Johan Badenhorst van ‘Voetspore’: ‘Hoe verder jy gaan, hoe meer wil jy reis’

Johan Badenhorst (Foto: Voetspore/Facebook)

ʼn Mens sou kon dink dat Johan Badenhorst se soeke na avontuur al ʼn versadigingspunt bereik het. Hy is immers die man wat meer as 250 000 km afgelê en sowat 40 Afrikalande besoek het. Allermins!

Dié avonturier wat in 2000 sy eerste Voetspore-reis onderneem het, het tydens ʼn onderhoud in Maroela Media se ateljee vertel dat hy steeds opgewonde is om plekke te ontdek en nuwe mense te ontmoet.

“Die reislus word doodeenvoudig gevoed deur nuwe avonture wat bykom. Hoe verder jy gaan, hoe meer wil jy reis,” meen Badenhorst.

Nie eers die Covid-19-pandemie kon sy reisplanne kortwiek nie. Inteendeel, hy het sy kaart nadergetrek en bloot ʼn nuwe rigting saam met die Voetspore-span ingeslaan.

Badenhorst en sy vrou het enkele dae voordat die nasionale staat van afsondering in Maart aangekondig is, die beplanningsreis van die TV-reeks Voetspore se Russiese toer voltooi. Dié reeks sou van Junie tot Augustus verfilm word, maar kon weens die wêreldpandemie nie voortgaan nie.

Een reis is dalk kortgeknip, maar dít het die weg gebaan vir ʼn tweede reeks van Voetspore in Suid-Afrika. Badenhorst het vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê dat hulle van Pafuri, in die noordelike deel van die Krugerwildtuin, na die mees suidelike punt van Afrika gereis het. Die reeks word na verwagting in Januarie 2021 op SABC2 uitgesaai.

Waar ander reisigers sleepvoet hul paspoorte en kaarte moes wegpak, het Badenhorst en sy span geduldig nuwe reisplanne beraam. Oor die vraag of hy van nature geduldig is, spot Badenhorst en sê dat ʼn mens dit eerder vir sy vrou en kinders moet vra en voeg dan by: “Nee, ek dink nie ek is van nature geduldig nie, maar dit is ʼn ding wat ek baie beslis aangeleer het.”

Johan Badenhorst vertel dat hy op dié dag by Doodsakker gedink het hulle gaan nie oorleef nie (Foto: Voetspore/Facebook)

Badenhorst meen sy reise deur Afrika en lesse wat hy destyds by Pieter Pieterse geleer het, het hom gehelp om dié vaardigheid sy eie te maak.

“Afrika het my baie meer geduldig gemaak. Ek het agtergekom dat ʼn mens soveel verder kom deur nou en dan ʼn tree terug te staan.”

Pieterse was in ʼn groot mate die dryfveer agter Badenhorst se Voetspore-reekse. Badenhorst het in sy vroeë dertigs regie vir Pieterse se reekse gedoen en boonop ʼn hele paar reislesse geleer.

“Pieter het na sy eerste reeks, Swerwerskos, gesê hy sal nooit weer so iets doen nie. Die formaat en wyse waarop die reeks geskiet is, het geweldige eise aan hom gestel. Hy moes partykeer tien minute lank ʼn storie vertel en wanneer hy ʼn fout gemaak het, moes die hele vertelling van voor af opgeneem word,” vertel Badenhorst.

Hy het toe vir Pieterse oortuig om nog ʼn reeks te doen. “Ek het aan hom verduidelik dat daar ander maniere en tegnieke is om die program aanmekaar te sit. Hy het ingestem en ons het Boude en blaaie gemaak.”

Terwyl hulle die reeks verfilm het, het Badenhorst Pieterse verder uitgedaag.

“Dit help veel hy vertel net die stories. Ek wou hê Pieter moes ons gaan wys,” sê hy. En dit is waar Kaap tot Kunene ontstaan het.

Badenhorst het onder meer by Pieterse geleer om geduldig te wees wanneer jy reis.

“Toe ons destyds met Voetspore begin het, het ons miskien dinge ʼn bietjie gejaag en gekyk hoeveel ons in een episode kan pas,” vertel hy. Hy onthou nog die eerste keer toe hulle in die Sederberge was en ʼn vyf uur lange staptog na die Maltese kruis moes aandurf. “Ons het uitgewerk hoeveel ander plekke ons kan inpas eerder as om die roete te stap.”

