‘Hoe herlaai ons SA?’ en nóg aktuele gesprekke op Suidoosterfees

Argieffoto. (Foto: Freepik)

Staatskaping, partypolitiek, omstredenheid rondom Afrikaans se amptelike status as landstaal en die snelgroeiende invloed van kunsmatige intelligensie (KI) is enkele van die onderwerpe wat by vanjaar se Jakes Gerwel-gesprekreeks op die Suidoosterfees bespreek word.

Die 21ste Suidoosterfeesfees vind van 26 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad plaas. Skrywers, joernaliste en nuusmakers gaan tydens die Jakes Gerwel-gesprekke byeenkom om oor ʼn verskeidenheid aktuele sake en boeke te gesels.

Met die algemene verkiesing om die draai, word veral partypolitiek onder die vergrootglas geplaas. Meningsvormers soos Roelf Meyer, Francis Petersen en Naidene Lottering kyk tegelyk in die truspieël en in die kristalbal tydens ʼn gesprek met die tema “Demokrasie: In die truspieël & die wapad”. In “Hoe reboot ons SA?” vra Roy Havemann, Tessa Dooms en Dennis Davis hoe Suid-Afrika reggeruk kan word ná die gemors wat deur staatskaping veroorsaak is.

Adriaan Basson en Qaanitah Hunter, skrywers van Who Will Rule South Africa?, en Mills Soko, medeskrywer van The Good, The Bad and The Ugly, word deur Jan-Jan Joubert oor koalisiepolitiek en vreemde bedmaats uitgevra.

In “50 lies that made South Africa” tree Jonathan Ancer en Lester Kiewit in gesprek oor die mites, verdraaide waarhede en blatante leuens wat as evangelie oor die land se geskiedenis aanvaar word. Vir sy boek oor dié onderwerp het Ancer wyd navorsing gedoen oor die fassinerende stories wat ons graag as die waarheid wil glo.

Die posisie van Afrikaans en die politieke kontroversie wat die geskiedenis van die taal kenmerk, kom tydens die Jakes Gerwel-herdenkingsgeleentheid onder bespreking. Gerwel, een van die Suidoosterfees se prominentste stigterslede, se visie van Afrikaans as instrument van versoening en insluiting, is vandag steeds ʼn fondament waarop die fees se aktiwiteite gebou is.

Phoebe Gerwel, weduwee van Jakes Gerwel, se memoir word ook tydens die fees bekendgestel. Haidee Muller-Isaacs van RSG is in gesprek met Phoebe en Rachelle Greeff, skrywer van Phoebe: ʼn Lewe saam met Jakes Gerwel, oor Phoebe se opwindende lewe asook haar lewenslange stryd teen bipolêre gemoedsteuring.

In die paneelgesprek “Afrikaans amptelik 100 – Vier ons of verdeel ons?” besin sprekers oor Afrikaans se honderd jaar as amptelike taal wat in 2025 gevier word. Martelize Brink lei die bespreking met Hein Willemse, Earl-Ray Basson, Rene Arendse en Giep van Zyl oor die omstredenheid wat Afrikaans se amptelike status as landstaal in die geskiedenis kenmerk. Arendse en Van Zyl verduidelik hoe die verklaring van Afrikaans as amptelike taal in 1925 deur regeringslui, wat tegelyk besig was om diskriminerende wetgewing deur te voer, as vertrekpunt van die beoogde viering kan dien sonder om aanstoot te gee.

Die tempo waarteen kunsmatige intelligensie deel van die alledaagse lewe word, is vir talle Suid-Afrikaners vreesaanjaend. Dié verskynsel word tydens “Artificial Intelligence – Will it take over?” onder die soeklig geplaas. Twee kenners, Arthur Goldstuck, skrywer van The Hitchhiker’s Guide to AI, en Kerushan Govender, skrywer van Age of Agency, deel gedagtes met Fred Roed en Kieno Kammies oor hoe dié fenomeen tot die mensdom se voordeel ingespan kan word.

Diana Ferrus, Anzil Kulsen en André Hendricks kom gesels oor die manier waarop boeke mense kan help om die wêreld beter te verstaan. Hulle fokus veral op hoe boeke vir mans leiding kan gee om hul plek in gemeenskappe op ʼn verantwoordelike manier in te neem. “Wat is jóú storie?” word deur die Vriende van Afrikaans na die feesverhoog gebring met Chareldine van der Merwe as gespreksleier.

René Arendse, nasionale hulpkoördineerder van Afrikaans 100 en Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans 100 (Foto: Maroela Media)

Jeugboekskrywers Fiona van Kerwel, Crystal-Donna Roberts en Thérèse Hulme deel hulle indrukke oor die mark vir jong lesers. Roberts is bekend vir haar Speurder Sammi-reeks en Van Kerwel se versamelbundel met verhale vir jong lesers, Leë blikkies vol liefde, het onlangs verskyn. Hulme, skrywer van Praat jy! en fasiliteerder van die Jakes Gerwel Stigting se narratiewe leerprojek vir leerders van die Kaapse Vlakte, lei die gesprek “Blom die lesers soos die boeke?”

Alle aanbiedings is gratis, maar vooraf besprekings deur Webtickets is noodsaaklik. Die gesprekke word deur die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV aangebied, en verskeie uitgewerye en kultuurorganisasies neem deel.

Die volledige program van die Jakes Gerwel-gespreksreeks is op die Suidoosterfees se webwerf beskikbaar. Feesgangers sal ʼn bewys van besprekings op hul selfone ontvang wat by die ingang na gesprekke vertoon word. Boeke van skrywers op die program word by die venue verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.