Jeugboeke blaas lewe in oorlogsgeskiedenis

Die standbeeld van ‘n man op ‘n perd wat sy vrou en baba groet by die Oorlogmuseum. (Foto verskaf)

“Jaco, kom kyk hier!” Jake sug en rol sy oë toe sy ma hom roep. Sy ouers staan voor ʼn standbeeld van ʼn man op ʼn perd wat sy vrou en baba groet. “Dit is so hartseer,” hoor hy sy ma sê. Sy ma roep weer na hom. “Jaco! Kom hier!”

Só begin die jeugboek oor die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 wat die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein onlangs bekendgestel het. Dit is die eerste in ʼn reeks van vyf boeke wat die oorlog deur die oë van verskillende kinderkarakters vertel, en wat die waarde van museums aan kinders verduidelik.

In die boek sê Jake se pa vir sy verveelde seun: “Museums is nie simpel nie; museums vertel wonderlike stories. Daar het baie dinge gebeur voor jy gebore is. Wil jy nie graag meer daarvan leer nie? In hierdie museum kan ʼn mens sien hoe die oorlog kinders geraak het”.

Toe Jake alleen na die Kindermonument op die terrein drentel, val hy skielik terug in tyd. En dis waar die avontuur begin…

Geskiedenisstories vir ʼn nuwe generasie

Die Anglo-Boereoorlog het ʼn groot impak op die lewens van alle Suid-Afrikaners gehad. Talle boeke is hieroor geskryf, maar daar was nog nooit ʼn publikasie wat die oorlog en sy verloop op ʼn kindervriendelike vlak vertel nie, verduidelik Dané Swanepoel, publikasiebeampte by die Oorlogsmuseum.

“Die Museum poog om dié leemte te vul met die nuwe Verlepte Blomme-boekereeks, wat die verloop van die oorlog deur die oë van kinders en hul ervaringe vertel. Die stories speel in die hede én die verlede af en hoewel dit fiktief is, is dit histories korrek. Dit is ook die eerste kinderliteratuur oor die oorlog wat in Afrikaans, Sesotho en Engels beskikbaar is.”

Die eerste boek in die reeks is getiteld ʼn Blomblaar tuimel deur tyd. Die lesers ontmoet vir Jake, wat saam met sy ouers die Oorlogsmuseum in Bloemfontein besoek en tot sy verbasing terug in tyd beweeg. Toe hy weer tot verhaal kom besef hy baie gou dat hy nie meer in die hedendaagse tyd is nie, maar in die tyd van die oorlog. Jake word saam met ʼn vreemde familie na ʼn konsentrasiekamp geneem waar hulle saam die swaarkry en angs van die kampe beleef. Jake raak bewus daarvan dat hy hier geskiedenis eerstehands ervaar, en hoe moeilik die omstandighede in die kampe vir die kinders was. Dit gee hom ʼn nuutgevonde waardering vir sy familie.

Die Oorlogmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein. (Foto verskaf)

Ná sy avonture in die kamp keer Jake wel terug na die hedendaagse tyd, net om ʼn baie groot verrassing te kry toe sy Pa hom van sy familie se geskiedenis vertel.

Swanepoel hoop dat die boeke ook gesprekke oor die geskiedenis binne families – en oor die familie se eie geskiedenis – sal aanwakker. Sy is self ʼn ma en het hierdie boekreeks vanuit ʼn ma se perspektief aangepak. “Oorlog is ʼn moeilike konsep om vir kinders te verduidelik, ʼn mens wil nie vir hulle al die wrede detail vertel nie. My groot droom vir hierdie boekreeks is dat dit gesprekke aan die gang sit binne gesinne en families. Dat oumas en oupas dit vir hulle kleinkinders sal lees en sommer ook bylas uit hul eie geheue en ervaring.”

In die tweede boek van die reeks, wat volgende jaar gepubliseer word, volg ons die avonture van Willem en Charlie en hul ervaringe as jong seuns in die konsentrasiekamp, waar hulle alles in hul vermoë doen om die vroue in die kampe te help deur middel van waaghalsige en brawe dade. Boek drie sal handel oor Lydia en Martha in die konsentrasiekampe en boek vier oor Daniel en Simon en hul ervaringe op kommando en as krygsgevangenes. In die laaste boek ontmoet Jake vir Kedibone en saam het hulle ʼn avontuur wat geheime leidrade en ʼn vergete skat insluit.

Museums is ʼn moet

Die voorblad van die jeugboek. (Foto verskaf)

Hierdie nuwe jeugboekreeks is nie net daar om die kennis van die oorlog op ʼn kindervriendelike vlak te vertel en om lees onder die jeug te bevorder nie, maar ook om kinders bewus te maak van die waarde van museums, aangesien die jeug die museumbesoekers van die toekoms is.

Met Internasionale Museumdag wat op 18 Mei gevier word, is dit belangrik om weer te onthou dat museums ʼn belangrike opvoedingsrol in gemeenskappe speel. As museums nie dinge uit die verlede bewaar nie, sal dit verlore gaan.

“Ons het byvoorbeeld ʼn ou skroefie op uitstalling hier in die Oorlogsmuseum. Dit is in 1934 aan ons geskenk, drie jaar nadat die museum geopen is. Die skroefie was die enigste speelding wat ʼn klein driejarige seuntjie gehad het om mee te speel in Bloemfontein se konsentrasiekamp. Op sy sterfbed het hy die skroefie vir sy ma gegee om dit ná die oorlog aan sy pa, wat op kommando was, te gee.  Hierdie skroefie en sy storie is kosbaar en sou verlore gewees het sonder die museum,” verduidelik Swanepoel.

As werknemer by die museum besef Swanepoel ook haar eie groot verantwoordelikheid – sy is die stem van daardie meer as 50 000 swart en wit vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het. Sy mag nie agteroorsit en hul stemme laat stil word nie. Daarom dat sy haar hart en siel in haar werk stort, mense aanmoedig om die museum te besoek en ook self moeite doen om ons erfenis aan ons kinders oor te dra.

“Museums gee vir ʼn mens waardering vir ander mense se ervarings, dit wys vir jou hoe Suid-Afrika gevorm is, hoe ons gekom het waar ons vandag is. Dit gee jou verskillende perspektiewe op die verlede en op die mense wat deel was van daardie verlede. So doen die moeite en besoek ʼn museum – jy sal verryk daar wegstap.”

Die jeugboeke is in drie tale beskikbaar. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

trotsNAMSA ·

Die artikel het my Afrikaner hart laat warm klop. Nou kan die jeug hulle geskiedenis beter verstaan. Dankie e voorspoed met die boeke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.