Ina Bonnette leef weer voluit

Ina Bonnette (Foto: Lozanné Pienaar)

Bykans tien jaar gelede het Ina Bonnette se lewe onherroeplik verander toe sy nie net wreed deur haar gewese man, Johan Kotzé, wat later die “Modimolle-monster” gedoop is, én drie van sy handlangers verkrag, vermink en verneder is nie, maar sy ook haar geliefde seun én alle kanse op privaatheid en waardigheid verloor het, skryf Maryke Roberts.

Met die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders wat aan die einde van die maand afskop, is die mishandeling wat miljoene vroue wêreldwyd ervaar weer in die kollig. Hoe meer vroue hul storie vertel, hoe meer heling kom daar vir ander.

Streng vonnisse teen oortreders is ook deel van hierdie proses. Johan het lewenslange tronkstraf vir die moord op Ina se seun Conrad gekry, 10 jaar vir sameswering en ontvoering, 25 jaar op vier aanklagte van verkragting en 15 jaar vir die skending van haar liggaam. Dit het die tronkstraf in totaal tot op 75 jaar gebring, waarvan hy 25 jaar moet uitdien.

Andries Sithole, Pieter Mohlake en Sello Mphaka het ook baie swaar strawwe ontvang.

Nou, amper ’n dekade na daardie gru-aanval, verskyn Ina se boek, haar eie weergawe van die gebeure. INA, Verhaal van genade en genesing word in die uitgewersnota beskryf as “die merkwaardige verhaal van ’n oorwinnaar, ’n vrou wat wreed oorval en gemartel is deur haar eksman en sy handlangers. Ina moes nie net die onmenslike trauma, pyn en lewensveranderende gevolge van daardie dag verduur nie, sy het ook haar seun aan die dood afgestaan toe hy deur haar aanvaller vermoor is. Hierdie is haar verhaal van oorlewing, genade en uiteindelike genesing.

Dit het pas onder die nuwe Christelike druknaam Luca by Penguin Random House verskyn.

Sy het verskeie operasies ondergaan om die skending van haar liggaam so goed moontlik te laat herstel. Beraders en sessies moes met die emosionele heling help.

Ina is ’n finansiële raadgewer en woon steeds op Modimolle. Sedert haar aanval word sy gereeld genooi om motiveringspraatjies oor wat met haar gebeur het te lewer en hoe om die vroeë tekens van manipulasie en aggressie te identifiseer. Sy doen die praatjies in die hoop dat sy ’n verskil in ander se lewens sal maak.

ʼn Mens wonder of sy nou in retrospek voel sy moes die tekens gesien het. Sy vertel: “Onthou, ʼn meester manipuleerder kan baie goed voorgee, maar hul kan ook nie vir lank voorgee nie. Ek het eers die aand van die troue die tekens op groot skaal ervaar. Inteendeel, ek wens ek kon dit eerder waargeneem het.

“Ek voel skuldig omdat ek in die eerste plek vir Kotzé in ons lewens toegelaat het, en dat my persoonlikheid te sterk was om toe te laat dat ons huwelik van vyf maande skipbreuk ly omdat ek besef het my identiteit, menswees en selfrespek word deur hom vernietig, en toe die keuse gemaak het om uit te stap, wat later maande na die aanval gelei het.

“Ja, ek voel dis my skuld, want ek kon nie tot die troue deur hom sien watse tipe mens hy werklik was nie.”

Die feit dat slagoffers voel die aanval is eintlik hul eie skuld omdat hulle nie die tekens kon sien nie, is een van die redes hoekom vroue nie emosionele mishandeling aanmeld nie. Ina sê: “Hierdie punt lê diep in my hart, want geen persoon verdien enige vorm van mishandeling nie. Die stelling wat altyd gemaak word – ‘maar het jy dit nie verdien nie…’ – niemand verdien enige vorm van mishandeling nie. Elke persoon is geregtig om sy/haar identiteit en voetspore in die lewe af te druk. Ja, die persoon wat in omstandighede vasgekeer is, begin in hom-/haarself twyfel, want dis wat hulle eerste regkry om jou te laat glo. Jy het daarvoor gevra! Jy verdien die tipe mishandeling!

“Glo in jouself, maak daai keuse nadat jy jouself die vraag gevra het: Hoeveel moet ek van myself prysgee om aanvaar te word?”

