Is jy een van dié boekwurms?

Argieffoto (Foto: Matias North/Unsplash)

Boekwurms kan soms ure aaneen in die vreemdste posisies sit-lê en lees, hulle gebruik bykans enige (en dikwels die naaste) voorwerp as boekmerk of om tydelik plek te hou, en tyd is vlietend wanneer die storie ʼn hoogtepunt bereik.

Klink dit soos jy, of iemand wat jy ken? Hier is nog ʼn paar gewoontes wat boekwurms het wat nie noodwendig vir ander mense sin maak nie.

Jy is spaarsamig, behalwe wanneer dit by boeke kom

Dit is vir jou maklik om geleenthede of winskopies van die hand te wys waarvoor jy nie begroot het, of wat nie met jou finansiële doelwitte strook nie. Totdat jy verby ʼn boekwinkel of -uitverkoping stap. Dan is dit asof jou beste voornemens om spaarsamig te wees, die hasepad kies.

Jy is oorgehaal om jouself en die winkelassistent te oortuig waarom jy die boek(e) in jou hand nodig het, en jy vergeet gerieflikheidsonthalwe van die stapel boeke wat reeds by die huis wag om gelees te word.

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

Jy kan ongewoon lank oor die reuk van boeke praat

Ander mense raak meegevoer deur die reuk van kaneel, braaivleis en varsgebakte brood, maar boekwurms raak in vervoering wanneer dit by die reuk van boeke kom; hetsy jy ʼn boek in ʼn tweedehandse winkel optel en die stowwerige reuk diep inasem, en of jy aan ʼn splinternuwe boek ruik wat nog swaar na gom ruik.

Jy besef dit mag dalk vir ander mense effens vreemd lyk om jou neus in ʼn boek te steek en in te asem, maar dit is iets wat jy aanhou doen, sonder om te blik of te bloos.

Jy kan bykans enigiets doen terwyl jy lees

Boekwurms het die kuns vervolmaak om te lees terwyl hulle eet, televisie kyk, in die bad ontspan, bestuur (en na ʼn oudioboek luister), of te oefen. Noem iets op en die kans is goed dat lesers waarskynlik klaar ʼn manier gekry het om te lees terwyl hulle besig is om ʼn ander taak uit te voer.

Jy pak meer boeke in as wat jy sal kan lees

Ja, dit is nodig om twee tasse te hê: een vir jou klere en benodigdhede, en ʼn ander een vir jou boeke. Nielesers verstaan dit dalk nie, maar jy weet hoe belangrik dit is om altyd voorbereid te wees, en om voorbereid te wees beteken om altyd ʼn verskeidenheid leesstof byderhand te hê.

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Jy herlees gunstelingboeke en -tonele

Soos wat ander mense na flieks en televisiereekse kyk om te ontvlug, het boekwurms leesstof wat vir hulle troos bied. Miskien is dit ʼn gunstelingboek wat jy van begin tot einde herlees, of dalk is dit tonele uit verskillende boeke wat vir jou daardie gevoel van troos laat ervaar.

Jy koop verskillende uitgawes van dieselfde boek

Is jy ook een van daardie lesers wat dit nie kan weerstaan om verskillende uitgawes van dieselfde boek te hê nie? Jou opgewondenheid bereik ongekende vlakke – soos dié van ʼn kind in ʼn lekkergoedwinkel  – wanneer daar ʼn versamelaarsuitgawe of nuwe omslag van jou gunstelingboek uitgegee word. Jy wil dit summier aanskaf en by jou boekversameling voeg.

Bronne: Bustle, Bookstr

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

Ja-nee, ek kan identifisser. Dit was bitter moeilik om oor te gaan na Kindle, want dis net nie dieselfde nie. Die reuk, die gevoel van die blaaie, die opsie om sommer net te blaai vir die lekkerte, ek mis dit so baie.

Die voordeel is natuurlik dat ek nou baie meer boeke kan bekostig en saamdra en ek het altyd opsies orals waar ek gaan, en die kindle pas so maklik in my handsak.

Boonop is my gunsteling genres op Kindle Unlimitted, so ek neem 20 boeke op ‘n slag uit in die gerief van my sitkamer of bed! Net wanneer ek wil. Ek hoef nie te wag tot die Bib oopmaak of wanneer ek tyd het om daar aan te gaan nie.

En my gunsteling boeke koop ek nog steeds in boekformaat om weer en weer te lees. Daar’s darem niks lekkerder as wanneer daardie pakkie boeke opdaag nie…

Lillian ·

Ek verloor myself in ‘n boek!

Eks kieskeurig en kan ure lank in boek winkels rondhang. Opsoek na dit wat my belangstelling prikkel. Veral tweedehandse boek winkels waar jy iets van alles kry teen ‘n fraksie van die prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.