Jaco Jacobs takel Dr. Seuss in Afrikaans

Jaco Jacobs (Foto: Verskaf)

Jaco Jacobs wat onlangs vier van Dr. Seuss se immergewilde kinderboeke in Afrikaans vertaal het, sê dit was een van die lekkerste projekte waaraan hy al gewerk het en dat hy onsettend trots op die eindproduk is.

“Ek was eintlik huiwerig om ja te sê,” verklap Jacobs in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Dit is boeke waarmee ek self grootgeword het, en boonop is my kinders ook net sulke groot aanhangers.

“Maar dit was ongelooflik lekker om dié stories in Afrikaans te verwerk en boonop was die vertaling daarvan ʼn heerlike uitdaging.”

Jacobs, ʼn bekroonde vertaler en outeur, se skryfloopbaan het al op skool begin toe hy aan verskeie kompetisies vir aspirantskrywers deelgeneem en sy eerste kort stories in tydskrifte verskyn het.

Sedertdien het meer as 170 boeke vir kinders en jong mense al uit sy pen verskyn, waaronder kinderverse en prente- en niefiksieboeke. Daarbenewens het hy al meer as 300 kinderboeke in Afrikaans vertaal.

Hy glo humor is een van die kernbestanddele in enige prettige kinderboek, en met sy vertalings van Dr. Seuss se stories moes hy baie tyd bestee om die gepaste rym en ritme te vind.

Jacobs het baie keer na die illustrasies gekyk en dan met woorde gespeel totdat die klank vir hom by die prent pas en ander kere het hy sommer met mense daaroor gesels.

“Dit is eintlik onsettend moeilik om die Dr. Seuss-boeke te vertaal, maar ek het dit vir myself probeer uitpluis deur die stories en moontlike rymwoorde met ander mense te bespreek of langs die swembad te sit en die woorde hardop te klap,” verduidelik Jacobs.

Theodor Seuss Geisel (1904 – 1991), oftewel Dr. Seuss, is een van die bekendste en geliefste kinderboekskrywers. Hy het ongeveer 60 kinderboeke geskryf en geïllustreer, sy boeke is reeds in 30 tale vertaal en sowat 600 miljoen eksemplare is wêreldwyd verkoop.

“Dink jy ook soms daar’s
ʼn graai in jou laai of ʼn
flerefas in jou klerekas?
Kom saam met Dr. Seuss op ʼn
onsinnige avontuur, van grakke
in sakke tot glipperjantjies
in snippermandjies!” (Uit Daar’s ʼn grak in my sak!)

Jacobs se Dr. Seuss-vertalings sluit in Daar’sʼn grak in my sak! (in Engels uitgegee as There’s a Wocket in My Pocket), Hier kom die kat (in Engels uitgegee as The Cat in the Hat), Die kat kom terug (in Engels uitgegee as The Cat in the Hat Comes Back) en O, die dinke wat jy kan dink! (in Engels uitgegee as Oh, the Thinks You Can Think!)

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R185,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

Een besondere talent wat ‘n ander groot talent aanvul! Baie geluk en goed gedoen. Dr. Seuss het ‘n boodskap vir alle kinders jonger as 120 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.