‘Hierdie land’: Ma Grietje se soetvyekonfyt

Hiermee die kortverhaal, “Hierdie land”, deur Charles Smith wat in die bundel, Hierdie land, verskyn.

Die botteltjies soetvyekonfyt by Marina Scheepers, skilder van Brandfort, se stalletjie op die boeremark in Bloemfontein trek dadelik my oog.

Die botteltjies is etiketloos – lyk half soos weeskindkonfyt. Maar ek weet presies hoe hulle smaak. Elke vy ʼn knoop lief­likheid in soet, dik stroop geweek. Dit smaak na ma Grietje sʼn kleintyd op Mispa. Jy smeer die plaasbotter goudgeel en dik op die growwe brood en sny die vy op die brood en laat die stroop dik daarop loop.

Ek betaal oom Theo vir die konfyt en hou die botteltjies vir ʼn oomblik vas toe die Vrystaatse lig daarin speel. Agter hom is Marina se skilderye van dié land en sy landskappe. Die Vry­staat in geel en blou. Plaashuise en plaaspaaie na huise tussen wolke en bome en populiere en windpompe wat meestal swyg.

Stiltes en stemme vasgevang op doek.

Een van haar werke het dadelik my oog gevang toe ek ʼn jaar of wat gelede langsaan by oom Francois Potgieter se koffie­tent ʼn koppie stomende koffie op ʼn yskoue winterdag geniet het. Op die doek is ʼn boer ná ʼn plaasaanval – verwese, met ʼn verband om die kop met die bloed wat uit die wonde sypel. Dit is ʼn opdragwerk, het sy vir my gesê. Dat die familie hom onthou. En onthou wat met hom gebeur het.

Ek het oom Francois, toevallig ook van Brandfort, se storie ont­hou. As kind in die vyftigs was hulle bitter arm. Wanneer hulle Saterdae na buurdorpe vir sport gery het, het die oom wat die bus bestuur het by die kafee gestop en vir al die kinders wat nie geld gehad het nie uit sy eie sak ʼn koeldrank gaan koop.

Hy sal dit nooit vergeet nie, het oom Francois gesê. Daardie yskoue koeldrank wat die oom in sy hand gedruk het. Die lewe het sommer beter gevoel.

“En weet jy wat,” het hy vir my gesê terwyl ons koffie drink en hy oor die mense kyk wat by hom kom aanklop op ʼn Sater­dag, “onlangs kom ʼn vriend hier koffie drink en hy vra my: Weet jy wie is die ou wat daar alleen sit? Ek sê nee. Dit is oom Rassie se seun, die oom wat die bus bestuur het toe ons klein was, vertel hy my toe.”

Oom Francois het ʼn ruk stilgebly.

“Ek het na hom gestap en by hom gaan sit en my voorgestel. Ek het vir hom die storie van sy pa vertel, hoe hy vir ons koel­drank gekoop het toe ons klein was en ons niks gehad het nie. Kan ek asseblief vir jou ʼn koffie koop? Ter wille van jou pa.

“Dankie, het hy gesê, hy aanvaar graag die koffie.

“Hy het toe iets gesê wat my hart gebreek het. Hy onthou goed hoe sy pa al die kinders gehelp het wat uit arm huise gekom het. ‘Maar weet, Oom, my pa het ook baie keer nie geld ge­had vir kos in die huis nie …’”

Ek het die botteltjie soetvyekonfyt ʼn ruk in my hand gehou. Dit is nie bloot vyekonfyt nie. Dit is ʼn botteltjie erfenis van ʼn boom wat met liefde versorg word in ʼn tuin in Brandfort en lewe kry soos ʼn skildery op ʼn doek. Ná ma Grietje se dood het ons agter in die rak in Mispa se kombuis ʼn ry van die vyekon­fyt gekry – een botteltjie vir elke gesin.

Sy het konfyt gekook en droëperskes gemaak van die vet geelperskes in die boord langs die dam toe ons dit nie breed gehad het nie. Elke sent het getel. Elke slopie perskes afgelewer in die dorp was ʼn slopie vol hoop.

Ek het eers by die oom wat sy eie appelkoosblatjang kook ʼn draai gemaak vir ʼn vars botteltjie kultuur. Dié aand het ek ʼn gemsbokstowepot gemaak van ʼn gemsbok van die plaas met ʼn lepel van die blatjang in en suurlemoen van ʼn boom by my huis en tiemie uit die tuin. In die aand word die reuk van die pot die geure van plaas en kleintyd en winters van slag en vure en Afrikaans wat in ʼn donker tyd van apartheid lieflik ge­meng het met Sesotho en isiXhosa.

Ek ry alleen Zeekoegat toe vir die naweek, waar ek boer op die grond van grootjie Hendrik Johannes, oupa Francois Alwyn Harbin (Frans) en pa Hendrik Johannes (Hendrik). Ek ry deur tant Marina se landskappe van blou en geel en wit. Ek stap deur die veld toe die son doer oor Mispa opkom. Jy kan nie dié oomblik verbeel nie: die wolke wat soos spierwit vagte van oupa Frans se merinowol oor my en die honde aangerol kom.

Twee kolganse vlieg klaend oor die veld. Ek maak my oë toe en laat die spanning van die land van liefde en haat, van vars boorgatwater wat ek uit die windpomp drink en van bloed, uit my vloei. Ek ruik kerriebos en wildeals; in die Karooveld is spore van springhaas en bakoorjakkals en steenbokkie en lewe­rik en koggelmander in die dounat grond.

Ek ruik Mosalanja se krummelpap in die huis en hoor die werkers praat en Dingaan se groot rooi haan se kraai dra op die wind.

Varsgebakte plaasbrood. (Foto: Elaine Krige)

Ek ry met Kresmes Mokoko deur die veld na die beeste. Hy is ʼn werklose townshipboer wat al sy spaargeld gebruik om twee dragtige koeie te koop. Dit is sy gesin se spaarbussie. Ons praat oor beeste en krieket en die wolke wat uier maak.

“Ek wil ook ʼn boer wees. Waar kan ek ʼn plaas huur?” vra hy. “Jy weet, ek word vergeet deur die regering en die wit boere draai die rug op ons.” My hart pyn. Ons praat oor hoe die grond­mark toeganklik moet wees vir almal.

Ons kyk uit oor dieselfde veld, maar elkeen sien ʼn ander landskap – ʼn ander land. Wit en swart. Twee wêrelde. Twee sto­ries. Maar met een gedeelde liefde: dié land van ons voorouers wat in ons bloed en hart is.

Ons sê dit nie. Maar diep in ons weet ons daar is net een klein kans om ʼn toekoms te kry waar die wolke reën bring oor almal se grond. Dit is nou – dit is as ons begin saampraat en saam planne maak.

Om ma Grietje se slopie vol erfenis en stories en hoop verder te kan dra vir almal.

***

Die kortverhaal is goedgunstig deur Protea Boeke verskaf. Klik hier om Hierdie land aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.