Badenhorst en sy span het vanjaar wel dié staproete aangepak.

“Die hele staptog daarheen en dit wat jy kry as jy daar aankom, asook die staptog terug en jou persoonlike belewenis of dit wat jy met ander kan deel, is soveel meer werd as om doodeenvoudig net verby iets te kan ry,” verklap Badenhorst.

Die Voetspore-span se voertuie (Foto: Voetspore/Facebook)

“Ek dink die soeke na avontuur en die geduld wat daarmee saamgaan om dit te kan ontdek, is waarskynlik die belangrikste les wat ek by Pieter sou kon geleer het.”

Buiten vir hope geduld, avontuurlustigheid en ʼn goeie sin vir humor, benodig enige 4×4-reisiger natuurlik ʼn betroubare voertuig.

Badenhorst en sy span het hul eerste reis met Landrover Defenders aangepak. ʼn Voertuig wat na Badenhorst se mening die gepaste prentjie vir hul reise geskets het.

“Ek het geweet as jy die Landrover Defender onder ʼn kameeldoringboom of op  ʼn duin parkeer en jy sien die prentjie sê dit onmiddellik vir jou ‘Hier is avontuur in die lug’.”

Intussen het hulle ook met ander voertuie, wat Toyota, Nissan en Amarok insluit, gery. Maar as Badenhorst één moet uitsonder sal dit ʼn Toyota Cruiser wees.

“Kyk, dit is beslis nie die gerieflikste of mees ekonomiese voertuig nie, maar jy kan die televisie dophou om byvoorbeeld te sien waarmee mense in die midde Ooste oorlog maak of met watter voertuie die dokters in Afrika ry. Nie met gepantserde tenks nie.”

Avonturiers kan nou saam reis danksy die Voetspore in Suid-Afrika: ʼn Reisgids wat onlangs deur Protea Boeke uitgegee is.

Badenhorst verduidelik dat die boek in samewerking met Tracks4Africa saamgestel is en hy benadruk dat dit slegs inligting oor hul 13 weke reis bevat. Dit word dus nie as ʼn omvattende reisgids vir Suid-Afrika beskou nie.

Hy maan ook dat die paklys agter in die boek slegs ʼn riglyn vir reisigers bied.

“Daar is ʼn baie belangrike wenk rondom die paklys en dit is dat jy jou lys moet aanpas die dag wanneer jy terug huis toe ry,” sê Badenhorst. Hy en sy vrou het dit oor die jare op die manier hul eie lys ontwikkel en aangepas.

Sy raad aan reisigers is om die lys by te werk voordat jy by die huis stop. “Gaan deur elke item en kyk wat jy nodig gehad het. Bepaal ook wat onnodig was en wat jy gekort het. Skryf dan by wat volgende keer moet saamgaan.”

Badenhorst het die afgelope 20 jaar al meer as 250 000 kilometer afgelê en sowat 40 Afrikalande besoek. Hoewel die paklys verander om by die bestemming te pas, is daar tog iets wat hy uitsonder:

“Die belangrikste om saam te neem is geduld, ʼn sin vir humor en die soeke na avontuur.”

  • Johan Badenhorst het onlangs ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak om meer te vertel oor die Voetspore-reisgids. Hy gesels ook oor Afrikaanse plekname, voertuie waarmee hy al gereis het en die dag toe hy gedink het hy gaan nie oorleef nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Trotse Boervrou

Johan, ons het aan jul lippe gehang! Dankie dat ons al die jare kon saam toer. Ons het elke oomblik geniet. Selfs jaloers gewees op ‘n stadium! Uitstekende program aangebied deur uitstekende mense. Weereens dankie, julle het voetspore in ons lewens ook gelaat. Doen asseblief so voort.

Pieter

Een van die beste ooit. Ek en my gesin sal wat gee vir so n lewe.

Pieter

Johan, gee Van die Kaap tot die Kunene met Pieter, Jenny en Vleislus uit op DVD!!!

Jacobus

Topklas. By verre. Dankie Johan, in vergelyking met ander drek waaraan ons bloodgestel word is daar geen kompetisie.

annie

Miskien kon minder toue en toue voertuie en akteurs op walkie-talkies getoon gewees het en meer van die lande en gebiede wat meestal maar so terloops in die agtergrond pryk. Dit was reisprogramme of nie?