Ingrid Jonker, die misterie duur voort

(Foto: Verskaf)

Byna 60 jaar na haar dood word mense steeds deur die tragiese digter, Ingrid Jonker, gefassineer.

Die papie roer en ek word digter, is ʼn bundel waarin Ingrid se Ontvlugting, Rook en oker en Kantelson opgeneem word. Dit is onlangs deur Protea Boekhuis uitgegee.

In ʼn onderhoud met haar dogter, wyle Simone Jonker vir Vrouekeur ʼn klompie jare gelede, het sy vertel dat haar ma ongeveer 100 gedigte geskryf het waarvan party verlore gegaan het.

Simone, wat maar sewe jaar oud was toe Ingrid oorlede is, het die meeste van haar gedigte vertaal.

Sy het vertel dat sy nog kon onthou hoe haar ma voorlesings in hul woonstel in Kaapstad op ʼn bandopnemer gedoen het.

“Ek het my verwonder aan haar stem wat soos die eggo van die see geklink het.”

Anders as wat die geval met haar ma was wat ongelukkig in die liefde was, het Simone destyds vertel dat sy self ware liefde met Ernesto Garcia Marques gevind het en het hom beskryf as “ʼn barmhartige mens met ʼn ongelooflike smaak in musiek en die kunste”.

Haar ma se verdrinking was haar grootste nagmerrie, het sy vertel. Sy was ontsettend lief vir haar pa, Piet Venter.

“Hy was so ʼn interessante mens. Sy kleresmaak was eksentriek. Hy het kaftans en ʼn oorbel gedra en sy hare was lank. Hy was jare lank ʼn vertaler vir Anglo American.”

Sy het Karina Brink (skrywer van die 5de Mevrou Brink) net een keer ontmoet toe sy na haar huis vir ete genooi is en sy André P Brink se studeerkamer vir haar gewys het.

Simone het gedink hulle was dankbaar dat sy toestemming gegee het dat Vlam in die sneeu gepubliseer word.

Toe sy André ontmoet het, was hy al oud en in ʼn rolstoel. Sy het vir hom jammer gevoel.

Natuurlik wou sy ʼn pa gehad het, want sy wou haar ma wat vir haar mooier as Marilyn Monroe was gelukkig sien.

Sy en haar ma was soos susters en het baie oor haar gedigte gepraat. Simone het haar aangemoedig om die gedigte vir haar voor te lees. Sy het wel geweet sy was uitsonderlik, het sy vertel.

“Ek het gevoel ek moet haar oppas want sy was so weerloos en klein. Op ses jaar was ek lank en het tot bo haar maag net onder haar borste gestrek. Dis hoekom ek gevoel het sy was soos die kind en ek soos die ma.”

Prof. Louise Viljoen wat jare gelede ʼn kort biografie oor Ingrid Jonker geskryf het, sê in die inleiding in Die papie roer en ek word digter, dat Jonker se werk hoofsaaklik in die lig van haar persoonlike omstandighede gelees word.

Gevra of sy dink die belangstelling in die besonderhede oor Ingrid se tragiese lewe oorheers die belangstelling in haar digkuns, sê sy: “Die feit dat sy so ʼn tragiese lewe gehad het en so jonk gesterf het, is ʼn gegewe maar daar is tog iets van haar verse in mense se bewussyn.”

Sy verwys na die bekende strofe in “Ontvlugting” wat die eerste gedig in haar eerste bundel is; “My lyk lê uitgespoel in wier en gras.”

Die Kind” is ook universeel bekend, maar dit het ook buite die grense van Suid-Afrika oorleef.”

Sy sê talle boeke het ʼn lewensduur en is vlugtig, maar gedigte word onthou.

“Ingrid se verse het hierdie lieflike liriese element, maar ook ʼn donker toon wat mense aanspreek. As sy maar net toevallig ʼn meisie was wat selfmoord gepleeg het, sou mense nie van haar geweet het nie.

“Oudpres. Nelson Mandela het in 1994 uit die gedig aangehaal, maar Oliver Tambo het dit al vroeër in 1987 by ʼn kongres in Zimbabwe gedoen. Die vertaalde gedig is ook al in die sestigerjare in Drum-tydskrif gepubliseer.”

Louise skryf in haar inleiding in die boek oor Ingrid se “stormagtige kinderlikheid en haar nimfagtige seksualiteit”.

Prof. Louise Viljoen (Foto: Verskaf)

Die aanname was dat mans haar lewe verwoes het, maar Louise vertel ook dat sy oor ʼn seksualiteit beskik het wat mans aangetrek het.

“Ek dink Jack Cope was die groot liefde van haar lewe. Die mans was betower deur haar, maar sy was emosioneel so kompleks dat sy hulle uitgeput het.

“ʼn Mens lees in Jack Cope se dagboeke; Ingrid thee I love, and thee I hate. André P Brink wat die boek Orgie op hul verhouding gebaseer het, het besef dat dit uitmergelend sou wees om saam met haar te leef.

“Baie mense fokus sterk op haar kinderlikheid en seksualiteit, maar hou in gedagte sy was daarnaas ook ʼn veelkantige, kreatiewe mens en ʼn vakman. Die suggestie was dat sy die gedigte in ʼn impuls geskryf het, maar sy het behoorlik aan haar werk geskaaf,” sê Louise.

“Sy was ook ʼn politiese skrywer en deel van die kring van die Sestigers en het politieke vergaderings bygewoon. Dit blyk duidelik as ʼn mens kyk na die briefwisseling met Jack Cope en André P Brink.”

Louise sê ook dat Ingrid as enkelma gesukkel het om te oorleef en om werk te kry wat behoorlik betaal. Sy was arm en het volgens verskeie bronne honger gely. Sy kon glad nie op die mans in haar lewe steun nie.

“Dit was duidelik in een van die foto’s wat kort voor haar dood vir die destydse tydskrif, Ster, geneem is dat sy baie depressief was.

“Simone het langs haar gestaan en glimlag en ek dink Simone het vir haar gesê sy moet glimlag vir die fotograwe en dat sy verantwoordelik vir haar ma gevoel het. Sy moes ʼn soort las gedra het dat sy haar ma moes opbeur.”

Louise meen Ingrid se bekendste gedigte is “Ontvlugting”, waarin dit klink asof sy haar eie dood voorspel het, wat sewe jaar voor haar dood geskryf is. “Korreltjie sand”, “Swanger vrou”, “Die kind”,Kabouterliefde” en “Toemaar, die donker man” is ander bekende gedigte.

“Mense praat graag oor ʼn soort kinderlikheid in haar werk, maar as jy verder kyk, is die gedigte nogal donker. Ek dink dis wat mense aantrek. Op die oppervlak lyk dit vrolik, maar daar was ook ʼn diepte in die gedigte.

Die kind” was die gevolg van politieke omstandighede na ʼn voorval in Nyanga wat deel uitgemaak het van die opbouende politieke spanning na die Sharpeville-slagting waarin 69 mense doodgeskiet is tydens betogings teen die paswet.

“Hierdie werk kan dus gereken word as ʼn bydrae tot die Sestigers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.