Jaco Jacobs-blog: 10 vrae aan Fanie Viljoen

galop perdestories fanie viljoenHierdie blog van Jaco Jacobs, bekroonde kinderboekskrywer, word met vergunning net so op Maroela Media gepubliseer. – Red

Deur Jaco Jacobs
Fanie Viljoen is een van die gewildste en mees bekroonde kinder- en jeugboekskrywers in Afrikaans. Hy is ook die samesteller van Galop, ’n bundel met perdestories wat pas by LAPA Uitgewers verskyn het.

1. Wat het jou die idee gegee om ’n bundel met perdeverhale saam te stel?
Ek het ’n Engelse bundel met perdestories gelees en was nie beïndruk nie. Ek het gedink ons sal beslis beter stories in Afrikaans kan skryf. Die uitgewer, Miemie du Plessis, was mal oor die idee.

2. Is jy self ’n perdeliefhebber?
Ek ry nie self perd nie – ’n perd het my eenkeer afgegooi en op my getrap toe ek en my nefie hom saam bloots probeer ry het. Ek het so te sê op die perd se boude gesit. Dit was nie slim nie. Ek het so rondgewip dat ek naderhand afgeval en onder die perd se pote beland het. My bene was vir lank baie blou en flippen seer. Naby my blyplek is daar egter perdestalle en ek gaan maak gereeld daar ’n draai om met die perde te gesels wanneer ek gaan stap.

3. Voltooi: Ek dink perde is spesiale diere, want …
… hulle is baie intuïtief – hulle kyk regdeur ’n mens. Hulle weet as jy siek is, as jy hartseer is, as jy hulle leed wil aandoen, as jy vir hulle lief is. Winston Churchill het nie verniet gesê daar is iets aan die buitekant van ’n perd wat goed is vir die binnekant van die mens nie.

4. Vertel ons ’n bietjie meer van die stories in Galop.
Daar is 13 heerlike stories in. Van ’n skynbaar befoeterde perd wat eintlik ’n sagte hart het, die verhaal van ’n spookperd, ’n spesiale perd wat ’n wens laat waar word, ’n hings wat baklei om weer die tropleier te word, ’n glansende perd, perde wat troos as ’n boetie sterf, en meer.

5. Dit is die eerste keer dat jy ’n bundel met stories soos hierdie saamstel. Was dit vir jou moeiliker as om self ’n boek te skryf?
Dit was ’n lekker ervaring, want jy werk met skrywers se rou verhale. Ek is ’n bietjie van ’n control freak, so ek moes my inhou om nie my skryfstyl op stories af te druk nie. Ek sal beslis weer so iets aanpak. (Het jy vir my ’n storie, Jaco?)

6. Hoe lyk jou skryfroetine?
Ek skryf soggens vir so twee ure lank, dan sal ek skilder, werk aan illustrasies of gaan gym of stap. Die skryftyd klink dalk min, maar die res van die dag is eintlik my dinktyd. Skrywers skryf ook as hulle dink!

7. Wat is vir jou die beste deel van skrywer wees?
Ek kan my droom uitleef. Dis ook lekker om briefies of e-posse van lesers te kry.

8. En die slegste deel?
As ’n manuskrip afgewys word … Ja, dit gebeur nog. Dan moet jy vasbyt en bereid wees om weer te probeer en kyk of jy die storie kan red, of maar moet laat gaan.

9. Jy is nie net ’n fantastiese skrywer nie, maar ook ’n baie talentvolle illustreerder wat al van jou boeke self geïllustreer het. As jy enige kunstenaar (plaaslik of internasionaal) kan kies om jou volgende boek te illustreer, wie sou dit wees?
Ek hou baie van Piet Grobler se illustrasies. Hulle is so wonderlik verbeeldingryk. Een van hulle hang in die kantoor waar ek skryf.

10. Ek is seker aspirantskrywers kom klop gereeld by jou aan vir skryfraad. Wat dink jy is die grootste fout wat beginnerskrywers maak?
Jong skrywers lees nie genoeg nie. En met lees bedoel ek eintlik ook hulle kyk nie hoe stories “werk” nie. Stories volg ’n bepaalde patroon. Dit lyk baie maklik as jy ’n boek vir ontspanning lees, maar dit is nie. As ’n boek heerlik vir jou lees, moet jy weet die skrywer het baie tyd daaraan spandeer om dit so maklik te laat lyk!

Klik hier om die e-boekweergawe van Galop te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.