Irna van Zyl: Van veelsydige joernalis tot misdaadskrywer

Irna van Zyl. (Foto: Joanne Olivier)

Die joernalis, sakevrou en skrywer, Irna van Zyl, se derde speurroman, Bloedsteen, het in Maart by Penguin Random House verskyn. Sy gesels met Maryke Roberts oor die sprong van joernalis na kreatiewe skrywer, haar lewe in die Kaap, en wat volgende op haar wag.

As daar een woord is wat by hierdie vrou pas, is dit veelsydigheid. Irna van Zyl is bekroon en bekend op verskeie gebiede in Suid-Afrika: In 1981 wen sy die Stellenbosch Boerewynmakery se prys vir ondernemende joernalistiek vir die vloedrampe by Laingsburg. Sy word Die Burger se eerste vroulike hoofsubredakteur in 1985, en in 1988 redakteur van De Kat in Johannesburg.

Sy verlaat De Kat in 1996 en trek terug Kaapstad toe, waar sy in 1998 New Media Publishing saam met John Psillos, Naomi Herselman en Sheldon Cohen stig. Kort daarna word sy ook redakteur van Insig en van 2007-2009 redakteur van Boeke-Insig. New Media Publishing is, onder meer, verantwoordelik vir die restaurantgids en -kompetisie, EAT OUT; ook finweek, Food24 en VISI.

Sy tree in April 2015 uit as redaksionele direkteur van New Media om haar voltyds op kreatiewe skryfwerk toe te spits. In dieselfde jaar is sy deur Media24 met die Piet Cillié-prys vereer vir haar joernalistieke loopbaan, asook deur Naspers met die Orde van Tafelberg vir haar bydrae as sakevrou aan die Naspers-groep.

Haar debuutroman, Moordvis, is in 2016 bekendgestel. Dit word in Engels vertaal as Dead in the Water en in 2018 verskyn die tweede boek, Gifbeker, met dieselfde speurder en ander karakters. Dis in Engels vertaal as Death Cup. Hierin kom haar liefde vir kos en haar toewyding tot die restaurantgids sterk na vore. Sy gebruik beide die kosskrywer-wêreld en die restaurantkompetisie as temas in haar boek.

Sy het ook ’n kortverhaalbundel, Grootmensspeletjies, in 1995 gepubliseer.

In haar jongste misdaadroman is dinge ’n warboel wanneer speur-adjudant Storm van der Merwe se ma voor ’n trein op Paddington-stasie beland. Sy is gestamp en Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ’n moordsaak besig: die bekende Suid-Afrikaanse mode-ontwerper, Beebee Bukelwa Babu, se lyk word in ’n luukse hotel op Hermanus gevind. Dit blyk selfdood te wees, maar iets krap aan Storm.

Die dorp word egter lamgelê deur protesaksies en daar is maar min hulp – of simpatie – met Storm en haar moordsaak. En om nie eens te praat van die charismatiese gesluierde “profeet” wat skares tot ’n histerie opsweep nie.

Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ’n teiken. Maar wanneer sy haar na haar pa, brigadier Lewis Witvoet wend, loop sy haar teen ’n muur vas. Hy steek iets weg en sy besef dat sy nie haar eie ouers kan vertrou nie.

Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ’n privaat speurder, om ’n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor en hou nie sy neus uit haar sake nie.

Van Zyl sê haar lesers kan moontlik ‘n vierde Storm-boek in die toekoms verwag. (Foto: Joanne Olivier.)

By die US Woordfees in Maart, gesels Irna met die mediapersoonlikheid, Ingrid Jones, terwyl Anna Davel ’n paar liedjies deel uit haar Diamonds-huldeblyk aan Shirley Bassey. Irna vertel van haar navorsing wat haar van die diamantbeurs in Antwerpen tot Port Nolloth geneem het.

Sy vertel: “Mens loop maar met ’n klomp idees in jou kop rond, totdat iets of iemand ’n vlammetjie hoër laat brand. Aanvanklik was Bloedsteen se werktitel Skattejag en die vlammetjie daarvoor het begin brand nadat ’n Uber-bestuurder my een aand vertel het hoe diamante in vrugte van Alexanderbaai en Port Nolloth na die Kaap gesmokkel word.

