Ina Bonnette se verhaal van genade, genesing

Hier volg ʼn uittreksel uit Ina, ’n verhaal van genade en genesing deur Ina Bonnette.

***

’n Vrou se grootste vrees

Vivienne het vir Marinus buite op die stoep aangetref, waar hy vir Conrad gesit en wag het. Sy het hom gevra waar Kotzé is. Hy het geantwoord: “Tannie, ek weet nie. Die oom het my buitekamer toe gestuur toe ek en Conrad hier opgedaag het, en toe ek nie kon kry wat die oom my gevra het om te gaan haal nie, het ek teruggekom hiernatoe. Die oom het net daarna met die Fortuner by my verbygejaag uit die jaart uit. Ek weet nie of Conrad saam met hom is nie.”

Marinus het gevra of hy in die huis mag ingaan om die toilet te gebruik. In dié tyd het Vivienne vir Dirk teruggebel en Marinus se nuus oorgedra. Sy het vir hom gesê die voordeur staan oop. Marinus het op pad badkamer toe verby die kamer geloop waar ek was. Die deur was egter net op ʼn skrefie oop, en hy kon nie binne die kamer sien nie. Die volgende oomblik het hy iemand op die vloer van die kamer langsaan sien lê. Hy het uitgehardloop en vir Vivienne geskree om te kom kyk, want daar lê iemand op die vloer. Hy het toe nog nie besef dit is Conrad nie. Vivienne was nét van plan om te ry toe hy haar roep. Sy is saam met hom die huis in. Ek het hul stemme gehoor, maar ek het onmiddellik gevries en weer vreesbevange geword. Ek het nie geweet wie buite die deur is nie.

Kotzé het immers gesê: “Moenie dink as iemand hier opdaag, dis mense wat jou gaan help nie. Dis jou volgende aanvallers.” Ek het my oë toegehou en erg benoud geword van vrees. Die volgende waarvan ek bewus was, was ʼn stem wat vra: “Ina, is jy oukei?”

Ek het doodstil gelê, want Kotzé se laaste woorde het in my kop bly eggo dat nóg aanvallers op pad is. Dit was eers met die volgende en dringender “Ina, is jy oukei?!” dat ek my voete beweeg en my oë oopgemaak het en vir Vivienne daar sien staan het.

Ek het haar geken, want sy en Dirk is kliënte van my. Hulle was toevallig met Kotzé bevriend. Ek was verlig, want ek kon die bekommerde en verwarde uitdrukking op haar gesig sien. Toe het die werklikheid ingesink: Ek word gered uit hierdie hel waarin ek my bevind. Hulp het uit eindelik opgedaag! Ek word gered nadat ek vir meer as twee en ʼn half uur vasgebind en gemartel is. Trane van dankbaarheid het vrylik geloop.

Vivienne, wat my steeds met ʼn geskokte uitdrukking op haar gesig aangestaar het, het nie geweet wat sy moes doen nie. Ek het met my oë gewys na die draadknipper wat op die bedkassie agtergebly het. Sy het dit gevat en die kabelbinders om my regterhand losgeknip. Ek het die knipper by haar gevat en self die binders om my linkerhand losgesny. Dit was ʼn gesukkel, want met al die gestoei en ruk het dit bitter styf om my polse getrek. Ek het die kleefband van my kop afgepluk en vir haar geskree: “Waar is Kotzé? Waar is die drie mans wat my verkrag het?”

Intussen het Marinus in die kamerdeur verskyn. Hy het weer vir Vivienne gesê daar lê iemand in die kamer langsaan op die vloer. Ek het dit gehoor en geweet dis Conrad. Op daardie stadium het ek probeer om my klere aan te trek en my liggaam bedek te kry, maar ek kon nie die hemp oor my beseerde borste verdra nie. Ek het nietemin gestrompel na die kamer langs die een waarin ek aangehou is. Ek het langs Conrad op my knieë neergesak en aanhoudend geroep: “Boeta… Boeta!”

Daar was geen reaksie nie. Ek het my hande onder sy lyf ingedruk om hom op te tel, maar dit was gevoelloos weens die knelling van die kabelbinders. Ek het opgespring en my vuiste só hard teen die kamerdeur geslaan om die bloedvloei terug te kry dat die deur uit die kosyn geskeur het. Ek het teruggesak tot op my knieë.

Ek wou net my kind optel.

Met die omdraai het ek reeds geweet my kind lewe nie meer nie – hy lê leweloos daar op die vloer. Conrad was dood. Ek het die wonde aan sy knie en bors gesien. Sy lip was ook bloedbevlek. Ek het opgespring en histeries vir Vivienne-hulle geskree: “Hier moet ons uitkom en wegkom voordat Kotzé terugkom en ons almal doodskiet!”

