Hou kinders só aan die lees


elizabeth-wasserman

Die skrywer Elizabeth Wasserman saam met haar hond wat die inspirasie vir Speurhond Willem is. Foto: Amazon.com

Dit is nie maklik om kinder- en jeugboeke te skryf nie. ʼn Skrywer moet beslis nie hierdie jong lesers onderskat nie. Dit verg ʼn storie met net die regte mengsel van avontuur, romanse, humor en fantasie wat teen ʼn geloofwaardige agtergrond afspeel.

En dit is hier waar die skrywer, Elizabeth Wasserman, se beroep as patoloog haar skryfwerk op ʼn vreemde manier komplimenteer. Sy lê dieselfde noukeurigheid, wat patologie van haar vereis, aan die dag wanneer sy navorsing vir haar kinder- en jeugboeke doen.

Ja, sy doen navorsing vir al haar boeke, of dit nou vir ʼn sesjarige of ʼn 14-jarige bedoel is. “Kinders tel dit maklik op as jy fnuik, nie eerlik is nie en vroetel met feite. Buitendien lees volwassenes ook jeugboeke en dit is dikwels ʼn ma of ouma wat ʼn boek vir ʼn kind moet voorlees,” sê Wasserman.

Sy is veral bekend vir haar gewilde kinderboekreekse soos Die Dingesfabriek, Anna Atoom en Speurhond Willem, maar haar jongste boek Elf dae in Parys is ʼn avontuur vir die effens ouer leser.

In Elf dae in Parys kry Emma ʼn studiereis na Parys vir haar sestiende verjaardag. Dit is die laaste ding wat sy wou hê, maar die stad se skoonheid oorrompel haar vinnig. Boonop ontmoet sy vir Luc, wat haar gids speel en die stad se bes bewaarde geheime oopsluit. In die Orsay-museum gebeur iets vreemds, wat Emma laat besef sy is bestem om op hierdie dag op hierdie plek te wees en dat niks wat tot nou gebeur het, toeval was nie.

Wasserman neem haar lesers op ʼn ontdekkingsreis deur Parys met net die regte hoeveelheid romanse om die storie mooi af te rond: “Ons moet kinders aan die lees hou en dit is veral hier rondom 13 wat ons die Afrikaanse leser verloor, omdat hulle iets meer soek.”

elizabeth-wasserman-elf-dae

Wasserman se jongste jeugboek ‘Elf dae in Parys’. Foto: Nb.co.za

Wat wil hierdie ouderdom se lesers lees? Wasserman glo hulle soek na ʼn groter wêreld, humor en is mal oor fantasie. “Kyk maar hoe gewild stories oor weerwolwe en vampiere deesdae is. Dit kan maar bietjie donker wees, maar hulle soek beslis humor. Die lewe en skool is reeds bedruk, ek dink nie hulle soek nog swaar stories ook nie. Die storie moet lekker wees om te lees.”

Hoe hou ons hierdie kinders aan die lees? Volgens Wasserman is dit eenvoudig: “Kinders doen wat ons doen. As jou kind jou nie sien opkrul met ʼn boek nie, gaan dit vir hom of haar moeilik wees om dit self te doen.”

  • Elizabeth Wasserman het in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen gesels oor haar jongste jeugboek, Elf dae in Parys. Wasserman vertel waar kom die inspirasie vir hierdie boek vandaan en hoekom sy dit juis in Parys wou laat afspeel. Luister na die gesprek in die podsending bo-aan die artikel.
  • Lees meer oor Elizabeth Wasserman en haar boeke op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.