Hoofstuk 1: Episode 1 – Anton Beukman

Hoofstuk 1

Hors-d’œuvre

The Bridge on the River Cuito

Operasie Coolidge II – 4 Verkenningsregiment

Inleiding: Jannie Geldenhuys

Coolidge II was die Suid-Afrikaanse operasie wat die brug oor die Cuitorivier moes vernietig. Die doel was om die offensief van die Sowjet- en Kubaansondersteunde Fapla-magte te verhinder en die Unita-vestings in Mavinga, en uiteindelik in Jamba verder oos, te verower. ʼn Span van 4 Verkenningsregiment (4 Recce) het die finale fase van die operasie op 25 Augustus 1987 onderneem, in opvolging van voorbereidingsverkenning wat hul in Mei vroeër dieselfde jaar uitgevoer het. ʼn Lid van die 4 Recce-span, Anton Beukman, vertel hier sy deel van die verhaal.

5 Verkenningsregiment (5 Recce) het ʼn span voorsien om met die onttrekking aan die einde van die operasie bystand te verleen. Dié span was onder leiding van Renier Hugo en hy bring ook sy deel van die storie aan u.

episode 1

Anton Beukman

Coolidge 11 is voorafgegaan deur ʼn verkenning op die brug by Cuito gedurende Mei 1987. 4 Recce (4 Verkenningsregiment) is toe getaak om die moontlike vernietiging van die brug te ondersoek, aangesien dit die hoof aanvullingsroete van die Fapla/Kubaanse magte aan die oostekant van die rivier was. Maddies en ek het die verkenning, wat baie kilometers noord van die brug by Cuito Cuanavale begin het, uitgevoer. Ons het rivieraf geroei met Italiaanse opblaasbare kano’s. Die kano’s was nogal moelik om te vernietig en het ook in die proses baie lawaai gemaak. Ons het voorbereidings getref om nader aan die brug te swem. Ons het naby die brug opgelê en was besig met observasie toe die RSA-magte aan die oostekant van die rivier op ʼn voorafbepaalde tyd die brug begin bestook het om sodoende die wagte se aandag af te trek.

Die plan het goed gewerk en ons kon nader beweeg sodat ons beter kon sien. Op een tydstip het dit aan “Guy Fawkes”-nag herinner soos die RSA en Fapla/Kubaanse artillerie se kartetse oor ons gevlieg het. Maddies en ek het genoegsame tyd gehad om die verkenning te doen, en na voltooiing van die verkenning het ons suid en stroomaf met die sterk stroom geswem.

ʼn Paar uur later het Rassie en die ander ons opgetel en na die RV (rendezvous) geneem. Die onttrekking het sonder voorval plaasgevind en ons was ʼn paar dae later terug by die eenheid. Die nabetragting het plaasgevind en die  beplanning vir Coolidge 11 het begin.

Die volgende was sommige aspekte wat tydens die beplanning aandag moes kry:

– Die konsentrasie van Fapla/Kubaanse magte in en om Cuito Cuanavale – aanvanklike ontplooiing en onttrekking moes sover noord en suid van die brug as moontlik plaasvind.

– Die metodes van infiltreer en onttrek – helikopters, te voet, in kajakke, swem en duik.

– Die ladings en tydmeganismes wat benodig is om die kajakke te vernietig nadat dit versteek is.

– Die lading wat benodig is (en die metode van plasing) om die staalkabel wat die veer/vragboot oor die rivier trek, te vernietig.

– Die aantal en grootte van die ladings wat aan op die pilare geplaas moet word om die brug te laat val – dit sou ook die grootte van die duikspan bepaal – en die metode van plasing.

– Hoe om die duikers aan die pilare te “anker”, aangesien dit moeilik gaan wees om die ladings te plaas as gevolg van die sterk stroom – majoor Tuffy Joubert het met baie goeie voorstelle na vore gekom, onder andere metaalkurktrekkers wat in die sanderige rivierbodem ingeskroef kon word, wat die duiker sou toelaat om ʼn tou wat aan die skroef vas was, uit te rol totdat hy by die teiken is.

– Die finale besluit was egter ʼn tou, naastenby die lengte van die brug, op ʼn rol. Die tou sou dan net voor die brug uitgerol word, en die buddy-pare (tweemanspanne) sou aan die tou vashou totdat die teiken bereik word. Dan word die punte  van die tou aan die pilare vasgemaak.

– Krokodille – hoewel ons almal geweet het die rivier is vol krokodille het niemand ʼn idee gehad oor hoe ons dié probleem kon oplos nie. Pungi-stokke (ʼn metalstaaf met ʼn haelpatroon vooraan wat afgaan indien dit teen iets gedruk word) is oorweeg, maar uiteindelik is daar besluit op “graspol in die hol” (met ander woorde, waag dit maar, en hoop dat jy nie ongelukkig is en aangeval word nie).

