Internasionale eer vir Afrikaanse skrywer

Jaco Jacobs (Foto: Facebook)

Die gewilde Afrikaanse jeugboekskrywer Jaco Jacobs het Woensdag aan Maroela Media vertel hy is in die wolke nadat die wêreldwye regte vir die Engelse vertaling van sy boek ’n Goeie dag vir boomklim pas verkoop is.

Jacobs het vertel die Londense uitgewery Oneworld Publications het vroeër ’n aanbod gemaak om die vertaalregte te bekom nadat ’n gedeeltelike proefvertaling van Jacobs se boek as deel van die internasionale In Other Words-projek aan uitgewers beskikbaar gestel is.

Die bekroonde vertaler Kobus Geldenhuys was vir dié Engelse vertaling verantwoordelik. Hy sal ook die res van die vertaling behartig.

“Dit is heeltemal onverwags en ʼn wonderlike voorreg,” het die skrywer vertel. “Hoewel Afrikaanse boeke deesdae redelik baie blootstelling oorsee geniet, gebeur dit min dat Afrikaanse jeugboeke dieselfde blootstelling kry – dit is juis daarom vir my ʼn baie groot voorreg.”

Uitgewers van reg oor die wêreld is vroeër genooi om kinder- en jeugboeke wat in ander tale as Engels verskyn het, vir die In Other Words-projek voor te lê. ’n Goeie dag vir boomklim is een van slegs vier boeke wat uiteindelik as eretitels aangewys is.

Miemie du Plessis, bestuurder van die kinder-en-jeugboekafdeling van Lapa uitgewers, het Woensdag in ʼn verklaring gesê die organisasie is trots daarop dat Oneworld hulle vertroue in Jacobs geplaas het.

“Oneworld het ’n uitstekende reputasie en is bekend vir sy passie en daarom is ons baie trots. Ongeveer ’n miljoen kopieë van Jacobs se boeke is verkoop sedert hy as 21-jarige by Lapa begin publiseer het en hy is geliefd onder lesers. Hy is ’n meesterlike storieverteller en verdien dat sy werk aan ’n groter gehoor bekend gestel word,” sê sy.

’n Goeie dag vir boomklim is in 2016 met die kykNET/Rapport-prys in die filmkategorie bekroon, en die rolprentregte is onlangs aan M-Net toegeken.

Jacobs vertel oor die ontstaan van ’n Goeie dag vir boomklim

“Ek gaan so drie of vier keer per jaar op ʼn skoletoer om meer oor my boeke te vertel. Dit was in 2014 toe ek juis op so ’n toer saam met my skrywersvriend Fanie Viljoen was. Ons het by dieselfde gastehuis tuisgegaan en ek wou die middag ʼn uiltjie gaan knip. Omdat daar op daardie dag ʼn rock-groep by die gastehuis was, kon ek natuurlik nie ʼn oog toemaak nie.

“My kamer was op die tweede verdieping en ek het op my bed gelê en buitentoe gekyk. Buite was ʼn groot boom en ek het gewonder hoe dit sou lyk as twee kinders boomklim in dié boom wat so amper lyk asof hy vir dié sport gemaak is. Daardie aand het ek vir Fanie gesê ʼn idee het begin broei en die res is geskiedenis …”

’n Goeie dag vir boomklim is ’n humoristiese, deernisvolle verhaal oor Marnus – ʼn gefrustreerde middelkind wat een Desembervakansie saam met ’n vreemde meisie bo in ’n boom beland in ’n poging om te keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag.

Die boek is by toonaangewende handelaars asook direk by Lapa uitgewers beskikbaar. Kontak Lapa by 012 401 0700 of besoek ons hul webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.