Historikus bespied ANC-SAKP-verhouding

Die gewapende stryd wat die African National Congress (ANC) en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) van 1961 tot 1990 teen die destydse Suid-Afrikaanse regering gevoer het, het nie uit die lug geval nie. Wat ʼn mens ook al van die stryd en die doelstellings en metodes daar agter dink, dit is die historikus se taak om dit te ondersoek en in perspektief te plaas. Hierdie boek gaan aantoon dat die gewapende stryd grotendeels teruggevoer kan word na die invloed van die SAKP en die kommunisme op die ANC en die sogenaamde tweefaserevolusie wat die SAKP in opdrag van die Sowjetunie in Suid-Afrika wou uitvoer.

In sekere sin begin ons verhaal in 1927. In daardie jaar het drie Suid-Afrikaners – Josiah T Gumede, president van die ANC, James la Guma, sekretaris van die ANC se Kaapse tak en lid van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA – die SAKP se voorganger), en Daniel Colraine van die South African Trade Union Congress – die stigtingskongres van die Bond teen Imperialisme in die majestueuse Egmontpaleis in Brussel bygewoon. Die kongres is gefinansier deur die Komintern, die sambreelorganisasie wat alle kommunistiese partye ter wêreld verteenwoordig het, en is gelei deur ene Willi Muzenberg van die Duitse Kommunistiese Party. Dié samekoms sou deur ander – veel belangriker – ontmoetings gevolg word.

Daar was egter vroeër al kontak tussen die ANC en kommuniste, en ons sal baie kortliks daaraan aandag moet gee. Die heel eerste kontak tussen die ANC en kommuniste het in Februarie 1916 plaasgevind, skaars vier jaar ná die stigting van die ANC. Toe is ʼn vergadering deur ’n groep Transvaalse kommuniste belê om die Naturellen Grond Wet van 1913 te bespreek. (Dié wet het swart grondbesit beperk tot die sogenaamde reserwes, toe maar sowat tien persent van die land, en het huurpag van swart mense op wit mense se plase verbied.) Die vergadering het geen praktiese gevolge gehad nie.

Dat die kommuniste ewenwel geen hoë dunk van die ANC gehad het nie, blyk uit ʼn brief wat Ivon Jones, die sekretaris van die International Socialist League (die voorganger van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika), in Maart 1921 na Moskou gestuur het: Die ANC, het hy geskryf, is slegs “a small coterie of educated natives” wat bloot agiteer vir “civil equality and political rights”. Hy het vol vertroue voorspel dat “the growing class organisations of the natives will soon dominate or displace the Congress”.

Terug na 1927. Vir Gumede, wat geen Kommunis was nie en in 1917 nog sterk standpunt teen die Bolsjewistiese revolusie ingeneem het, was dit veral ʼn beslissende gebeurtenis. By die stigtingskongres van die Bond teen Imperialisme is hy naamlik vir die eerste keer as swart mens op sosiale vlak as gelyke behandel deur die wit afgevaardigdes, oorwegend kommuniste. Soos hy dit in sy toespraak gestel het: “I am happy to say that there are Communists in South Africa. I myself am not one, but it is my experience that the Communist Party is the only party that stands behind us and from which we can expect something.” (Later sou La Guma by die SAKP aansluit en is die Sowjetunie se Presidium, die Orde van Vriendskap, ook aan hom toegeken.)

Ná die kongres het Gumede en La Guma verder gereis, eers na Duitsland, waar Gumede verskeie toesprake gehou het, en toe na die Sowjetunie. Daar het Gumede onder meer Georgië besoek, waar hy sterk onder die indruk gekom het van die – soos hy dit ervaar het – verstandige manier waarop die Russiese kommunistiese bewind sy etniese probleem aangepak het. Terug in Suid-Afrika het Gumede entoesiasties uitgeroep: “I have seen the world to come where it has already begun. I have been to the new Jerusalem.”

In Moskou het La Guma intussen ʼn rigtinggewende gesprek gehad met Wladimir Boecharin, voorsitter van die Komintern. Dié gesprek sou van beslissende belang wees vir die geskiedenis van Suid-Afrika en die betrekkinge tussen die ANC en die Kommunistiese Party van Suid- Afrika of KPSA. (Dié party is in 1950 ontbind en het ná sy herstigting in 1953 sy naam verander na Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party of SAKP.)