Teen laat Augustus 1987 was daar reeds ʼn paar Fapla/Kubaanse brigades aan die oostekant van die Cuito-brug, en soos voorheen genoem, was dit hulle grootste aanvullingsroete vanaf Cuito Cuanavale, aan die westekant van die brug. Dit is beskou as ʼn goeie tyd om die brug te probeer vernietig en sodoende hulle aanvulling te ontwrig.

Opdragte is uitgereik en die 12-man duikspan met hulle steunelemente is na Fort Foot in Rundu ontplooi. Ons het ‘n ent met die Diricorivier in opblaasbare bote opgevaar tot ʼn stelling waar ons ʼn paar dae nagopleiding op die die rivier gedoen het – dit was nie baie gerustellend om daardie rooi krokodilogies op die oewer te sien nie, en wanneer ons geduik het, het elkeen van ons seker gemaak dat
hy sy “buddy” op ʼn kort lyn het en dat sy duikmes byderhand is.

24 en 25 Augustus 1987. Ons het in helikopters, per voertuig en te voet tot ongeveer 70km noord van Cuito Cuanavale ontplooi.
Terselfdertyd het Julius Engelbrecht en ons onttrekkingspan ongeveer 20km suid van die brug ontplooi – hulle was getaak om ʼn tou met ʼn Cyalume-lig daaraan oor die rivier te span wat die RV vir die duikers sou aandui.

Unita-magte is aan albei groepe toegevoeg, maar ons het ook onskatbare ondersteuning gekry van lede van 5 Recce (5 Verkenningsregiment), wat reeds al ʼn paar maande in klein spanne in die gebeid ontplooi is, en die terrein goed geken het – Renier Hugo
en Jim MacGuire was veral prominent, en Renier se weergawe van die gebeure word ook by hierdie dokument ingesluit.

25 en 26 Augustus 1987. Ons het die beginpunt vroegmiddag van 25 Augustus bereik. Die kêrels het gerus, en net voor laaste lig is die kajakke aanmekaargesit. Finale uitrustinginspeksie is uitgevoer en ʼn finale voorligting word aangebied. Teen laaste lig het Fred
Wilke (spanleier) die 12-man span opdrag gegee om in die kajakke te klim en na die brug te vertrek, met ek en Les Wessels as navigators.

Om deur die rietomringde kanale, wat soms baie nou was, te roei en navigeer was nie maklik nie. Maar uiteindelik het ons ʼn plek bereik wat geskik was vir die versteking van die kajakke en ons voorbereiding vir die duik/swem brug, toe. Die kajakke is aanmekaar vasgemaak en aan die riete geanker. Die ladings, tydmeganismes en hulpladings vir elke kajak is opgestel en bewapen, en na ʼn kort spanpraatjie het ons vertrek.

Elke duiker het volledige duikuitrusting aangehad, insluitende suurstof “re-breather”-stelle – vir ooglopende redes – asook ʼn rugsak met die plofladings vir die brug se pilare. Ek is nie seker wie die kommunikasie-uitrusting en die rol tou gehad het nie, maar ek het egter ook ʼn klein ploflading aan my linkerarm gehad wat op die vrag/veerboot se kabel geplant moes word.

“Neutraaldrywend” het ons vir ongeveer twee uur op die oppervlakte geswem, tot by ʼn punt wat volgens my skatting ongeveer 900 meter van die brug af was. Ons was veronderstel om hier die tou te ontplooi waaraan die “buddy”-pare in ʼn linie moes vashou soos ons die brug nader. Ek was egter verkeerd – ons was nog ongeveer 1 500 meter van die brug af. Die sterk stroom en die noodsaaklikheid dat ons so na as moontlik aan die skaduwees van die westelike oewer moet beweeg, het dit onmoontlik gemaak om die tou te beheer, en ons het toe van hom ontslae geraak. Geen verskoning nie, maar ek glo tot vandag toe nog dat dit eintlik ʼn bedekte seën was, aangesien daar doringdraad en ander hindernisse nader aan die brug was wat ʼn mate van chaos kon veroorsaak het indien die tou daarin verstrengel geraak het. Dit was lank na middernag voordat ons die brug uiteindelik kon sien. Ons het gestop, geluister en waargeneem, en toe Fred met die situasie gelukkig was het ons ons gereedgemaak om te duik. Die “buddy”-pare het in enkelgelid wegbeweeg, en toe hulle naby die brug was, in linie versprei en op hulle aangewese stel pilare gemik. Teen dié tyd was ek en Les reeds naby die veer/vragboot se kabel. Ek het die lading aan my arm bewapen, maar die kabel was te hoog bokant die water en ek kon dit nie bykom nie. Ek het toe maar die lading weer aan my arm vasgemaak en ons het vir die opblaas van die pilare begin voorberei.

