Die Hertzogpryswenner Johan Myburg se vyfde bundel, Narreskip, is die afgelope week by die Tina Skukan-galery in Pretoria bekendgestel met prof. Karen de Wet, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, as gespreksleier.
De Wet het daarop gewys dat Myburg sedert die eerste Hertzogprys in 1916 toegeken is, een van slegs 20 digters is wat dié gesogte prys ontvang het. In 120 jaar is die Hertzogprys om die beurt vir drama, prosa en poësie toegeken, en 30 daarvan aan poësie.
Wanneer De Wet aan Myburg as digter dink, roep sy die beeld van ʼn klassieke digter op. Tog, meen sy, is Myburg se digkuns gestroop van hoogdrawendheid en dit is toeganklik vir ʼn wyer gehoor.
In Narreskip bou Myburg voort op ʼn breë spektrum van verwysings na die visuele kunste, letterkunde, musiek en argitektuur.
“As ek uit die vuis uit moet sê, dink ek die groot wins van Narreskip is die terughoudendheid,” sê sy. “Ek dink die bundel tref soos ʼn kolskoot, ʼn uitklophou, juis omdat dit so onderbeklemtoond geskryf is: rustig, gewoon, sonder uitroeptekens.”
Binne die bestek van vier digbundels het Myburg hom gevestig as een van die mees gerekende digters in die Afrikaanse digkuns.
Soos sy vorige bundels
Myburg debuteer in 1984 met Vlugskrif, daarna verskyn Kontrafak (1994) wat met die Eugène Marais-prys bekroon word, Kamermusiek (2008) en Uittogboek (2018), wat in 2020 met die Hertzogprys vir poësie vereer is.
Benewens digter is Myburg ook ʼn joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, en het filosofie, sielkunde, teologie en visuele kuns nagraads gestudeer.
Prys: R300,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke
“Onderbetoond” is ‘n nuwe woord vir my. My “navorsing” (vir Google “gevra”) toon dis ‘n woord, wat dikwels in boekresensies voorkom. Die betekenis en inhoud bly ‘n raaisel.