Jan van Tonder: Sy romans word óf voorgeskrewe werk óf ’n topfliek

Jan van Tonder (Foto: Brenda Veldtman)

Deur Maryke Roberts

Die verevrou is sy eerste boek in ses jaar en losweg gebaseer op die meesterpluimbereider, Luisa Pappalardo, wat haarself meer as 20 jaar gelede voor die Oudtshoorn polisiestasie doodgeskiet het. Maryke Roberts het met hom gesels.

Hy sê die voorskrywing van ’n skrywer se werk, “as dit sy enigste inkomste is, sorg vir ’n dak oor die kop, iets waaroor ek baie dankbaar is. Die feit dat my werk oor jare en selfs dekades voorgeskryf word, skryf ek toe aan die eenvoud en universaliteit van die verhale”.

Jan word op 29 Augustus 66 jaar oud. Hy en sy lewensmaat, Jenny Pieterse, woon die afgelope drie jaar in Gordonsbaai. Jenny werk by ’n reisagentskap. Hulle het “’n lieflike, opvreetbare steekbaardbrak wat klein-klein deur Grabouw se diereredders uit haglike omstandighede weggeraap is. Haar naam is Kandas, vernoem na die steltloper Candice in Die verevrou. Aanvanklik was sy selfs vir vlinders bang, maar nou, op ’n jaar en ’n half, skrik sy net vir diere en dinge groter as ’n Chihuahua. Sy vra min en gee baie! Wee die mens of ander wese wat haar kwaad aandoen.”

Die verevrou was een van boekpryswenners vir die beste verkope in die prosa-kategorie by die US Woordfees op Stellenbosch. Ons elkeen het ’n volstruisveertjie by die fees gekry. Lank ná die Woordfees is myne nog my boekmerk.

Net soos, volgens Jan, die regte verevrou, Luisa Pappalardo, hom nie wou los nie, net só wou die boek my ook nie los nie.

Dit wil my voorkom asof elke boek wat hy skryf, dieselfde uitwerking op lesers het. Roepman is nie slegs sewe jaar ná sy eerste uitgawe herdruk en vir verskeie literêre pryse benoem nie, dit is ook in ’n rolprent omskep en die negende druk het reeds in 2009 verskyn.

’n Roepman se werk by die spoorweë was om die masjinis en sy assistent te gaan roep/wakker te maak vir hul skofte. Hierdie roman speel af in ’n spoorwegkamp in Durban in die sestigs. Die verteller is die 13-jarige Timus, en saam met hom beleef ons sy inisiasie in ’n grootmenswêreld.

“Hy het ’n sterk verbeelding en sy weergawe van insidente verleen ’n magies-realistiese gevoel aan die gebeure in die roman. Die waarneming van menswees, die patos en humor wat mekaar afwissel, die ménslikheid van hierdie roman – by tye brutaal-realisties, maar ook hartverwarmend – sal geen leser onaangeraak laat nie,” beskryf die uitgewers die boek.

Jan sê: “Ek het êrens genoem dat Roepman die naaste is wat ek ooit aan ’n outobiografie sal kom, maar dat groot dele daarvan fiksie is.”

Die verevrou vertel die storie van Liora wat grootword op ’n volstruisplaas in Algerië, naby die Sahara. Sy is omring deur mense wat lief is vir haar, Maman en haar tante, oom Moshe, en haar pa – wanneer hy die slag huis toe kom. Van kleins af bring sy tyd deur in haar tante se pluimery, ‘n magiese omgewing waar volstruisvere omskep word in kostuums vir die rolprentbedryf en die verhoë van Parys.

Maar Liora loop haar telkens vas teen grense wat sy moet oor. En in Algerië broei onrus. Eers verhuis sy na die oorloggeteisterde Algiers, waar sy leer om dokter te word, maar dan word sy gedwing om inderhaas Parys toe te vlug.

Jare later kom Liora, steeds verwonderd oor die skoonheid van volstruisvere, in die Klein-Karoo aan om oom Moshe te besoek. Hier ontmoet sy vir, onder andere, Candice (ook behep met volstruisvere), ’n priester en ’n kunstenaar. Haar lewe word opnuut omgedop, en weer eens lê daar ’n grens voor haar.

Ek neem my kopie saam na Innibos op Nelspruit ’n paar maande later, om net nog meer te hoor oor Jan se reis met Luisa, wat hy in ’n boekbespreking verklap. Lindi Botha skryf die volgende dag in haar resensie: “Van Tonder skep karakters en storielyne wat jou lank bybly. Hy is ’n meesterstorieverteller, op papier asook in lewende lywe. Die verevrou trek jou in tot jy self in die karakter se skoene staan. Dit is die lang wag ná Van Tonder se vorige roman, Roepman, werd.”

Jan vertel dat hy in 1997 besig was met ’n koffietafelboek en hy wou iets insluit van die volstruisvere. Hy het gehoor van dié meesterpluimbereider van Franse afkoms, wat daar op die dorp kom woon het.