Terug by die boek: dis ontstellend. Nee, dis meer as dit. Dis afgryslik. Dit laat jou yskoud om die gebeure deur haar oë en lyflike ervarings te lees. By tye is ek naar; soms is ek bang om in my eie donker slaapkamer in te stap voor ek die lig kan aansit. En dan is ek kwaad.

Dis anders as die oorvertelde berigte in die media – dis nie asof daar nie al baie oor die voorval geskryf is nie. Die vlak van gruheid waarmee hy haar wou skend en verneder; iets wat skrywers in spanningsdramas uitdink. Dit kan mos nie regtig gebeur nie?

Maar dit het. Ina was van die begin af bereid om te praat. Die eerste onderhoud het skaars vier weke na die voorval verskyn. Sy vertel dat sy reeds die tweede dag in die hospitaal besluit het om nie in haar omstandighede te stagneer nie. “Ina wou nie net elke dag oorleef nie. Ek was nie bereid om enige kalmeer- of slaapmiddels te neem nie, want ek wil leef en voluit leef.

“Ek het besluit om te praat en te sê: Ina is verneder, maar nie skaam nie. My keuse was om op te staan en lewe te kies.”

Ina Bonnette tydens Kotze se skuldigbevinding op 15 Julie 2013. (Foto: Werner Beukes/SAPA)

Die goed wat met haar gebeur het is onmenslik. Dit was destyds te moeilik om te lees – oral is gewaarsku dat dit nie vir sensitiewe lesers of kykers bedoel is nie.

Die foto van haar en haar dogter onder ’n lig-en-donkergroen sambreel wat ’n paar jaar gelede in die media verskyn het, het ’n diep indruk op my gemaak. Hoe gaan jy as vrou voort met jou lewe? Hoe magteloos voel jy as dogter dat iemand dit aan jou geliefde ma kon doen? Ek weet nie of ek sou kon nie.

Maar dan, as jy vir Ina daardie vraag 11 jaar gelede gevra het, sou sy ook seker nie kon droom dat sy dit sou oorleef nie.

Johan is destyds as psigopaat gediagnoseer. Christiaan Bezuidenhout, ’n professor in kriminologie aan die Universiteit Pretoria, skryf in ’n hoofstuk in die boek oor die verskil tussen narsiste en psigopate. Ook dat narsisme dikwels vir versagtende omstandighede deur prokureurs en advokate gebruik word, om ligter strawwe vir kliënte te verseker omdat die narsis se toerekeningsvatbaarheid betwis kan word.

Terug by Ina se verhaal. Sy vertel my dat sy besluit het om die boek te skryf toe sy vir die eerste operasie aan haar voete in 2013 tussen vier mure vasgekeer was. “Die haat het my klaargemaak. Ek het ’n pen opgetel en ink op papier gesit om my beter te laat voel. Die skryf was op daardie stadium meer ’n proses om te ontlaai en die seer binne uit te haal.”

Sy sê hierdie boek was deel van haar gesondwordproses. Die boek handel oor haar reis sedert daardie aaklige dag, nie oor haar hele lewe nie. “Die boek is nie die biografie van my lewe nie. Almal het gedink my lewe het in 2012 handomkeer verander, maar lank vooraf het ek telkemale voor keuses gestaan: selfmoord, verwyte en dan die keuse van opstaan en nie gaan lê nie. Keuses om die Here beheer oor en in my lewe te gee. My lewende getuienisse, hoe die Here sy hand oor my gehou het, my sterk gehou het dat ek as ‘slagoffer’ die oorwinning as oorwinnaar kan vier, is nie in die boek nie.”

Sy skryf in haar boek dat die vonnisoplegging een van die gelukkigste dae in haar lewe was. “Ek wou vir ander slagoffers wat te bang is om aanrandingsake of verkragtings aan te meld, wys dit sou nie vergeefs wees nie. Ek het nooit vir blootstelling rondom die saak gevra nie en het nooit in my lewe gedink ek sou só in die openbare oog gegooi word nie, maar ek moes dit deurvoer en sterk bly, want ek wou hê die wêreld moes weet wat die monster aan Conrad en aan my gedoen het.”

Sy sê ook dat sy die boodskap wou versprei dat slagoffers nie moet stilbly nie. “Geen slagoffer moet ooit te skaam wees of stilbly nie, want dié soort mense moet uit die samelewing verwyder word.”

Ek vra of sy dinge anders sou hanteer as sy nou terugkyk. Sy glo en vertrou sy sou als dieselfde hanteer het, want sy het voor ’n keuse gestaan, vertel sy.

