Hooggeleerde Malene ryg romanzas uit

Liefde genees (Foto: Verskaf)

Al ooit gewonder hoekom mense so dol oor romanzas is? Daardie goedvoel-genre waar daar altyd ʼn gelukkige einde is en dit ononderhandelbaar is dat die held en heldin by mekaar uitkom?

Liefde genees is die jongste titel van die skrywer Malene Breytenbach, wat al duskant 50 romanzas geskryf het.

Dit gaan oor dr. Madeline du Bois wat haar ontroue man soos ʼn warm patat los nadat hy haar met ʼn verpleegster verkul het. In ʼn poging om van haar hartseer te ontsnap, aanvaar sy ʼn nuwe pos by ʼn kliniek in die Kaap.

Daar ontmoet sy die eienaar, die onweerstaanbare dokter Brian Thompson, en die aantrekkingskrag tussen hulle is onmiskenbaar. Albei is egter versigtig. Brian rou nog oor sy oorlede vrou en Madeline is katvoet vir mans.

Benewens die talle romanzas wat Malene geskryf het, het sy ook al kortverhale en romans geskryf.

Dit lyk asof romanzas egter haar gunsteling is. Oor hoekom dit so is aangesien Liefde genees nogal baie om die lyf het en ʼn roman kon wees, antwoord sy: “Dit is vir my lekker om romanzas te skryf. Dit neem ook nie jare in beslag soos ʼn roman nie. Liefde genees sou ʼn roman kon wees, maar dan moet dit heelwat langer wees en meer kinkels in die kabel hê.

“Die verhaal speel af by ʼn inrigting waar baie mense noodwendig werk, vandaar die baie karakters. En vir mediese romanzas moet ek natuurlik ook meer navorsing doen.”

Malene vertel dat sy meestal in die oggende skryf, hoewel dit ook dikwels oorloop na die middag.

“Selde oor naweke, behalwe as ek ʼn bevlieging kry. Ek skryf op my lekkerste as die idees vloei en die storie homself vertel. Somtyds is dit mos maar hakerig, dan los ek dit eers. Môre is nog ʼn dag. Ek wil niks forseer nie.”

Dink sy romanzas kry genoeg respek? Sy het immers ʼn doktorsgraad en was op haar dag ʼn akademikus.

“Ek dink die letterkundige elite dink romanzas is sommer ligte vermaak en maklik om te skryf. Ek glo nie hulle respekteer dit juis nie, maar wat, ons romanza-skrywers woeker voort en die boeke verkoop.

“Ek doen ook navorsing vir romanzas. En ek het al baie idees uit my studies gekry byvoorbeeld uit my ou Nabye Oosterse Studie het seker 3 of 4 boeke gekom wat in Egipte, Palmyra en Israel afspeel. Miskien verbaas my kwalifikasies mense, maar dit het my toegerus met kennis en woorde.”

Die grootste kompliment wat sy al van ʼn leser ontvang het, is van iemand wat sê sy lees al haar boeke en sy doen moeite om boeke wat op Amazon gepubliseer word ook in die hande te kry.

“Die vreemdste is toe iemand my sê, nadat hy Gister is ʼn ver land gelees het (ʼn roman oor Rhodesië/ Zimbabwe) dat hy die Barnards geken het. Maar dis fiktiewe karakters wat vir hom so werklik was dat hy seker gevoel het hy ken hulle regtig.”

Malene Breytenbach (Foto: Verskaf)

Oor raad aan ʼn groentjie-skrywer en die eienskappe waaroor ʼn romanza-skrywer moet beskik, sê sy: “ʼn Groentjie-skrywer is eintlik nog in ʼn leerproses. Ek raai aan, lees baie in die genre waarin jy wil skryf. As jy nie onmiddellik suksesvol is nie, moenie moed opgee nie. Byt vas, leer uit foute en probeer weer. Toewyding bring sukses. Doen navorsing en gebruik woordeboeke. Lesers is nie dom nie.”

Anders as in stoom-romanzas word daar glad nie woes in romanzas gevry nie en die heldinne is beslis nie loslappies nie. Hulle is slim, soms ouer en kan hul voet neersit. Maar kry ʼn mens in die werklike lewe sulke onmoontlike goeie en terselfdertyd skandalig aantreklike mans soos dokter Brian Thompson in Liefde genees?

“Ek skryf romanties en emosioneel, nie woeste vryery nie. Brian Thompson is ʼn ideale man, nè? Miskien skuil sulkes hier en daar. Die heldinne moenie vaaljapies en walk-overs wees nie, dis te flou.

“Dis ʼn mite dat romanzas korsetknakkers en hygromans is. Dis goed geskryfde, verbeeldingryke en goed ingeligte verhale deur skrywers wat weet wat hulle doen, goeie taalgebruik het en lekker situasies skep. Dit gaan nie slegs oor bedsake nie.

Oor die feit dat romanzas so gewild is, sê Malene: “Hierdie boeke laat lesers goed voel, dink ek. Lekker romantiese stories wat hulle uit die vaal alledaagse laat ontsnap, en laat droom (die karakters is mos ideale mense). Dis bekostigbaar en neem nie ʼn ellelange tyd om te lees nie. Gelukkige eindes en opgeloste probleme gee ook ʼn gevoel van bevrediging.”

Soos talle skrywers beskou sy haarself as meer van ʼn introvert.

“En ai tog, ʼn Virgo. Puntenerig tot perfeksionisties. Nie opvlieënd nie en ʼn vasbyter. Los nie maklik as ek my tande in iets (soos ʼn storie) ingeslaan het nie. Beur voort. ʼn Bietjie obsessief. Hopelik nie ʼn hardvogtige ou draak nie, maar een met baie liefde om te gee.”

Malene sit nie stil nie. Sy het pas weer ʼn kortverhaal vir ʼn tydskrif geskryf, maar nou is sy terug by die romanza wat halfpad is, oor ʼn ouer au pair (geen ouderdomsdiskriminasie hier nie!) en die geheime van die hart.

Meer oor romanzas

  • Die uitgewers het die volgende gevind:
  • Dit verlig stres op ʼn natuurlike manier.
  • Jy ervaar ʼn gevoel van emosionele versorging omdat die held die heldin se diepste behoeftes verstaan.
  • Lesers voel dat dit hulle insig in hul eie verhoudingsprobleme gee.
  • Dit dra by tot vroue se bemagtigingsproses omdat die heldin ʼn vrou in eie reg is.
  • Die jongste lesers is tieners en die oudstes is in hul 90’s.
  • Romanza-lesers is die mees belese lesers in die wêreld. Hulle is sterk, intelligente en kreatiewe vroue wat presies weet wat hulle wil hê.
  • Sielkundiges stem saam dat die romanza-lesers warm, vriendelik en sensueel is.
  • Nagenoeg 2 persent van die lesers is mans. Baie lees dit omdat hulle graag wil weet hoe vroue voel en dink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.