Die belangrikste bron oor die gesprek is tweedehands, ʼn passasie van Eddie Roux (’n wit Kommunis aan wie La Guma dit waarskynlik vertel het) in sy biografie van die destydse leier van die KPSA, Sidney Bunting. Dit lui só: “La Guma, when he had visited Russia in 1927, had had a discussion with Bukharin (then a leading figure in the Comintern) on the situation in South Africa. It was agreed that the struggle in this country was primarily an anti-imperialist one. The country was a colony or semi-colony of British imperialism. The Bantu, like the Indians and Chinese and other colonial peoples, were suffering national oppression… It was clear therefore that the main task of the revolution in South Africa was to overthrow the rule of the British and Boer imperialists, to set up a democratic independent Native republic… as a stage towards the final overthrow of capitalism in South Africa.”

Ongelukkig weet ʼn mens nie presies wie wat gesê of hoe die gesprek in detail verloop het nie. Volgens wat La Guma by sy terugkeer aan die KPSA se sentrale komitee gerapporteer het, het Boecharin gesê dat “the white workers in South Africa, soaked as they were with imperialist ideology, were not of primary revolutionary importance in this country”.

In isolasie beskou, sou dit moeilik wees om die gesprek behoorlik te takseer. Neem ʼn mens egter die destydse internasionale agtergrond in ag, word die betekenis daarvan wel duidelik.

In die eerste plek is dit noodsaaklik om te begryp dat die Russiese Revolusie van 1917 in twee duidelik onderskeibare fases plaasgevind het. Die eerste fase was in Maart 1917, toe die tsaristiese regime deur ʼn burgerlike regering omvergewerp is.

In dié fase het die kommuniste van Wladimir Lenin prakties geen rol gespeel nie. Lenin is heeltemal onkant betrap en hy was trouens nog in Switserland in ballingskap. Met behulp van die Duitsers (wat tereg gemeen het Lenin sal Rusland uit die Eerste Wêreldoorlog help haal) is hy daarop in ʼn verseëlde trein in Rusland ingesmokkel en hy het onmiddellik aan die werk gespring om die chaos uit te buit. Formeel het Lenin met die burgerlike bewind saamgewerk, maar in die praktyk alles in sy vermoë gedoen om dit te destabiliseer. Sy kans het uiteindelik in November gekom, toe hy ʼn staatsgreep uitgevoer en self die mag gegryp het. Dit was die belangrike tweede fase.

Daar was dus eers ʼn burgerlike revolusie en toe ’n sosialistiese een.

Dié feit het ’n belangrike implikasie. Lenin het reeds vroeg in die twintigste eeu ingesien dat ’n klein, streng gedissiplineerde voorhoede, soos hy die Kommunistiese Party georganiseer het, nie die mag alleen kon gryp nie; daarvoor was bondgenote nodig. Volgens die Leninisme, skryf die Poolse kenner Leszek Kolakowski, moes die proletariaat homself organiseer “for a democratic revolution in a semi-feudal country, in the hope of first sharing power with the peasantry and then initiating the struggle for socialism and a proletarian dictatorship against the bourgeoisie… In all this the proletariat was to act under the leadership of the party – the true keeper of the proletariat’s consciousness…”

Ten slotte het die Komintern, wat onder beheer van die Sowjetunie was, mettertyd die behoefte gevoel om dié beleid vir koloniale gebiede aan te pas. Die probleem hier was dat die Derde Wêreld volgens die ortodokse Marxistiese wêreldbeskouing steeds in die feodale fase was en nog nie die kapitalisme betree het nie – en dus ook nie ryp vir ʼn sosialistiese revolusie was nie. In ʼn aantal “koloniale stellings” het Lenin verordineer dat die Derde Wêreld maar die kapitalistiese fase kon oorslaan.

Daarby moes die kommuniste opereer – en dit is belangrik – “in ʼn tydelike alliansie met die bourgeoisie van die kolonies en agterlike lande, maar nie daarmee saamsmelt nie en die onafhanklikheid van die proletariese beweging selfs in sy mees embrionale vorm onvoorwaardelik beskerm”. Koloniale kommunistiese partye, het Lenin beveel, moet “bevrydingsbewegings aktief steun”. Hulle moet “veral versigtig wees en aandag gee aan nasionale gevoelens, anachronisties soos dit is, in lande en by volke wat lank verslaaf was”. Hulle moet dus “voorlopig met die revolusionêre bewegings van die kolonies en agterlike lande saamwerk en selfs ʼn alliansie daarmee vorm, maar… nie daarmee saamsmelt nie.”

