding noem hoe ’n verteenwoordiger van Elite Models haar mates op sestien geneem het en dié se opmerking haar aan haarself laat begin twyfel het, het ek regop gesit. “Dis 95 sentimeter,” het sy met opgetrekte wenkbroue gesê. “Ons sal dit tot minstens 90 sentimeter moet afbring, dametjie.”

As vrou kon ek my hiermee vereenselwig. Reeds van skooldae af word daar mos van meisies verwag om maer en goed gebou te wees en soos tydskrifmodelle te lyk. Rolene skryf: “Ek is ingelig dat ek ’n spesifieke mate moet hê vir werk as ’n internasionale model: ’n spesifieke lengte en spesifieke middellyf- en heupmaat. Dit was die begin van ’n verandering in my. […] Ek het dit toe nie werklik besef nie, maar as ek op my loopbaan terugkyk, is ek van daardie dag af voortdurend met die maatband genaamd Perfek gemeet.”

Natuurlik was daar later ook druk nadat sy as Mej. Wêreld gekroon is en miljoene oë elke beweging van haar dopgehou en gemeet het – hoe sy lyk, aantrek, eet en praat. Sy het die volgende jaar haar Mej. Wêreld-kroon aan haar opvolger oorhandig, aangegaan met haar studies, getrou en ma geword. Skuldgevoelens en ’n gebrek aan selfvertroue het haar oorweldig omdat sy gevoel het dat sy nie genoeg tyd saam met haar gesin deurbring nie, nie hard genoeg werk nie en ook nie genoeg studeer nie. Sy het haarself afgevra: Vrouwees behoort darem meer te wees as om voortdurend volmaak te probeer wees, of hoe?

Rolene is vandag ’n gegradueerde mediese dokter en het ’n meestersgraad in filosofie, met die fokus op professionele lewensafrigting. Dieptenavorsing en die toepassing van verskeie folosofiese en sielkundige metodes het haar lewe verander. Sy het uiteindelik haar selfvertroue begin ontdek. Deesdae vind sy vreugde daarin om vroue wêreldwyd aan te moedig om NEE te sê vir perfeksie, vergelyking en lae selfvertroue, en JA vir selfwaarde, moed, geluk en sukses. “Tydens ure en ure se afrigtingsessies met vroue wat ook ’n probleem het met min selfvertroue, het ek met verskeie metodes en teorieë geëksperimenteer. Dit was ’n magiese ervaring om dié boek en my kursus vir jou te skep. Ek was waar jy nou is, en ek is steeds besig om my selfvertroue te ontdek” (13).

Rolene dra Herontdek jou selfvertroue, ’n gids van 335 bladsye, op aan: “Jy wat moeg is om met selfvertroue te sukkel. Jy wat moeg is om jouself teen die wêreld se weergawe van wat perfek is te meet. Jy wat smag na die moed en vertroue om jou drome vreesloos na te jaag.”

Die boek beslaan ses dele wat onderverdeel is in verskeie hoofstukke: Deel Een: Die verhaal van my selfvertroue; Deel Twee: Wat om te verwag; Deel Drie: Herontdek jou selfvertroue; Deel Vier: ’n Nuwe denkwyse; Deel Vyf: Bonusprosesse en Deel Ses: Werkkaarte. Hierin deel sy gereedskap en tegnieke wat haar lewe verander het.

Ek is veral beïndruk daarmee dat Rolene deurentyd klem lê op waardes. Sy waarsku ook teen behaagsiekte – wanneer ’n mens ja sê wanneer jy eintlik nee wil sê, want jy wil nie aanstoot gee nie. Sy glo aan harde werk, onvoorwaardelike positiewe agting, respek en liefde vir ander en haarself, selfdissipline en om waarde tot ander se lewens by te voeg. Hierdie waardes het die kompas geword vir haar lewensdoel. Haar boodskap in Herontdek jou selfvertroue sal elke meisie en vrou se lewe verryk. Ek het baie lekker hieraan gelees en ’n hele paar dinge oor myself uitgevind. Rolene skryf in ‘n gemaklike geselstrant en dit het gevoel asof sy net met my praat. Ek neem beslis haar goeie raad en wenke ter harte en reken die lees van hierdie boek het beslis mý selfvertroue ’n gesonde hupstoot gegee.

Meer oor die skrywer: Rolene Strauss is ‘n transformasieafrigter, mediese dokter, skrywer, internasionale spreker, entrepreneur, eggenoot en ma van twee seuns.

Skaf jou kopie van Herontdek jou selfvertroue hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.