Die keuse van opstaan en praat het ook baie kritiek ontlok. Ina vertel: “Die prys van opstaan en praat was verseker die moeite werd, want die Here gebruik my as ’n instrument om sy grootheid te verkondig en om te vertel watse onreg Sy kind deur Kotzé aangedoen is; om mense die gevaartekens uit te wys waarmee ek vyf maande lank moes cope.

“O ja, kritiek was daar, maar ek sê weer, wie gee enige persoon die reg om enigiemand te oordeel? Inteendeel kan hul net dankbaar wees dat hul nie in sulke omstandighede geplaas is nie. Ek het my kop ten alle tye hoog gehou, want my troos was dat die Here my enigste getuienis was om te kon verklaar wat werklik daardie dag gebeur het en ook hoe ek my lewe gelei het.

“Natuurlik het Johan toe appèl teen sy vonnis aangeteken en die hel het van vooraf begin, want sê nou hy slaag?”

Ina Bonnette glo daar is ‘n beter môre. (Foto: Lozanné Pienaar)

Ina skryf dat ’n vrou wat ’n slagoffer van misbruik, onmenslike vernieling en liggaamsontering was, 200% meer energie gebruik om elke dag op te staan en haar lewe voort te sit.

Sy eindig haar boek deur te sê dat sy geensins die behoefte koester om intens by iemand betrokke te raak nie. Ná die boek reeds vir redigering en publikasie weggestuur is, kom daar toe egter wel iemand oor haar pad. Weer is geluk haar nie beskore nie en ’n dierbare vriend wat haar gehelp het om waarlik te begin heel, wat haar onvoorwaardelik liefgehad het, sterf aan Covid.

Waarheen nou? Sy is weer op ’n kruispad. Sy sê die kruispad het net weereens die besef gebring dat ʼn mens nie die woord “nooit” moet gebruik nie. “Ek is gekoester en het gesond geword. Dis iets wat ek altyd sal koester. My geloof is wat my elke dag staande hou. Ek dank die Here elke dag dat Hy my sterk gehou het en steeds sterk hou om my lewe voluit te leef.”

Ina sê vroue wat mishandel of gemanipuleer word, maar te bang is om pad te gee, moet hulself afvra: “Verdien ek dié manier van behandeling in ’n verhouding of huwelik? Hoeveel moet jyself prysgee om aanvaar te word? Hoeveel keer dink jy moet jy vergewe en weer probeer?”

Sy sê: “Erkenning is die antwoord: as jy by erkenning kom van jou situasie en omstandighede, maak dit bekend, moenie stilbly nie, want as jy uitstap, is daar net weer iemand anders in jou plek. Staan op! Maak daai keuse.”

Sy verwyt haarself dat sy nie gouer opgetree het nie. “Ek het vyf maande in ons huwelik uitgehou. Ek vra myself oor en oor of dinge anders sou gewees het as ek vroeër gepraat het, of sou die datum van gebeure net verskuif het?”

Sy formuleer nie gesprekke in haar kop oor wat sy vir Kotzé sou sê as sy hom ooit moes raakloop nie. Inteendeel, vertel sy: “Ek bid dat ek hom nooit hoef raak te loop nie, en dat die regstelsel nie ’n slagoffer in die steek sal laat met vroeë parool nie.”

Vir al die onbeantwoorde waaroms en hoekoms wat by jou mag opkom nadat jy die boek gelees het, vat Rhona van Niekerk, kliniese maatskaplike werker en kriminoloog in privaat praktyk, se woorde dit vir my die beste vas: “Ina het nie toevallig trauma ervaar nie, en sy het nie toevallig hierdie boek geskryf nie. Sy is instrumenteel in elke slagoffer se lewe en haar doel is om aan ander te demonstreer hoe om weer voluit te kan leef, ten spyte van beheer wat van jou weggeneem word.

Ina glo: “Daar is ’n beter môre as ’n slegte gister ná mishandeling.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
RS

So n pragtige vrou. Baie sterkte met die boek.

skinderbek

Hy moet nooit weer uit die tronk kom nie , mag dalk vergelding soek.

Erika

Sy is so mooi dame. Goed versorgd. Baie sterkte met die boek.

Genis

Baie netjiese, en mooi vrou, alle sterkte, en mag daai moster nooit weer vrye toegang buite ervaar nie…