Dié woorde is van groot belang wanneer die samewerking tussen die SAKP en ANC ontleed word.

Dít was dan die agtergrond waarteen La Guma en Boecharin in 1927 met mekaar gepraat het. In die lig van die historiese feite wat hierbo genoem is en dit wat later op die Komintern se kongres van 1928 besluit is, sou die volgende rekonstruksie van die gesprek waarskynlik nie alte ver van die waarheid wees nie: Boecharin (wat ongetwyfeld nie veel van Suid-Afrika en die toestande daar geweet het nie) het waarskynlik die beleid van Lenin en die Komintern oor ʼn tweefaserevolusie en taktiese samewerking met ’n burgerlike massabeweging aan La Guma verduidelik. Hy het hom heel moontlik gevra of daar in Suid-Afrika ʼn geskikte burgerlike massabeweging was wat as tydelike bondgenoot van die KPSA kon dien totdat die dag aanbreek wanneer die mag self gegryp kan word. La Guma se antwoord – die ANC – sou voor die hand liggend wees, want hy was immers sekretaris van die Kaapstadse tak van dié beweging.

Ewenwel, dié gesprek en Gumede se besoek aan Brussel was die eerste keer dat die ANC en die internasionale kommunisme kennisgemaak het.

Die gesprek tussen La Guma en Boecharin is gevolg deur ʼn reeks ingrypende besluite op die jaarkongres van die Komintern in 1928 in Moskou. Tot die ontsteltenis van die wit Kommuniste uit Suid-Afrika is hulle gekonfronteer met ʼn konsepresolusie wat heel waarskynlik die regstreekse gevolg van die gesprek tussen La Guma en Boecharin was. Daarin is die KPSA opdrag gegee om hom te beywer vir “an independent native South African republic, as a stage towards a workers’ and peasants’ government with full, equal rights for all races, black, coloured and white”. Feit is dat die Moskouse leiers destyds hoë verwagtings vir ʼn spoedige geslaagde kommunistiese revolusie in Suid-Afrika gehad het. Dit het bekend gestaan as die nasionale demokratiese revolusie (NDR), ʼn begrip wat in die jare ná 1990 en 1994 bekendheid in Suid-Afrika verwerf het.

Dit is later in 1928 opgevolg met ʼn uitvoerige beleidsverklaring van die Komintern oor Suid-Afrika, waarin die resolusie verder uitgewerk is. In dié taamlik uitvoerige dokument word die politieke, maatskaplike en ekonomiese toestand in Suid-Afrika uit ʼn ortodokse Leninistiese hoek behandel, met spesiale verwysing na die rassesituasie.

Dié besluit wat in Moskou aan die KPSA opgedwing is dat die Kommuniste die ANC as stormram vir ʼn revolusie moes gebruik, het in Suid-Afrika heelwat woelinge in die party veroorsaak, maar is in Januarie 1929 amptelik aanvaar. In opdrag van Moskou is diegene wat gekant was teen slaafse gehoorsaamheid aan die Kremlin (sowat ʼn derde van die lede) uitgedryf.

Van toe af tot en met die uiteenval van die Sowjetunie aan die einde van 1991 was die KPSA en sy latere opvolger, die SAKP, een van die kommunistiese partye wat die gehoorsaamste aan die Kremlin was.

***

Hierdie verkorte uittreksel uit Leopoldt Scholtz se boek, Terreur en bevryding, is goedgunstig deur Jonathan Ball verskaf. Klik hier om meer oor die boek te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Nogal interessante geskiedenis wat die “lang arms” van Moskou in S.A. uitwys. Volgens dr. Anthea Jeffery se “People’s War” was die keerpunt in 1978 toe Rusland die ANC se topleiers na Viëtnam gestuur het om te leer hoe die magtige V.S.A. verslaan is. Dit is presies wat in S.A. gebeur het: Propaganda, genadelose terreur, intimidasie en bloedvergieting gerig op die plaaslike bevolking het S.A. op sy knieë gedwing sonder dat die S.A. Weermag in een veldslag verslaan is. Gekombineer met absolute naïewe Nasionale Party onderhandelaars het ‘n tweede Viëtnam gevolg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.