‘Hoop, heling & harmonie’: Skrywer ondersoek die taal van siekte

Praat jy van ʼn siektestryd, ʼn geveg om oorlewing of ʼn oorwinningsreis? Die gebruik van metafore is ʼn algemene taalverskynsel wat ook in die taal van geneeskunde aangewend word.

Malcolm de Roubaix, skrywer van Hoop, heling & harmonie, het tydens ʼn Zoom-onderhoud met Maroela Media spesifiek oor die taal van siekte gesels.

De Roubaix voer aan dat metafore pasiënte help om hul siekte beter te verstaan of hul ervaring daarvan te verwoord. Hy benadruk in sy boek dat dokters en ander mediese personeel sensitief moet wees vir die metafore wat die pasiënt verkies om te gebruik, en dat personeel moet probeer om beeldspraak positief en konstruktief aan te wend.

“Geneeskunde se basis is om te kommunikeer,” sê De Roubaix. “Die woorde en metafore wat ons [dokters] kies om siekteprosesse en dit wat in ʼn pasiënt se liggaam aangaan te verduidelik, het ʼn bepaalde invloed op hoe ʼn pasiënt dink en reageer.”

De Roubaix verduidelik dat dié aspek van taal binne geneeskunde hom nog altyd geïnteresseer het. “Ek is besorg oor die manier waarop ons met pasiënte kommunikeer.”

Sy behoefte om die onderwerp te ondersoek het ʼn paar jaar gelede op ʼn interessante wyse ontstaan. De Roubaix was in daardie stadium as medewerker by ʼn internasionale navorsingsprojek betrokke.

“Die projek het sosiale en etiese implikasies van moontlike toekomstige MIV-genesing ondersoek,” vertel hy. Ná ʼn gesprek met een van die medewerkers het ʼn groep van hulle oor die gebruik van metafore in MIV en vigs besin. Dit het gelei tot ʼn navorsingsartikel wat in die American Journal of Bioethics verskyn het.

De Roubaix onderskei tussen verskillende groepe metafore: militêre, oorlogs- en reismetafore. Militêre en oorlogsmetafore beeld siekte of behandeling as ʼn stryd of geveg uit, terwyl reismetafore dit as ʼn wedloop beskryf.

Sy navorsingsresultate, wat deur middel van pasiëntvertellings in sy boek weergegee word, toon dat pasiënte grotendeels negatief oor hul siekte is. De Roubaix se raad is dan om dié negatiewe beskouing met positiwiteit in te kleur.

“Alles in ag genome, is dit die pasiënt se keuse oor hoe hy of sy oor die siekte wil praat,” sê hy. “Moenie saampraat in ʼn negatiewe sin nie. Probeer om die metafoor op ʼn positiewe en vindingryke manier in te kleur soos wat dit by die betrokke persoon se siekte inpas.”

De Roubaix maak ook melding van ʼn nuwe literêre genre waarin mense oor hul ervarings van ernstige siektes skryf. Hy verwys daarna as patografie, oftewel ʼn siektebeskrywing. Dit word veral aangetref by mense wat kanker oorwin het.

Hierdie genre is beskryf as patografie – oftewel biografieë oor patologie (siekteleer) (bl. 166).

In Hoop, heling & harmonie bestudeer De Roubaix die verskillende wyses waarop siekte en behandeling die mens se liggaam, gees en wese beïnvloed.

Hy argumenteer dat siekte ʼn natuurlike verskynsel is wat nie as ʼn straf, demoniese interaksie of metafisiese manifestasie beskou moet word nie. Dit is bloot deel van menswees. Die taal van siekte vorm deel van die groter prentjie wat De Roubaix in sy boek skets.

De Roubaix is ʼn narkotiseur met ʼn doktorsgraad in geneeskunde en in toegepaste etiek. Hy het ʼn breë belangstelling in bio-etiek en het sowat 30 vakartikels gepubliseer. De Roubaix is ook ʼn genoot van die Sentrum vir Toegepaste Etiek, Departement Filosofie, aan die Universiteit van Stellenbosch.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Malcolm de Roubaix, skrywer van Hoop, heling & harmonie. Hy gesels met Maroela Media oor die taal van siekte en hoe pasiënte metafore gebruik om siekteprosesse en behandelings beter te verstaan.

Prys: R290,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Penguin Random House

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.