In die niks al om

René Bohnen

René Bohnen se tweede digbundel, in die niks al om, gaan oor die integrasie van hoop en verlies, van die Ooste en die Weste, van verskrikking en verwondering, van platteland en stad.

Die digter bepleit in haar eiesoortige liriese, vroulike stem die opheffing van dogma en die versoening van die polariteite in die wêreld se geloof, taal en kultuur. Sy oorrompel haar leser wanneer sy die wysheid van die onvolmaaktheid besing.

André P. Brink het Bohnen opgeneem in die laaste Groot Verseboek, en haar debuutbundel Spoorsny is positief ervaar. “Daar is meer as genoeg in die bundel om my te oortuig dat René Bohnen ’n eie plek in die eietydse Afrikaanse digkuns kan oopskryf. Dit is ’n belofteryke debuut.” – Bernard Odendaal in Die Volksblad 26 Februarie 2001.

Oor die outeur:
René Bohnen debuteer in 2000 met die bundel Spoorsny. Van haar verse is deur André P. Brink opgeneem in die “geblikte” Groot Verseboek. Gedigte verskyn ook in die versamelings As die son kom oogknip, Woordreise, Honderd Dichters 3, Haikoes – gebede vir die landskap, Oorgange I en Oorgange II, Crossroads of the Century, Electric Juice, Meandering Paths, Klikspringer, asook in Tydskrif vir Letterkunde en Karapaks. Op die internet verskyn haar verse in De Gekooide Roos, en op LitNet. Opdragwerke sluit in ’n gedig vir die kunsuitstalling Skilder met Woorde en Strijdom van der Merwe se installasiekuns Gebede vir die Landskap. René het ’n vers geskryf vir Leán Coetzer se dansstuk Ekstreem wat by Dance Umbrella opgevoer is.

Haar gedigte is voorgelees op Met vers en Klank (RSG), Punt Radio, OFM en MFM 92.6. René is deel van die Bekgeveg-span, asook die Oopmond-span, wat opgetree het by Aardklop en Innibos. Sy het ook twee keer deelgeneem aan New Keys in South African Poetry by UNISA in Pretoria. René neem dikwels deel aan poësie-aande by verskeie restaurante en galerye, waarvan die mees onlangse by Chris Chameleon se CD-vrystelling van Ingrid Jonker-verse was.

Bohnen behaal in 2009 die graad M.A. Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria en wen LitNet se hiperteksgedigte-kompetisie in 2009. Sy is ook een van die wenners van die Mont du Toit Kelder gedigte-kompetisie in 2004. Sy skryf artikels en stories vir Pomp, asook vir Renaissance. Sy het verse gekeur en bespreek vir Digby wat op Saterdae verskyn het. Sy tree ook as fasiliteerder op by kreatiwiteitswerkswinkels, by narratiewe terapiesessies, asook by spanbougeleenthede by die Universiteit van Johannesburg. As digter-fotograaf ondersoek René die verskillende moontlikhede van woord-beeldkuns.

Uitgewer: Lapa
Prys: R120-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.