Hy het, sonder afspraak, by haar huis aangekom en gesien daar is niemand tuis nie, maar wel twee vroue wat buite gestaan en gesels het. Die een wou weet of sy hom kan help, waarop hy sê hy wil met die verevrou praat. Die ander vrou het haar kop geskud, waarna die eerste vrou antwoord dat sy nie met hom wil praat nie, want “sy is klaar met die vere”. Hy het omgedraai en gery.

Toe sy ’n paar dae later haar eie lewe neem, was dit ’n groot skok, vertel hy.

“Ek het nie besef sy is só klaar met die vere nie. Sy het by my bly spook en ek het eers ’n drama of verhoogstuk probeer; toe ’n draaiboek vir ’n rolprent, maar niks wou werk nie. Ek het Luisa se storie vir ’n tyd laat vaar, maar sy wou my nie uitlos nie. En toe ek ernstig begin skryf, was dit asof sy nie wou hê ek moet oor haar skryf nie,” vertel hy.

Baie skrywers vertel dat hul karakters as’t ware vir hulle voorsê wat om te skryf. Jan erken egter dat hy nie vir Luisa in sy kop hoor praat het nie, maar geweet het sy loer oor sy skouer.

“Sy hou nie van wat ek doen nie, maar sy wil ook nie hê ek moet ophou nie. Ek het vermoed dat as ek die boek klaarmaak, sy sou agterkom sy is dood. Ek het die boek nie spesifiek oor haar geskryf nie; ek het haar naam verander, om afstand te kry tussen my en hierdie vrou. Dit was asof ek besig was met ’n biografie en dit wou nie werk nie. My liewe Jenny het gesê ek moet die feite los en die verhaal wat in my kop is, skryf. Toe ek Luisa se persoonlike lewe uitlos, het sy my bietjie uitgelos,” vertel Jan.

Hy erken dat hy ná drie jaar se skryf, “dankbaar is om ná 21 jaar van Luisa ontslae te wees. Sy het my getreiter. Nou laat sy my met rus. Ek mis haar nie.

“Wanneer ek Sagie die dag moet groet, sal ek hartseer wees. Maar hy is deel van die Dwarsriviervallei naby Ladismith soos wat die Klein-Karoo deel van mý is. Elke keer wanneer ek daar kom, wag Sagie vir my. So sal dit altyd wees, hoop ek.”

Maar natuurlik wonder mens of hy daarvan droom dat dit ook ’n rolprent sal word. Hy glimlag. “’n Mens mag mos maar droom, of hoe? Hier praat ek namens die regisseur wat uiteindelik die regie sal waarneem.”

Hy sê nuwe boeke begin altyd met ’n idee of ’n besondere karakter, nooit ’n kwessie nie.

Die kind, byvoorbeeld, had sy wording te danke aan ’n ingewing; ’n ongetroude Zoeloe-meisie wat swanger word en haar kind nie naam gee nie, omdat sy hom nie wou hê nie. Die verevrou het gegroei uit my byna-ontmoeting met ’n Franse meesterpluimbereider.”

Jan van Tonder (Foto: Brenda Veldtman)

Jan het in Durban grootgeword. Hy het ’n graad in sielkunde en kriminologie. Hy het in 1979, toe hy as bewaarder in die Point-gevangenis in Durban begin werk het, in die tronk begin skryf. Die verhaal, Legio, wat jare later tot die roman Is Sagie verwerk is, is in 1973 aangewys as Huisgenoot se kortverhaal van die maand. Dis dan ook Is Sagie wat die grootste invloed op sy lewe gehad het.

Jan erken: “Hy het my gered van raserny toe ek op ’n tronkmuur diens gedoen het. Sy onskuld het my skans geword, want myne het ek veels te jonk verloor.”

Naas tronkbewaarder was hy ook al kaartjieondersoeker, stoker, restaurantbestuurder, opleidingsbeampte, joernalis, skilder en skrywer. Hy is benoem vir ’n Artes-prys vir radioverslaggewing.

Uit sy pen het verskyn: Wit vis, Aandenking vir ’n vry man, Is Sagie, Die kind, Roepman, Is weer sagie, Anderkant omdraai (’n bundel rubrieke wat in Rapport verskyn het) en die koffietafelboek, The Little Karoo = Die Klein Karoo waarvan Lanz von Hörsten die fotografie behartig het. Hy skryf ook twee radiodramas, Die swakkeling en Die ware Jakob en twee verhoogstukke, Lewensreg en Die onbeholpe djin.

Hy het die ATKV-prosaprys en FAK-prosaprys vir Die kind ontvang en ook die Sanlam-teaterprys vir die toneelstuk, Lewensreg. Dié stuk is by die KKNK, Volksblad- en Aardklop-kunstefees opgevoer. In 2005 was Roepman op die kortlys van die WA Hofmeyr- en M-Net-prys.