“Die storie het my só gefassineer dat ek begin het om storielyne daarom te ontwikkel. Met my navorsing by die Diamantmuseum in Kaapstad, het ek van rooi diamante – die skaarsste kleur diamant – gehoor. ‘Skattejag’ het teen die einde van die proses ‘Bloedsteen’ geword, toe ek besef het die titel laat dit meer soos ’n kinderspeletjie as ’n misdaadboek klink.”

Irna was ook die gesprekleier in die bekendstelling van Chris Karsten se nuwe boek en het hom die kuns afgevra van krimi-skryf. Mens wonder of sy iets by hom geleer het tydens die gesprek. Sy vertel mens leer áltyd iets by meer ervare skrywers in enige genre.

“Nie net uit onderhoude nie, maar ook uit die lees van hul boeke. Wat Chris Karsten betref, het ek oneindige respek vir die detail in sy boeke en die baie deeglike navorsing.”

Irna vertel daar is baie skrywers waarna sy opkyk.

“Daar is natuurlik die bekendes soos Chris, Deon Meyer, Rudie van Rensburg, Karin Brynard en in Engels Mike Nicol, Sally Andrews en Michèle Rowe, hoewel sy lanklaas gepubliseer het. Deon het tydens inperking daagliks wenke van ander skrywers op Twitter geplaas, baie waardevol. Sien, mens hou nooit op met leer nie!”

Speurromans as genre kan nie maklik wees nie, veral nie met die kaliber krimi-skrywers in ons land nie. Sy sê dis waar, maar om ander redes as net die mededingendheid.

“Solank jy getrou aan jouself bly, sal jy ’n unieke stem ontwikkel wat staande kan bly teen kompetisie. Krimi’s stel groot uitdagings omdat daar so baie storielyne, legkaartstukke en karakters is wat jy bymekaar moet uitbring. Jy moet regtig kophou!

“Vir my het die keuse van genre gegaan oor spanning en storie. Ek wou skryf in ’n genre wat ek ook baie geniet om te lees. Die uitdaging is natuurlik om te vernuwe en die grense bietjie te skuif soos wat al hoe meer oorsee gebeur.”

Sy vertel dat sy baie krimi’s lees, omdat sy dit geniet, maar ook om te leer en om haar te inspireer.

“Voor Bloedsteen en tydens die skryf daarvan, het ek baie gehou van Belinda Bauer en Jane Harper. Ek lees ook gereeld teoretiese werke oor die genre en oor skryf in die algemeen om my te inspireer, en het al ’n aanlyn meesterklas oor krimi’s gedoen.

“Wat TV-reekse betref, was ek mal oor die eerste én die tweede reeks van Big Little Lies. Ander gunstelinge is The Morning Show op Apple TV+ en Money Heist op Netflix.”

In haar beginjare as joernalis was die misdaad- en hofrondes natuurlik een van haar leerskole.

“Ek was twee jaar in die Worcester-kantoor van Die Burger (toe daar nog een was, járe gelede) en moes daar iets van alles doen – van vloede tot moorde tot veeveilings.

“As mens so in die veld werk en iets van alles doen, leer jy om klein dingetjies raak te sien en baie staat te maak op jou notaboek. Daardie ondervinding is vandag baie waardevol vir my skryfwerk.”

Maar haar joernalistieke opleiding met hoe jy ’n nuusstorie aanpak, verskil natuurlik hemelsbreed van ’n misdaadroman. Nuus is bondig, tersaaklik en die belangrikste eerste. Romans is baie langer, en die ontknoping kom eers aan die einde.

“Ek hou nog steeds van ’n boek wat met ’n bang begin. Nie dat jy jou storie opsom in die eerste paragraaf nie, maar nogtans.”

Sy vertel voorts: “Vir my was die moeilikste deel om die inkleding en toevoeging van tekstuur te doen. Ek skryf nog steeds taamlik gestroop en vinnig aan ’n eerste weergawe en gaan dan terug en herskryf en voeg detail by, net om daarvan weer later uit te haal. Maar meer nog, omdat ek in die laaste 20 jaar voordat ek boeke begin skryf het, meestal in ’n uitvoerende hoedanigheid in die joernalistiek betrokke was, moes ek amper weer leer skryf – en ek leer nog steeds met elke boek!”

Hoe maak sy haar boeke anders as dié wat reeds op die rak is? Sy dink diep en antwoord dan: “Dis ’n moeilike vraag. Elke boek bring sy eie uitdagings en elke boek het sy eie stemtoon. In Bloedsteen wou ek, onder meer, graag met tyd eksperimenteer, soos wat mens soms in TV-reekse sien, byvoorbeeld ’n terugflits na ‘vyf dae tevore’. Dit was om my in staat te stel om verskillende komplotlyne parallel te laat verloop, as dit sin maak.”

Boeke het nog altyd ’n integrale deel van haar lewe gespeel. Sy vertel dat as sy een boek moet uitsonder wat ’n ingrypende uitwerking op haar lewe gehad het, dit Breyten Breytenbach se gedigte en André P. Brink se ’n Oomblik in die wind was.

“Aan die einde van my eerste jaar op universiteit, het ek die voorreg gehad om saam met ’n vriendin die laaste dag van Breyten Breytenbach se hofsaak in Pretoria by te woon, waarin hy van hoogverraad aangekla is en in die daaropvolgende jaar het ek baie van sy gedigte en ook Brink s’n gelees. Al hierdie dinge, Breyten se pleidooi in die hof, sy poësie en Brink, het my aangegryp en ’n groot invloed gehad op my siening van hoe verkeerd apartheid was.”

Ná soveel jare as woordsmid, moes daar raad wees wat uitstaan, wat haar in moeilike situasies gehelp het.

“Wees net jouself. Dit het ek deur die jare geleer, soms op ’n harde manier, maar dit is ontsettend waardevol.

“Moet net nie bang wees nie.” Laasgenoemde advies kom van my suster, toe sy my op laerskool leer hokkie speel het. Ek het dit al op baie ander dinge van toepassing gemaak.”

En watter raad sal sy op haar beurt aan jong skrywers gee?

“Dit wat so baie ander skrywers sê: Lees, lees en lees. Skryf, skryf en skryf en herskryf asof jou lewe daarvan afhang. En moenie bang wees om vir hulp te vra nie.”

Irna en haar lewensmaat, Bridget, woon onderkant Leeukop naby die Duitse skool in die Kaapse middestad. Sy sê dis naby die middestad, maar tog ver genoeg om stil te wees in die aande.

“Ons braai graag of werskaf in die kombuis, speel musiek, dans in die sitkamer, kuier met familie en vriende, gesels baie.

“Ons het een ou hond met die naam Jake, wat baie swaar gekry het omdat hy nie kon gaan stap tydens inperking nie. En ’n nuwe, baie stout gemmerkat met die naam Charlie.

“Ek speel graag gholf en ons stap elke dag met Jake. Ongelukkig was dit nie in die grendeltyd moontlik nie. Dan was ’n lekker boek nog steeds vir my een van die beste maniere om te ontspan.”

Die staat van inperking se invloed was wyd en diep. Hoe het dit haar lewe of perspektief verander, wonder ek.

“Ek voel asof ek met veel minder kan klaarkom as vantevore en ek leer om klein dingetjies te waardeer: hoe anders die lig in die oggend en die aand kan val; hoe belangrik stilte is; hoe heerlik kos kan smaak as jy daarop konsentreer en dat meditasie jou leer om dinge te laat gaan.”

En wat kan lesers in die nabye toekoms verwag?

“Dalk breek ek weg van die resep. Dis nog te vroeg om te sê. Maar daar sal beslis die een of ander tyd ’n vierde Storm-boek wees,” vertel sy met ’n skalkse glimlag.

En dan wonder ek vir oulaas voor ons groet, waaroor sy droom.

“Dat my geliefdes veilig sal wees. Dat die wêreld meer verdraagsaam en empaties sal wees. En op ’n ander meer persoonlike vlak: dat die storie waaraan ek tans skryf, sal uitwerk sodat dit ’n boek kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.