Hier is die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse

lees-boeke.jpg

Argieffoto

Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse – die grootste pryse van hul soort in Afrikaans – is Saterdag in Kaapstad bekend gemaak. Die Jan Rabie-Rapportprys vir die beste debuutroman in Afrikaans asook die twee kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is by dieselfde geleentheid oorhandig.

Hulde is gebring aan ontslape skrywers soos Karel Schoeman en PG du Plessis, maar die aand het behoort aan die huidige geslag skrywers, wat sulke geleenthede moontlik en gedenkwaardig maak.

Hettie Scholtz, sameroeper van die drie hoofboekpryse, het die skrywers geloof vir boeke wat diep sny, diep delf, en ’n aar raak boor. “Dit het by my ’n insig van Chesterton opgeroep, sy geloof dat daar één ding is wat ’n helderheid aan dinge verleen: die vermoede van iets nét om die draai. Ek kan werklik nie wag om te sien waarmee hierdie skrywers volgende vorendag gaan kom nie!  Hierby sluit ek die inskrywings vir die Jan Rabie-Rapportprys in.”

Uitgewers word elke jaar uitgenooi om boeke voor te lê vir die kykNET-Rapport Boekpryse ter waarde van R500 000.
Die pryse word toegeken in die volgende kategorieë:
Beste Afrikaanse volwasse roman (R200 000)
Beste Afrikaanse niefiksie-boek (R200 000)
Afrikaanse roman of niefiksie-boek met die meeste filmiese potensiaal (R100 000)

Die kykNET-Rapport-boekpryse is toegeken aan die volgende skrywers:

  • Fiksie: Huilboek, Ryk Hattingh (Human & Rousseau)
  • Niefiksie: Emily Hobhouse: Geliefde Verraaier, Elsabé Brits (Tafelberg)
  • Film: Al wat ek weet, Marita van der Vyver, (Lapa)

Die keurders het die fiksiewenner, Ryk Hattingh, geloof “vir sy sagkense behandeling van groot dinge, die subtiliteit van segging, die beskeie toon en algehele gebrek aan selfkoestering. Die manier waarop hy persoonlike pyn uiteindelik, sonder politieke grandstandery, vestig in die konteks van ’n hele land se trauma, is uitsonderlik en maak van Huilboek ’n prestasie in hoe groot kragte in beweging gestel kan word deur ’n minimum aan woorde en vertoon.”

Waardering is ook uitgespreek vir die niefiksiewenner, Elsabé Brits, se herbesoek aan ou bronne oor Emily Hobhouse “wat ons in staat stel om opnuut in hierdie merkwaardige vrou die eienskappe te sien wat aan die kern lê van ons universele menslikheid – die vermoë om te empatiseer met die onderdruktes, op te staan vir reg en geregtigheid selfs teen ’n hoë persoonlike en politieke prys, om nood en lyding te verlig ongeag waar dit voorkom. Sy skets Hobhouse as die vergestalting van verset soos dit in die woorde van die Nederlandse digter Remco Campert gedefinieer word: Om aan jouself ’n vraag te vra, daarmee begin verset – en om dit dan aan ’n ander te vra. Dit noop ons om in die Suid-Afrika van vandag weer hierdie kritiese vrae te vra oor menswaardigheid, gelykheid, en weerstand.”

Marita van der Vyver se jeugboek Al wat ek weet het van die prysaand ’n behoorlike rap-aand gemaak. Sy is geloof vir die ligte, vaardige hand waarmee sy die sensitiewe verhaal van ’n seun van gemengde afkoms stuur tot waar hy sy plek in die groter bestel van die lewe vind. En dit deur die skryf van rap songs waarmee hy sy verliese en woede transendeer en sy eie stem vind. “Dis ’n verhaal wat getuig van besondere vakmanskap, een wat smeek om verfilm te word,” sê keurder Herman Binge. “Dink – nét vir ’n oomblik – aan die nuwe Afrikaanse treffers wat hierdie film gaan oplewer, die eerste volwaardige hip-hop-fliek in Afrikaans!”

Die Jan Rabie-Rapportprys ter waarde van R35 000 is vanjaar toegeken aan Valda Jansen vir Hy kom met die skoenlappers. Volgens die keurders is Jansen se debuutroman in vele opsigte meer as “’n elegie aan verlore liefde”, soos dit op die omslag bestempel word. Dit word “’n pynlik intieme en deurtastende verkenning van al die maniere waarop ’n hele lewe soos een byna noodwendig verspeelde kans kan voorkom … Jansen kleur nie dit wat persoonlik is ooit met groot politieke stellings nie, maar wys hoe onontwarbaar die persoonlike en die politieke in Suid-Afrika verstrengel is. Haar debuut gee ’n aangrypende en ontstemmende blik op ’n bevreemdende, bruin middelklas-ervaring van apartheid; ’n genuanseerde perspektief op ’n benarde posisie wat nog bitter min in Afrikaanse fiksie belig is.”

Die kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar, vir die beste Afrikaanse resensies wat in 2016 oor ’n Afrikaanse fiksie- of niefiksiewerk onderskeidelik verskyn het, is ook oorhandig. Die wenners, wat elk R25 000 ontvang het, is:

Die keurpanele vir die onderskeie pryse was: kykNET-Rapport-fiksieprys: Frederik de Jager, Elmari Rautenbach, Steward van Wyk en Gerrit Schoonhoven; kykNET-Rapport-niefiksieprys: Herman Wasserman, Irma du Plessis, Darryl David en Herman Binge; kykNET-Rapport-filmprys: Herman Binge en Gerrit Schoonhoven; kykNET-Rapport-boekresensentpryse: Bibi Slippers, Alfred Schaffer, Jomarié Botha en Yvonne Beyers: Jan Rabie-Rapportprys: Elna van der Merwe, Danie Marais en Kerneels Breytenbach.

Die seremoniemeesters vir die aand was Karen Meiring van kykNet en Waldimar Pelser van Rapport. Die prysfunksie is by die Dapper Coffee Company-restaurant in Kaapstad gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.