Vivienne het histeries vir Dirk gebel. Ek het uit die huis tot by haar motor gestrompel. Op pad na die Modimolle-polisiekantoor het Marinus verskeie kere probeer om weer my ouers te bel, maar hulle was nog op die pad na Modimolle toe en het steeds geen sein gehad nie. My ma-hulle was baie ontsteld ná Kotzé se oproepe en het keer op keer tevergeefs vir my en Conrad probeer bel. Toe hulle geen antwoord kry nie, het hulle sesde sintuig ingeskop en hul genoop om self te kom kyk wat aangaan.

By die polisiekantoor het ek uit die motor gespring en struikelend na binne gehardloop om te rapporteer wat gebeur het. Ek het hulle gevra om dadelik iemand na my ouers se hoewe te stuur. Ek het die gevoel gehad Kotzé was op pad na hulle toe. Hulle het die Bela-Bela-polisiekantoor in kennis gestel om beamptes uit te stuur. Die polisie is na die misdaadtoneel, terwyl Vivienne my onder die leiding van ʼn klomp polisiebeamptes na die dokters se spreekkamers in Modimolle gehaas het.

Ook Dirk het intussen by die polisiestasie opgedaag. Toe my ouers by my woonstel aankom, het hul foon gelui. Dit was Pieter van Rooyen, Sam se swaer, wat saam met hulle op die hoewe bly. Hy het gevra waar hulle is, want die polisie is op soek na hulle. Een van Bela-Bela se polisiebeamptes, wat pas by my ouers se woonplek opgedaag het, het my pa aangesê om dadelik na die polisiestasie in Modimolle te gaan.

By die polisiekantoor het hulle gehoor wat gebeur het. Hulle is ook ingelig dat ek saam met die polisie dokter toe is. My ouers het dadelik na die spreekkamer gekom. Ouboet Dawid het by ons broer Gert van die gebeure gehoor en direk van sy werk in Rustenburg na Modimolle gejaag om my en ons ouers die aand te kom bystaan. Dawid wou met alle mag vir Kotzé gaan soek.

Barry Badenhorst het ook my ouers kom ondersteun. Ek het histeries by die spreekkamers begin huil, terwyl die dokter my ondersoek het en al die nodige toetse gedoen het wat ʼn mens ná so ’n gebeurtenis sou verwag.

Daar het die werklikheid my getref en het ek besef my kind is vermoor.

Ná die behandeling en ondersoeke is ek onder polisiebegeleiding na my woonstel toe om skoon klere te gaan haal. Barry het ons daardie aand gehelp om ʼn veilige heenkome te kry sodat Kotzé nie sou weet waar ek was nie. Die polisie kon nie vir ons ʼn plek van veiligheid bied nie. Hulle het die aand slegs saam met ons na die oornagplek gery, maar hulle het nie agtergebly om ons te beskerm nie.

Sam en sy vriendin Natasha het ook by my woonstel opgedaag. Ek het nie veel gepraat nie. Dokter Johan van Rensburg, wat my vroeër bygestaan het, het vir my ʼn sterk kalmeermiddel gegee, en my tong het erg gesleep. Ek was ook nie werklik in staat om te praat nie. Ek was erg getraumatiseer en emosioneel. Feitlik almal het my deurgaans van alle kante met vrae bestook, maar ek het besluit om met niemand te praat nie. Dáárvoor was ek fisies en emosioneel te stukkend. Al wat ek wou doen, was om in ʼn warm bad te klim om die reuke van my liggaam af te skrop. Natasha het my by die badkamer ingehelp.

Terwyl ek in die bad was om my lyf skoon te probeer kry, het die vrae in my gedagtes bly opkom: Hoekom Conrad?! Hoekom! Hoekom? Hoekom?

***

Oor die boek

Ina, ’n verhaal van genade en genesing is die merkwaardige verhaal van ʼn oorwinnaar, ʼn vrou wat wreed oorval en gemartel is deur haar eksman en sy handlangers. Ina moes nie net die onmenslike trauma, pyn en lewensveranderende gevolge van daardie dag verduur nie, sy het ook haar seun aan die dood afgestaan toe hy deur haar aanvaller vermoor is. Hierdie is haar verhaal van oorlewing, genade en uiteindelike genesing.

Oor die skrywer

Ina Bonnette is in Rustenburg gebore en het in ʼn liefdevolle huis grootgeword. Sy het ʼn suksesvolle loopbaan en spreek gereeld vroue toe oor wat met haar gebeur het en hoe om die vroeë tekens van manipulasie en aggressie te identifiseer.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House, verskaf. Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chantel ·

Ek het na haar onderhoud gisteraand geluister en het in afgrys gedink waardeur sy moes gaan. Sy is ‘n inspirasie vir baie vrou. Sterkte met jou pad voorentoe Ina

Esme ·

Ina, baie geluk met jou boek. Dit vat ‘n gekweste vrou om op te staan. Ek is so onmenslik trots op jou – jy het nie net vir jouself gepraat nie, maar vir elke vrou wat op soveel maniere mishandel word. Ek weet jou boek gaan ‘n wenner wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.