Isa Konrad oor spanningsverhale en Afrikaanse skryfwerk


isa-konrad-moord-op-karibib

Die skrywer Isa Konrad praat oor haar jongste boek ‘Moord op Karibib’. Foto: Maandbladzuidafrika.nl & Goodreads.com

Die spanningsverhaalskrywer Isa Konrad se sagte hand speel met vroulike intuïsie in haar jongste roman, Moord op Karibib, en dit is iets wat uiteindelik daartoe lei dat die moordenaars aan die pen kan ry.

Moord op Karibib is ’n klassieke whodunnit, so reg in die kraal van mense wat Agatha Christie se slim speletjies met leidrade geniet het. In dié boek vlug Alet, ʼn Suid-Afrikaanse toeris, van haar man nadat hy haar een keer te veel mishandel het. Alet stop op Karibib, ʼn gehuggie in Namibië wat lyk soos moedverloor se vlakte, waar sy ʼn ooggetuie van ʼn motorongeluk word. Sy word betrek by ʼn moordsaak, want die man wat sy uit die wrak help, lyk of hy eintlik vermoor is.

Konrad het aanvanklik romanzas geskryf, maar is deesdae ʼn gerekende skrywer in die genre van spanningsverhale. Haar spanningsriller, Die Soenoffer, het lesers op die puntjie van hulle stoele gehou. Sy verduidelik sy het spanningsverhale geskryf omdat sy langer in haar stories wou bly en meer karakters het met wie sy kan speel. “Ek het baie respek vir die romanza-genre. Dit leer jou dissipline as skrywer en jy het duidelike reëls waarbinne jy skryf. Dit laat jou veilig voel as skrywer, maar ek het begin stagneer – daarom het ek die geleentheid aangegryp om in ʼn ander genre te skryf toe dit aangebied is.”

Moord op Karibib was nie ʼn beplande boek nie. Konrad het die verhaal geskryf nadat ʼn ander skryfwerkprojek net nie wou vlot nie. “Ek weet nie eens watter genre dit is nie en of hierdie skryfwerk gaan werk nie, maar ek het net gevoel ek moet ʼn boek op die rak kry om myself relevant te hou.” Sy is egter nie spyt oor die skryf van Moord op Karibib nie, want dit was ʼn lekker proses.

Konrad kan inspirasie vir haar boeke uit byna alles put: “Alles kan ʼn idee wees vir ʼn boek, ʼn plek soos Karibib, ʼn belewenis, of iets wat jy in die nuus lees. Die Soenoffer het uit ʼn intellektuele inspirasie gespruit. Dan probeer ek dink of die idee ʼn storie is wat ʼn begin, middel en einde het en as een van die drie ontbreek, mors ek nie eens my tyd met die storie nie.”

Hoewel Konrad in Namibië grootgeword het, verdeel sy deesdae haar tyd tussen Solothurn in Switserland en Italië. Sy is lief vir reis, maar beskou dit nie as ʼn prestasie nie, want Switserland is sentraal geleë en dit is maklik om Europa vandaar te verken. Sy meen egter sy sal altyd in Afrikaans bly skryf: “Mense vra my baie of ek nie vervreemd voel van my taal en mense omdat ek so ver bly nie, maar ek dink dit is eerder die teenoorgestelde – juis omdat ek bewustelik in Afrikaans moet bly dink. As ek myself betrap dat ek net in Engels of Duits begin dink, sê ek vir myself ‘stop’, en dan dink ek in Afrikaans. Dit is ʼn manier om my identiteit te behou as ek so lank so ver weg woon.”

  • Luister na die volledige onderhoud met Isa Konrad boaan hierdie berig. Sy gesels met Esté Meyer Jansen van Maroela Media oor wat vir haar ʼn goeie spanningsverhaal is en verduidelik hoekom sy besluit het om spanningsverhale te skryf. Konrad verklap wie is haar gunstelingskrywers en watter vrae sy aan die skrywers sou wou vra.
  • Moord op Karibib is by toonaangewende handelaars asook direk by Lapa Uitgewers beskikbaar. Bel Lapa Uitgewers by 012 401 0700 of besoek Lapa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.