Hou jou hart vas want Ouma Mollie gaan terug skool toe

(Foto: Verskaf)

Elke kind behoort so ʼn maltrap ouma soos Ouma Mollie te hê. Die lewe bestaan mos nie net uit skoolwerk en dissipline nie.

As jou kleinkinders van 3 en 7 die woorde “weer” en “nog” uitroep as jy die boek nog nie eers klaar gelees het nie, moet jy weet hulle is gek oor Ouma Mollie.

Kyk, sy is nie ʼn waardige tannie met ʼn blou bossiekop-kapsel wat stil in ʼn hoekie sit en hekel nie. Ouma Mollie leef met oordaad, geesdrif en sonder inhibisies. Om die waarheid te sê jaag sy ongelooflik baie strooi aan en dit is presies wat haar so geliefd maak.

Sy is eksentriek.

Hierdie is ʼn lekker voorleesboek, maar ʼn kind in graad 1 kan die Ouma Mollie-boekies ook al self begin lees.

Ouma Mollie se regte naam is Mollewania Mollewiekes Nagtegaal, maar vir haar aanhangers is sy net Ouma Mollie.

Die storie speel op die fiktiewe Seeperdjiebaai af waar Ouma Mollie die grootste moeilikheidmaker is. Tot haar kleindogter, Nina, wat haar meer as ʼn handvol vind en gereeld tot haar redding moet kom, se grootste frustrasie.

In Ouma Mollie gaan terug skool toe onthou Ouma Mollie op een dag dat sy al klaar baie goed vergeet het. Dis geen probleem vir haar nie. Sy gaan maar net terug skool toe, saam met Nina en Blapsie die hond nogal, besluit sy – en niemand kan haar keer nie.

Maroela Media het met die skrywer Fanie Viljoen gesels en hom gevra of hy iemand soos Ouma Mollie ken.

“Nee, maar ek weet van ʼn paar energieke oumas wat nie stuit vir ʼn uitdaging nie,” sê hy.

Hy het net goeie herinneringe aan sy eie oumas. “Ouma Lena was kreatief en kon die mooiste poppe brei. Sy was met die helm gebore en kon lekker lag. Ouma Cilie was ʼn ywerige leser en het die heerlikste koeksisters en anysbeskuit gebak. Sy kon ook pragtig hekel en brei. Mense het tou gestaan om babaklere by haar te koop.”

ʼn Mens wonder of Ouma Mollie nog baie strooi gaan aanjaag. Daarop antwoord Fanie: “Ek vermoed so. Sy dra alreeds die volgende storie aan. Ek sien haar as iemand wat haar lewe voluit leef. Sy gee nie om wat mense van haar dink nie. As sy branderplank wil ry, dan doen sy dit. As sy terug skool toe wil gaan, sal niemand haar keer nie. Sy pak uitdagings vreugdevol en vrolik aan. Eintlik is sy maar soos ʼn kind wat die wêreld van vooraf ontdek.”

Volgens Fanie moet kinderboekskrywers soos ʼn kind dink en die grense van hul verbeelding toets. ʼn Mens kan ook lekker laf wees as jy kinderboeke skryf.

Soos ander kinderboekskrywers, besoek Fanie gereeld skole. Daar is vanjaar reeds vier weke van skoolbesoeke op sy program.

“Die leerders is vreeslik geesdriftig as hulle van die boeke hoor of die skrywer agter die boeke ontmoet. ʼn Bibliotekaresse van Stellenbosch het dit eenkeer raak opgesom: Skrywers moet soos rocksterre vir kinders wees, dis hoekom sy hulle na haar skool nooi.”

(Foto: Verskaf)

Wat was die grootste kompliment wat hy nog van ʼn jong leser gekry het?

“Meer as een tienerleser het al vir my gesê dat een van my boeke hulle laat huil het. Dis lekker om te hoor dat dit lesers emosioneel raak. Ouers is baiekeer dankbaar dat hulle kinders begin lees het nadat hulle een van my boeke in die hande gekry het.”

Dis duidelik dat Fanie kinders goed verstaan, en dit terwyl hy self ʼn kinderlose vrygesel is. Hy preek beslis nie vir hulle nie want hulle hou van stoutigheid.

“As daar ʼn les te leer is, is dit goed verskuil in die boek. Boeke moet eerder vir vermaak gelees word, dit is tog waarom volwassenes ook lees,” sê hy.

Hy het ook al agtergekom dat kinders dikwels reguit kan wees. Die vreemdste versoek of opmerking wat hy al oor sy skryfwerk gekry het, was verlede jaar van ʼn Engelse matriekleerder wat vir hom ʼn boodskap op Instagram gestuur het: “You ruined my whole year!” Sy was ontsteld omdat een van haar geliefde karakters in Donker web sterf.

Watter raad het hy vir nuwe skrywers van kinderboeke, jeugboeke en ander genres?

“Die raad vir alle skrywers is eintlik dieselfde. Moenie dat jou droom net ʼn droom bly nie. Gaan skryf elke dag iets. Maak tyd daarvoor, selfs al moet jy dit vieruur in die oggend doen. Skryf vier of vyf blaaie per dag, en na ʼn maand of twee, het jy die eerste weergawe van ʼn manuskrip.

Fanie het ook al gedigte aangepak soos enkele gedigte wat in bundels soos Nuwe stemme 5, Sterkykers en Toulopers gepubliseer is en sal dalk eendag ʼn digbundel van sy eie op die rakke wil sien.

Oor watter loopbaan hy sou gevolg het as hy nie ʼn skrywer was nie sê hy: ”Skryf is regtigwaar tops, maar ek sou ook nie omgee om heeldag te skilder nie.”

Ouma Mollie-aanhangers hoef nog glad nie van haar afskeid te neem nie. Fanie het reeds Ouma Mollie se derde boek geskryf wat in 2025 verskyn.

Hy het ook pas die laaste boek in die Aksieheld Austin-reeks geskryf. Vanjaar verskyn ook ʼn hele paar nuwe boeke. Die eerste gaan oor ʼn baie spesiale hond, ʼn ander een oor ʼn baie spesiale boekleser, dan is daar ook een oor ʼn vreemde meisie.

“Daar is ook die vertaling van my jeugnovelle Pleisters vir die dooies wat ook in Engels gaan verskyn.”

Terugvoer oor Ouma Mollie is soos ʼn mens maar kan verwag, wonderlik, veral nadat dit op RSG voorgelees is.

Oumas lees ook graag die boeke saam met hul kleinkinders, en natuurlik skater hulle saam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.