’n Kortverhaal van hom, Dube weet, is ook in die bundel A Land Apart (Suid-Afrikaanse kortverhale wat deur André P. Brink en J.M. Coetzee saamgestel is), opgeneem.

Die eerste Sagie-roman, Is Sagie, het in 1987 onder groot lof verskyn en is in die daaropvolgende twee jaar as naaswenner van die ATKV-prosaprys aangewys. Ná 25 jaar (in 2013) verskyn die opvolgroman, Is weer Sagie. Madri Victor skryf op LitNet: “Jan van Tonder bewys met hierdie roman weer eens sy fyn aanvoel vir die buitestander, die onskuldige individu, en skep genuanseerde karakters wat deernis by die leser wek.”

Hy is tans besig met die derde en laaste aflewering van Sagie se storie. “Ek werk al ’n klompie jare aan en af aan die laaste boek in die Sagie-trilogie. Ek het die tweede een geskryf omdat ek lank deur baie lesers die verwytende vraag gevra is: ‘Hoe kon jy Sagie só los?’ En toe Is weer Sagie eindig met nuwe moontlikhede, het ek besluit om vir hom afsluiting te bied. Hopelik kry ek dit reg om die storie só te skryf dat my uitgewer nie anders kan nie as om dit te publiseer. As ’n omnibus dalk? Of droom ek nou oumansdrome?”

En wat hou 2020 vir hom in?

“Op die oomblik is daar drie manuskripte op my rekenaar in wording. Sodra ek en Nélleke de Jager, my huidige bekwame uitgewer, kan ooreenkom watter kandidaat voorrang moet kry, sal ek my op daardie een toespits,” vertel hy toe ons groet.

Nog vrae aan Jan:

Jan van Tonder en sy hond (Foto: Brenda Veldtman)

Wat is jou grootste swakpunt?
Aandag-afleibaarheid.

Hoe ontspan jy?
Ek staar voor my uit tot ek verlei word om op ’n ander plek voor my te gaan sit en uitstaar.

Hoe hanteer jy kritiek of bitsige resensies?
Wanneer daar kritiek oor my boeke uitgespreek word, is dit (in verreweg die meeste gevalle) gegrond op vakkennis, insig en ’n liefde vir stories. Daar was wel baie jare gelede twee bitsige resensies van my werk: die een gegrond en die ander skaamteloos ongegrond.

Waaroor het jy spyt in jou lewe?
Oor baie dinge, maar as ek een moet uitsonder: Dat my ma dood is voor sy ’n enkele storie van my gelees het.

Hoe moeilik of maklik is dit vir jou om oor goed te skryf wat jy nie self beleef het of plekke wat jy nie self besoek het nie?
Solank daar Google is, sal ek regkom. Maar moenie biblioteke en museums vergeet nie.

Het die sukses van Die kind jou onverhoeds betrap?
Dit het. Toe dr. Frits Kok my op 1 April 1989 bel om te sê ek het die ATKV Prosaprys vir Die kind gewen, het ek eers gedag dis een van dáárdie poetse. Ek het in sy oor geskreeu: “Frits, Fritsie!”, te opgewonde om aan iets anders te dink óf om my oor my familiariteit te skaam.

Roepman word toe ’n rolprent – was jy daarby betrokke?
Die rolprentvervaardiger, Piet de Jager, het my en sy seun Sallas en ’n Nederlandse rolprentmaker, Walter Stokman, ’n week lank in sy huis bymekaargebring om die storie te bespreek. Daarna is ek terug Oudtshoorn toe, waar ek die eerste weergawe van die draaiboek geskryf het. Die akteur en regisseur, wyle Paul Eilers, het die verfilming meesterlik hanteer en ek het ook die voorreg gehad om ’n week lank op stel te wees.

Hoe voel dit om jou boek op die silwerdoek te sien?
Dis ’n onbeskryflike gevoel. Ek en Jenny het die rolprent verskeie kere in teaters gaan kyk, en om daar in die donker te sit en die gehoor wat nie weet dit is “my” rolprent nie, se reaksie daarop waar te neem, was telkens opnuut ’n droom wat waar geword het.

Neem die beelde iets weg van jou woorde?
Nee, want prosa en rolprent verskil soveel van mekaar dat die een nie by die ander kan steel nie. Daar is altyd dinge wat die een kan doen wat die ander nie kan nie. Rolprente is visueel; as jy jou rug op die skerm draai en steeds die storie kan volg, is dit nie ’n rolprent nie. Sela. En as prosa nie prente in jou kop skep nie, misluk dit. Amen.

Jou woordgebruik is indrukwekkend – jy wy ’n hele bladsy aan ’n beskrywing. Waar het jy dit geleer of raakgelees en besluit om dit jou eie te maak?
As ’n reël glo ek dat minder meer is. Onderspeling. My broer, Andries, was ’n storieverteller. By hom het ek veel geleer. Langs die pad kom ’n mens ander woordmense teë: uitgewers, redakteurs, teksversorgers … by elkeen leer jy iets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae