Is jou ma ʼn boekwurm? Koop vir haar ʼn boek vir Moedersdag

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Van ouerskapservarings na die aftakeling wat vrou- en ma-wees op gees en lyf kerf, van ʼn hartroerende lewensverhaal na romantiese dramas – daar is leesstof vir elke ma dié Moedersdag.

Hier is vyf voorstelle vir boeke waarmee jy die ma, ouma of vrou in jou lewe kan bederf.

Meer as net ʼn ma deur Lente Swift, Suzanne Smit en Juanli Theron (NB-Uitgewers)

Die beeld wat op sosiale media van ouerskap voorgehou word, is lieflik, maar o só ver van die werklikheid af. En dan is daar die mommy wars: keiser of normaal, bors of bottel, om te sleep train of nie … Te midde van dit alles is die vrou wat eintlik net haar bes doen om ʼn goeie ma te wees en steeds liggaam en siel aan mekaar te hou.

Die stigters van Die Naguilklub het besluit genoeg is genoeg. Pleks van meeding om perfeksie het dié drie vroue in die digitale wêreld ʼn ruimte geskep waar ouerskap sonder oordeel die leuse is – ʼn plek waar ma’s mekaar kan ondersteun deur die brutale fase van slapelose nagte, snotneuse en vloermoere.

In die boek Meer as net ʼn ma: Stories en raad uit die hart van Die Naguilklub deel die stigterslede – Lente Swift, Suzanne Smit en Juanli Theron – hulle persoonlike ouerskapservarings, wysheid en raad sodat ander ma’s kan sê: Ek ook!

Lente Swift en Suzanne Smit het in Maroela Media se ateljee oor Meer as net ʼn ma en die toekoms van Die Naguilklub gesels. Luister hier na die volledige onderhoud.

  • Klik hier om die boek aan te skaf.
  • Lees Louise Viljoen se resensie hier ook Maroela Media.

Moer deur Michelle Meyer (Protea Boekhuis)

Dit is ʼn roman oor die aftakeling wat vrou- en ma-wees op gees en lyf kerf. Daar is ʼn ongewone, ontgogelde blik op swangerskap, ontdaan van blosende skoonheid, vreedsame afwagting en innige vervulling; eerder gekenmerk deur vrees, angstigheid en ongemak. Die bloedige slagveld van geboorte word ontstellend verwoord en daarna die allesoorheersende liefde vir die babas. Maar ook die onmoontlike gyselaarsituasie van ʼn ongelukkige huwelik: “Om ʼn ma te wees, is onmenslik moeilik as jou gees gevlug het uit jou lyf.” Dis ook die verhaal van die mooi vriendskap tussen ʼn ma en ʼn stiefma. Kylie en Katrin word mekaar se weemoed.

Klik hier om die boek aan te skaf.

So lyk ʼn vrou … deur Ilse Verster (Lapa Uitgewers)

Ná 40 jaar saam met ʼn narsis het Ilse Verster daarin geslaag om haarself uit dié hel op aarde te red.

Verster het haar lewensverhaal in Só lyk ʼn vrou … vasgepen en hiermee hoop sy om ander mense, spesifiek vroue, wat hulleself in soortgelyke omstandighede bevind, te help.

In ʼn onderhoud met Maroela Media vertel Verster meer oor haar heelwording, hoe om die gevaarligte van gesinsgeweld raak te sien en waarom dit belangrik is om so ʼn verhouding te beëindig. Luister hier na die volledige onderhoud.

Klik hier om die boek aan te skaf.

Stella se dogters deur Helene de Kock (Penguin Random House)

Stella Bennet van die plaas Ommekeer het drie dogters – en hulle het probleme.

Niemand sal Julia glo dat sy in haar huwelik verbaal mishandel word nie.

Niemand sal begryp dat Pauli verlief is op die verkeerde man nie. Veral aangesien sy so ʼn verstandige man aan haar sy het.

Niemand sal ooit weet hoe broos Teresa is nie. Want sy is hierdie hardekwas advokaat wat geen man nodig het nie.

Die drie dogters se lewe word verder gekompliseer deur vier manne: Frans de Wet, wat langsaan op Genotsfontein boer, Martin Joubert, die prokureur op die dorp, ʼn plaaslike dokter James Cameron, en dokter Michael de Waal, ʼn chirurg wat vanuit die buiteland terugkom om op sy tuisdorp te praktiseer.

Al drie Stella se dogters ly tot ʼn mate aan ontkenning, ontkenning van wat werklik is en van wat hulle regtig wil hê.

Maar die lewe het ʼn manier om die erkenning van waarhede af te dwing.

Klik hier om die boek aan te skaf.

Vrydagaand deur Elsa Winckler (Protea Boekhuis)

Vrydagaand, saamgestel deur Elsa Winckler, bevat 27 liefdeskortverhale deur bekende en opkomende Afrikaanse skrywers.

Laat die week en sy gewoel agter met dié stories uit die pen van Juanita Aggenbach, Bernette Bergenthuin, Henk Breytenbach, Malene Breytenbach, Alma Carstens, Alta Cloete, Leona Conradie, Trisa Hugo, Madelie Human, Jaco Jacobs, Anzil Kulsen, Kristel Loots, Cliffordene Norton, Susan Olivier, Didi Potgieter, Gerrit Rautenbach, Felicia Snyman, Cecilia Steyn, Dibi Symington, Louise van der Merwe, Santie van der Merwe, Nanette van Rooyen, Frenette van Wyk, Antoinette Venter, Louise Viljoen, Magdaleen Walters en Winckler.

Klik hier om die boek aan te skaf.

Het jy geweet? Graffiti Boeke in Pretoria lewer tans landwyd gratis af op enige bestellings wat geplaas word. Besoek Graffiti Boeke se webwerf vir die jongste fiksie-, niefiksie- en kinderboeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.