Die stroom het ons vinnig na die pilare gespoel. Ek het net-net daarin geslaag om ʼn houvas te kry en vas te klou, en kon sien hoe Les soos ʼn seekat aan sy pilaar vashang. Ons het vir ʼn paar sekondes só vasgeklou en toe ons die ladings begin plaas – wat dit vereis het, was dat ons teen die pilare moes opbeweeg sodat ons die presiese afstand vanaf die oppervlakte kon bepaal, die rugsak afhaal, dit teen die pilaar plaas en dit dan vasbind. Dit alles terwyl die stroom poog om jou, jou duikbril en mondstuk van die pilaar af te spoel.

Op daardie oomblik bars alle hel los. Een van die “buddy”-pare het aan die westekant vlakwater ervaar en ʼn wag op die brug het hulle raakgesien. Hy skreeu vir sy kamerade en open vuur, en vir die volgende paar minute skiet hulle onophoudelik en gooi handgranate
in die water. Om te sê dat dit onaangenaam was, sou die onderbeklemtoning van die jaar wees.

Hier is jy besig om ʼn lading van ongeveer 15- tot 20kg plofstof teen ‘n pilaar te plaas en te bewapen terwyl granate oorverdowende skokgolwe rondom jou veroorsaak. Fred is aan sy linkerarm verwond, en Phil het hom na die RV geneem – Gerrie en Pieter, wat in die vlakwater was, het na dieper water uitgewyk, ʼn boomstomp naby die brug gevind en hulle ladings geplaas voordat hul ook RV toe uitgewyk het. Smiley, Henk, Johan, Manuel, Benji en Koos het ook hulle ladings geplaas en padgegee.

Die sterk stroom het vir my en Les vertraag met die plasing van ons ladings, en toe ons uiteindelik klaar was, was die stroom nog nie met ons klaar nie. Toe ons die pilare los, is ons aan die oostekant in ʼn maalkolk ingetrek. Nadat ons uiteindelik uit die maalstroom ontsnap, en ʼn paar honderd meter van die brug af beweeg het, besef ek dat die lading wat vir die oorhoofse veer/vragbootkabel bedoel was, nog steeds aan my linkerarm sit. Ek hoef nie te sê dat dit baie vinnig in die riete op die rivier se oewer beland het nie.

Teen hierdie tyd het die ander 10 spanlede alreeds die RV bereik, waar Phil Fred se wonde behandel was, en op die voorafbepaalde tyd het hulle die RV verlaat en stroomaf na Julius se RV begin beweeg. Julius se RV was nog ure se swem van hulle af, en daar was min tyd om voor sonop daar aan te kom – die meeste van die geswem was op die oppervlakte, gedeeltelik as gevolg van Fred se wond, maar ook om die oorblywende duikvermoë van die suurstofstelle te bewaar.

Ek en Les kon die groep nie inhaal nie, en net na dagbreek, toe ons dowwe ontploffings by die brug hoor, het ek besluit dat ons die water moet verlaat en ʼn oplêplek vir die dag  soek, want teen dié tyd sou die vyand al twee en twee bymekaargetel het en begin soek na wie ookal verantwoordelik was – ek sou graag die reaksie van die Fapla/Kubaanse magte by die brug wou gesien het  toe eers die kajakke in die noorde ontplof het, daarna die veer/vragboot se lading suid van die brug en laastens die ladings aan die pilare self.

In ʼn boek wat deur Fapla uitgegee is, FAPLA – Baluarte da paz em Angola (Bolwerk van Vrede in Angola), het hulle ‘n foto gepubliseer met die voetnota Gedeeltelike aansig van die Cuito Cuanavalebrug, opgeblaas deur ʼn afstandbeheerde vliegtuig gelaai met plofstof …geen kommentaar.

Ek en Les het riete gekry wat redelik ordentlike oorhoofse dekking gebied het, en toe nat, koud en honger tot rus gekom vir wat uiteindelik ʼn baie lang en warm dag in daardie duikpakke sou wees. Vroegoggend het MI-24 aanvalshelikopters en voetpatrollies langs die rivier ontplooi. Ons hoofgroep is twee keer raakgesien en op gevuur. Gerrie, Benji, Henk en Smiley het met hulle pistole teruggeskiet en dit reggekry om te ontsnap en stroomaf uit te wyk.

