Internasionale lof stroom in vir Afrikaanse kinderboekkoning

Jaco Jacobs kuier by Maroela Media. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die kinderboekkoning Jaco Jacobs skop 2024 op ʼn hoë noot af nadat die Nederlandse vertaalregte vir sy boek, Die meisie met vlerke, deur Uitgeverij Ploegsma bekom is.

Uitgeverij Ploegsma, ʼn afdeling van WPG Kindermedia, bestaan al meer as 100 jaar en is ʼn vooraanstaande Nederlandse uitgewer van hedendaagse en klassieke kinder- en jeugboeke.

“Ek is baie opgewonde dat dié boek deur Ploegsma vertaal en gepubliseer sal word. Die verhaal lê my naby aan die hart. Dit is ʼn verhaal oor om anders te wees en om jouself te aanvaar, en dit is wonderlik dat hierdie ‘meisie’ nou haar vlerke oorsee uitsprei,” sê Jacobs.

Dié storie vlieg reeds hoog, te danke aan verskeie ander erkennings. Die meisie met vlerke se Engelse weergawe, The Girl with Wings, wat deur Kobus Geldenhuys vertaal is, het onlangs ʼn plek in die White Ravens Internasionale Jeugbiblioteekkatalogus van 2023 verower.

Hierdie katalogus verskyn jaarliks en word deur taalspesialiste by die Internasionale Jugendbibliothek in Duitsland (Internasionale Jeugbiblioteek / IYL) saamgestel. Dit sluit onlangs gepubliseerde boeke van uitsonderlike gehalte van regoor die wêreld in.

Die meisie met vlerke is ook deur die Internasionale Raad op Boeke vir Jongmense (IBBY) in Suid-Afrika vir die IBBY-erelys 2024 in die skryfkategorie gekies. Nog een van Jacobs se boeke, Die boekwinkel in die wolke, wat deur Geldenhuys in Engels as The Bookshop in the Clouds vertaal is, is ook vir die IBBY-erelys benoem, in die vertalingskategorie.

Uitgeverij Ploegsma het reeds drie van Jacobs se boeke in Nederlands gepubliseer: Benewens Die meisie met vlerke ook ʼn Goeie dag vir boomklim (in Nederlands met die titel, Een mooie dag om in een boom te klimmen) en Dinge wat ek nie van skape geweet het nie (in Nederlands met die titel, Dingen die ik niet over schapen wist).

Jacobs meen dit is ʼn plesier om saam met Ploegsma te werk, en dat sy boeke en stories met groot entoesiasme in Nederland ontvang word. “Die terugvoer wat ek tot dusver ontvang het van die media tot boekwinkels, biblioteke en lesers, het my lekker verras. Die Nederlandse kinderboekbedryf is ongelooflik opwindend en lewendig.”

Pan Macmillan, wat Die meisie met vlerke en verskeie ander boeke deur Jacobs uitgegee het, het die goeie nuus Donderdag verder ʼn hupstoot gegee met die aankondiging dat nog vertaalregte vir een van Jacobs se boeke bekom is.

Regte vir die Portugese publikasie van Jy is ʼn wens, ʼn prenteboek met illustrasies deur Tumi Steyn, is deur die Brasiliaanse uitgewer Viajante Do Tempo verkry.

Bykomende bron: Ploegsma

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.