Hertogin Fergie skryf debuutroman vir Mills & Boon

Sarah ‘Fergie’ Ferguson, hertogin van York, in Mei 2018 op die bruilof van prins Harry en Meghan Markle. (Foto: Gareth Fuller/POOL/AFP)

Sarah “Fergie” Ferguson, hertogin van York en eks-vrou van die Britse prins Andrew, se debuutroman sal eersdaags deur die voorste uitgewer van romantiese fiksie, Mills & Boon, uitgereik word.

Die boek is getiteld Her Heart for a Compass en is geskoei op die lewe van die hertogin se adellike tante, lady Margaret Montagu Douglas Scott en speel af in Skotland, Ierland, Londen en New York.

Die hertogin het voorheen kinderboeke, niefiksieboeke oor koningin Victoria en haar eie memoires neergepen. Sy het onlangs haar kinderboekreeks, Budgie the Helicopter, laat herleef.

“Ek is trots daarop om my eie persoonlike handelsmerk van geskiedkundige fiksie in die wêreld van uitgewery in te bring,” het sy gesê.

“Dit het alles begin deur navorsing te doen oor my eie afkoms. Terwyl ek in die geskiedenis van die Montagu Douglas Scotts gedelf het, het ek op lady Margaret afgekom wat my geïnteresseer het, omdat sy een van my geboortename gedeel het.”

“Hoewel haar ouers, die hertog en hertogin van Buccleuch, goeie vriende met koningin Victoria en prins Albert was, kon ek nie veel ontdek oor my naamgenoot se vroeë lewe nie en só is die idee gebore wat Her Heart for a Compass geword het.”

Die storie sluit egte mense en gebeurtenisse in en die hertogin het ook op haar eie ervaringe staatgemaak, maar sê haar “verbeelding het oorgeneem”.

“Ek het lankal reeds ʼn passie vir geskiedkundige navorsing en die vertelling van sterk vroue in die geskiedenis se verhale deur flieks en televisie,” het sy bygevoeg.

Sy het in 2009 met die konsep vir die fliek Young Victoria, met Emily Blunt in die hoofrol en geskryf deur Julian Fellowes, vorendag gekom.

Sy het die fliek vervaardig terwyl haar dogter, prinses Beatrice, ʼn klein rolletjie vertolk het. Die hertogin het ook aan die dokumentêr oor prinses Louise van Saxe-Gotha-Altenburg, prins Albert se ma, gewerk.

Her Heart for a Compass is geskryf in samewerking met gevestigde Mills & Boon-skrywer Marguerite Kaye, wat meer as 50 romans, wat afspeel in ʼn verskeidenheid van eras, vir die uitgewery geskryf het.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.