Hierdie was egter nie die einde van hulle probleme voordat hulle die RV bereik het nie, want op een stadium het ʼn krokodil Fred se paddavoet beetgekry en afgeruk. Gelukkig was daar nie ander skade nie, en die span het amper sewe uur na hulle vertrek vanaf die RV suid van die brug by Julius aangekom. Die dokter het na Fred omgesien en Julius het ʼn span getaak om Fred so spoedig moontlik by ʼn oppikpunt te kry vanwaar hy na die hospitaal in Rundu geneem kon word.

Julius was teen hierdie tyd onder geweldige druk, want hy kon die RV nie veel langer vir my en Les oophou terwyl die vyand besig was om oral stoppergroepe te ontplooi nie – ek was en sal altyd teenoor Julius dankbaar wees dat hy daardie RV vir ons oopgehou het. As hy dit nie gedoen het nie, sou daar ʼn baie lang swem en stap vir ons gewag het om die nood-RV verder suid te bereik.

Laaste lig 26 Augustus 1987 het ek en Les ons “black is beautiful”-kamoeflering opgeknap en die oplêplek verlaat. Ons het op die oppervlakte stroomaf geswem met ons mondstukke en duikbrille om ons nekke onder die oppervlakte. Intussen kon ons nog steeds die vyandelike aktiwiteite hoor, en hulle het baie vure op die rivieroewer aangesteek.

Ek en Les se “buddy”-lyn was nie vas nie, en Les was aan my regterkant toe ʼn krokodil my na ongeveer twee uur se swem aanval. Die krokodil kom van agter af tussen my bene in en slaan sy kake op my agterstewe en dye toe. Volgende oomblik is ek op die rivierbodem en word ek soos ʼn lappop geskud en rondgerol.

Uiteindelik hou die geskud en rondrol op, en alles raak stil om my – al wat ek kan hoor, is die sagte vloeigeluid van die water by my ore verby terwyl ek gesig na onder op die sanderige bodem van die rivier vasgedruk word. Ek dink toe: “Is dit hoe ek gaan sterf?”

Ek skat dit is ʼn kombinasie van uitstekende opleiding deur mense soos majoor Tuffy Joubert, stafsersant Gavin Christie en sersantmajoor Botes, en die oorlewingsinstink wat in so ʼn situasie oorneem – ek het daarin geslaag om my mondstuk in my mond te sit
en te begin asemhaal, en probeer toe om my duikmes, wat aan my linkerbeen vasgemaak is, in die hande te kry. Terwyl ek so spartel om my mes in die hande te kry, hou die krokodil my kalm vas en wag dat ek moet verdrink.

Uiteindelik slaag ek daarin om my mes uit die skede te kry en steek die ding hier agter my. Met die eerste drie steke voel of ek harde hout tref. Met die vierde steek voel ek egter iets sags – ek dink dit was sy regteroog. Ek steek toe so hard en aanhoudend as wat ek kan, en dit is eers na ʼn paar sekondes dat ek besef het dat die krokodil my meteens laat staan het en weg is.

Nodeloos om te sê is ek soos ʼn kurkprop oppervlak toe. Ek soek na Les en vind hom ʼn paar meter stroomaf, waar hy op en af swem en probeer ontdek waarheen ek verdwyn het. Ons het na die westelike oewer geswem en die skade probeer bepaal. Die duikpak het gelukkig
gehelp om die bloeding te beperk, maar ook ons ondersoek bemoeilik; wat egter meer belangrik was, het ons geweet, was dat ons so spoedig moontlik by die RV moet uitkom.

Die krokodilaanval het in ʼn draai van die rivier plaasgevind en ek was nie te gretig om die water weer daar binne te gaan nie, toe besluit ons om ʼn entjie stroomaf te stap en dan te begin swem. Maar toe ons die rivieroewer verlaat is ons dadelik heupdiep in ʼn moeras, en ons het geen keuse gehad nie behalwe om die rivier binne te gaan waar ek dit werklik nie wou doen nie.

Gelukkig was daar geen verdere insidente nie, en ons was ekstasies en verlig toe ons twee uur later, ongeveer 23:00, om ʼn draai in die rivier kom en daar is hierdie tou met die rooi Cyalume-lig daaraan oor die rivier gespan – om nie te praat van die vriendelike
gesigte op die oewer nie. Die doktor het na my wonde op my boude en dye omgesien en die nodige medikasie binne-aars toegedien, terwyl Julius intussen voorbereidings tref om so spoedig moontlik na die oppikpunt te vertrek. Ons het veilig uit die gebied onttrek, en is die volgende oggend deur ʼn chopper opgetel en Rundu-toe gevlieg. Daar is ek op geopereer, nabetragtings is gehou en ʼn paar Red Hearts en Coke is geniet…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae